Kremetartboom
Adansonia digitata
8 Januarie 2026
die laaste kremetart in Kinshasa
se dae is blykbaar getel
al is dit nog maar
’n skamele eeu of wat oud
die siel van die stad
geplant as gedenkteken
nadat Stanley vanaf 1881
’n handelspos gestig het
om gebied en mag te verseker
’n veerboothawe opgerig het
om die rivier te tem
paaie en treinspore aangelê het
om die stroomversnellings en water-
valle te ontduik
alles in opdrag van ’n koning
wat nog nooit hier ’n voet
aan wal gesit het nie
maar alles sélf wou besit
dis die geskiedenis van
’n gehuggie
wat ’n stad geword het
en mettertyd ’n megastad
wat uit sy nate bars
totdat daar net één kremetart
oorbly
maar ons hoef ons geen
sorge hieroor te maak nie!
sê die gladdebek-ontwikkelaars
oorgenoeg kremetarte hier rond!
dus kan ons gerus maar dié enetjie vel
omdat ons ’n sentrum wil oprig
vir óns mense!
die boom is in ons almal se pad
dit sal tog eendag net
die gees gee en ineenplof
maar – let wel –
ons gaan ons sentrum
“Baobab” noem!
met ’n paar kunskremetartjies
ter wille van die atmosfeer!
daar was tog immers
al die voorbeeld
van ’n prinsie
wat elke oggend
die opslaggoed
uitgetrek het
om te keer
dat hul wortels
sy pieperige planeet
kloof
© Ronel de Goede, 2026

Dankie, Joan
Dankie, Bernard
Ek waardeer jul kommentaar.
Groete
Ronel
Lekker om weer so ‘n knap gedig van jou te lese te kry, Ronel.
‘n Komplekse gedig. Gelaai met subtekste (Die kremetartekspedisie, o.a.) en die hele debat oor postkolonialisme.
Aangrypend en ‘n sterk vers!