Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 May 202627 May 2026

Resensie: “tussen asem” (Hannes Visser)

 

 

Resensie: Tussen asem deur Hannes Visser. Naledi, 2026.

Resensent: Marlies Taljard

 

Hannes Visser se tweede bundel, tussen asem, het pas by Naledi verskyn. Dit is ’n dun bundel (45 gedigte), smaakvol uitgegee met ’n omslagontwerp deur die kunstenaar Lourens Oosthuizen. Ek onthou Lourens Oosthuizen as ’n vrolike, aantreklike matrikulant in die vroeë 1970’s, voorsitter van die skool se debatsvereniging, iemand wat destyds al belofte getoon het as kunstenaar, ‘n jongman wat onder andere in sy matriekjaar die decor geverf het vir die skooloperette en die omslagontwerp gemaak het vir die jaarblad. Dit maar terloops. Ek loop hom weer in hierdie bundel raak na soveel jare en word getref deur die bundelmotto wat ook aan hom toegedig word: “Die begin van my heel eerste asem was onafwendbaar die begin van my heel laaste asem.” Hierdie motto vorm skering en inslag van die tersaaklike bundel en die figuur Lourens Oosthuizen duik telkens in die bundel op as “L” of as “Lourens”, maar waarskynlik ook in gedigte waar nie direk na hom as persoon verwys word nie.

Die digter struktureer die bundel in drie bundelafdelings, “Eerste asem”, “Asemhaal” en “Laaste asem”. Afdelingsmotto’s, geskoei op die bekende Prediker 3:1-11, begin telkens met die strofe

 

daar staan geskryf

elke ding het

’n bepaalde tyd

 

As geheel sou mens die bundel kon beskryf as ’n klein meditasie oor lewe en dood. Gedigte is deur die bank minimalisties, selfs gestroop en streng afgewerk. Die digter maak meestal van klassieke digvorme gebruik wat uit koeplette, tersines of kwatryne bestaan.

Die eerste afdeling begin met dié motto, ’n variant op die eerste verse van Prediker 3:

 

daar staan geskryf

elke ding het

’n bepaalde tyd

 

’n tyd om gebore te word

’n tyd om op te staan

’n tyd om weer te begin

 

tyd vir die eerste asem

(p.7)

 

Daarna die openingsgedig “Nuwe lewe” waarvan die slotstrofe soos volg lui:

 

dit het soveel ure gevoel maar toe jy jou eerste skree gee

het die wind gedweë gaan lê en op die vensterruit het

twee songeel skoenlappers vir jou hul vlerke geklap

(p. 9)

 

Van die spesifieke geval van die geboorte van ’n kleinkind word dan aanbeweeg na ander beginne, soos die begin van ’n huwelik (p. 13) en die bisare begin van ’n vriendskap in “Eerste kennis (p. 15):

 

my eerste ontmoeting met L

was vroegaand in ’n polisiesel

die dominee het gebel

die pa van die nuwe kind in jou skool

is opgesluit – sy vrou geslaan

(…)

 

Tot die “Geboorte van Meiringspoort” (p. 14) en die “geboorte” van seksualiteit (pp. 16-17):

 

ek was tien, en een heilige dag raak Koekie bewus van agt

oë in die takke van die boom van kennis van goed en kwaad

 

In die tweede afdeling, “Asemhaal” word asemnood ondersoek in enkele gedigte oor die Covid-pandemie, oor mense wat, soos dié vrou “anderkant die venster uitgewoed met toe oë en / pype gekoppel aan asem op die bed lê en wag” (p. 25).

Die verse “Vir Piet Visser (1925 – 1967)” (p. 26), “Besoek aan Pa” (p. 27), “Curriestraat” (p. 28) en “Nommer 53” sluit by Visser se eerste bundel, die jaar toe pa … (2019) aan deur herinneringe aan sy pa en die oproep van die ruimte van sy kindertyd. Ook ander gedigte in die afdeling handel oor dié tema, soos “Brief” (p. 41) en “Ontvlugting” (p. 37):

 

ek maak my oë toe en gaan terug

na ’n voorstedelike agtererf waar

’n seuntjie om en om kring met

een arm wyd soos ’n eenvlerkvoël

en in die ander hand hoog na bo

sweef ’n vliegtuig in sierlike vlug

uit papier deur sy pa vir hom gevou

 

Die laaste afdeling word gewy aan

 

’n tyd om te verloor

’n tyd om stil te raak

’n tyd om te groet

 

tyd vir die laaste asem

(p. 43)

 

Afskeid in sy uiteenlopende gedaantes is die tema van al die gedigte: afskeid van ’n geliefde wat sy/haar woorde en onthoue verloor, rou oor verlies van vriende en ’n geliefde dier, verlies van besittings en die dood van geliefdes, asook die verbeelding van die eie afsterwe. Lykdigte vir die digter se ouers, asook vir vriende Gisela Ullyatt, Egbert Gerryts en Lourens Oosthuizen sluit die bundel af. In die slotgedig, “Non, je ne regrette rien”, staan die bundelmotto:

 

ek het geen spyt of verwyt oor een enkele besluit

elkeen is geneem in sy eie ruimte en op sy eie tyd

’n vriend het op ’n keer gesê ons heel eerste asem

is die begin van ons heel laaste met ’n reis tussenin

 

Hierdie bundel staan as bewys dat die gesegde “minder is meer” inderdaad op die poësie toepassing kan vind. Hannes Visser se bundel is klein in omvang, maar wat beplanning, afwerking, fokus en rubrisering betref, uitstaande. Gedigte beïndruk deur hulle eenvoud, bevredigende ritme en metrum, binne- en soms eindrym en onderliggende logiese verloop. Stilte, op die emosionele vlak én semanties verwoord is die oorheersende stemming van die bundel. Ek dink aan ’n gedig soos die volgende:

 

Rusplek

 

oor die stilste plek

van jou laaste winterrus

staan sipresse wag

(p. 46)

 

In ’n tyd waarin “meer is meer” as oordrewe (self)bemarkingsfoefies en dik dog dikwels niksseggende bundels die norm blyk te wees, het tussen asem my beïndruk deur die digter se minimalistiese aanslag wat egter nie eerlikheid, opregtheid en wysheid – en veral mededoë met die mens en die medemens – uitsluit nie.

 

Twee is een

 

die Khoisan se woord vir een is / Gui

maar hulle sê alleen kan mens nie

/ Gui wees nie daar moet nog een wees

wat jou sien en jou bestaan sal beaam

 

so ook moet die aanloop tot die dood wees

nie alleen nie maar as / Gui, met nog iemand

wat jou weggaan beaam soos my vriend L

met sy dogter langs sy bed in sy woonstel

(p. 63)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: “Spienekelientjies” (Antjie Krog, Samest.)
Resensie: “Twee Overzijden” (Yves T’Sjoen) →

1e kommentaar op “Resensie: “tussen asem” (Hannes Visser)”

  1. hannes visser says:
    28 May 2026 at 17:51

    Baie dankie Marlies. Groot waardering.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)
  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d