Water en vroue
hoekom is die digters tog so
behep met water en vroue?
ʼn glimlag soos koel water oor ʼn klip
ʼn laaste kuil van stilte tussen riet
kyk, jy’s allesbehalwe water
jy’s lyf en bloed en warmte en asem
jou rug waaroor ek stadig streel
die sagte warmte van jou mond
jy wat na jou asem snak
hulle bly seker terugverlang na die nat
donker warmte van die baarmoeder
naby die sussende hartklop
waarteen jy later begin skop
die noute waaruit jy moet ontsnap
huilend en swak en later sit-sit en kruip-kruip
op krommerige bene wankelrig aanstap
en later vol selfvertroue uithardloop in die wind
losgesny van die naelstring wat jou aan haar bind
dalk bly hulle die see in vroue sien, ongedurig
aan die beweeg, elke dag anders, kalm en blou
en dan weer grys, vol wit maanhaar opgejaag deur die wind
kil bries en klam soutreuk wat deur hulle neuse sliert
jy is die geur van water en klip,
ryk mos, souterig en vrugbaar
dit ruik na nuwe lewe
© Hein Viljoen, 2026

‘n Treffende vlerksleepgedig – al moet hy nou aan die nat kant wees!