Lied van die kinderbruide
By Lina Spies en Czesław Miłosz
I know the truth – give up all other truths!
Marina Tsvetayeva
Ons sal nie vlug nie – hoe sal ons tog kán?
Verkoop soos groen granate op die plein –
op dertien al die prooi van ou, suur mans:
geluk en lag verdof tot spatsels bruin.
Van sagte kaftan en hidjab gestroop
sny pyn nes vuur die vlesige klein skulp
met bleek geweld vir troebel lyding oop:
ʼn strak sisteem wat onskuld kil verpulp.
Maar julle wat so dierlik roof en moor,
wat hyg en hoon en lag by jul geweld,
wat kinders hulle kindwees laat verloor,
wat slu die wette uit die hel laat geld:
dié woorde van die digter is geskryf
vir hulle wat die guillotines bedryf.
© Jannie Pretorius, 2026
