
Resensie: Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies, saamgestel deur Antjie Krog. LAPA, 2026.
Resensent: Marlies Taljard
Spienekelientjies is ʼn heerlike kinderboek vol klinkende ryme. Volgens die agterblad is dit “ʼn bundel wat sorgvuldig saamgestel is om jong kinders bloot te stel aan die musiek van taal en die geskenk van ʼn verdiepte woordeskat”.
Die omslagontwerp gee die toonaard van die boek aan: speels, kleurvol, interessant en humoristies. Daarby is elke gedig kleurvol en kreatief geïllustreer. Dit is die ideale geskenk vir elke jong kind of mamma, geskik om self te lees of om gereeld voorgelees te word. Glo my, kinders wil die gedigte méérmale hoor en méémaak! Dis ʼn boek wat deur klein handjies hanteer sal word en binnekort karakter sal hê. Antjie Krog het met dié versameling verse ʼn goudaar raakgeboor – ek soek al lankal na nét so ʼn boek en het self heerlik gelees aan gedigte (resitasies!) wat ons as skoolkinders uit die kop geleer het. Baie van die ou gewilde Engelse gedigte het sy in Afrikaans vertaal en dit werk beslis net so goed in Afrikaans as in Engels.
Vir ouers en onderwysers is die Voorwoord deur die Samesteller besonder nuttig. Hierin sit Krog die doelwit van haar projek uiteen, “naamlik om deur middel van taalritme en fantasie die binne- en intellektuele wêrelde van kinders te ontsluit” (p. 4). Sy verskaf sewe redes waarom jong kinders daagliks in aanraking behoort te kom met kinderryme. Sulke rympies help onder andere die kind se taalaanvoeling, skep passiewe woordeskat, ontsluit nuwe woordbetekenisse, bring disparate woorde op kreatiewe wyse bymekaar, maak die kind bewus van die krag van klank en “bind die kind aan die ware ritmes van die aarde” (p. 5). Statistiek toon aan dat die gemiddelde laerskoolkind in 1945 ʼn woordeskat van 10 000 woorde gehad het, terwyl dit vandag 2 500 is. Gereelde blootstelling aan voorgelese stof, wat ryme insluit, kan kinders se woordeskat uitbrei.
Die boek is gestruktureer aan die hand van vyf afdelings: “Trippe trappe trone”, “S staan vir superslim”, “Spienekelientjies”, “Ons eie” en “Help my” en bevat ou en nuwe verse van Antjie Krog en ander Afrikaanse digters, asook vertalings uit Duits en Engels deur die Samesteller.
In die eerste afdeling van die boek tref ons ou bekende en klassieke gediggies aan. Uit die Engels byvoorbeeld “Humpty Dumpty” as “Oompie Kedoompie”, “This little pig went to market” as “Vyf tone” en “Little miss Muffet” as “Klein Griet van der Poel”. Uit my laerskooldae onthou ek “Daar’s ʼn apie op ʼn stokkie”, “Daar kom ou Jan Balie om die draai”, “Wippie en Snippie loer uit by ʼn gaatjie” en Tienie Holloway se klassieke “Bobbejaan Bobbejaan”:
Bobbejaan Bobbejaan
“Bobbejaan, Bobbejaan,
waar kom jy vandaan?”
“Bo uit die berge,
onder die maan.”
“Bobbejaan, bobbejaan,
wat maak julle daar?”
“Ons grawe vir uintjies
en stoei met mekaar.”
(p. 19)
Die tweede afdeling bevat leerryme, byvoorbeeld tel- en alfabetryme, “Vreemde omies” (Antjie Krog), Elizabeth van der Merwe se “Tandeborselliedjie”, asook natuurgedigte, soos S.J. du Toit se pragtige “Die boom”: “Daar staan ʼn boom in die aarde, / En bloei so skoon – O, boom!” (p. 30) Heelwat van Antjie Krog se feetjie-gedigte wat in bundels soos Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022) verskyn het, is hier weer opgeneem.
In Afdeling 3, wat “Spienekelientjies” heet, kom “byna waansinnig-obskure ryme” (p. 6) voor, soos die volgende vers waarvan die outeur onbekend is:
Spienekelientjies
Ek was my goed met kraalbos
ek spoel dit uit in soutslaai
ek hang dit op met pennetjies
en môre is dit droog
Jik Jak spienekelientjies
Jik Jak spienekelientjies
Jik Jak spienekelientjies
môre is dit droog
(p. 45)
“Bieblebomse berg” is ʼn omdigting van ʼn Nederlandse gedig wat genoem is na ʼn fiktiewe berg wat oorspronklik uit ‘n ou Nederlandse volksverhaal en kinderrympie kom. Daar is ook ʼn paar lekker tongknopers, soos Jaco Jacobs se prettige “Koperknope”:
Die koperverkoper verkoop koperknope.
Die koperkoper koop koperknope.
Die koperkoper koop die koperknope wat die
koperverkoper ver-
koop.
(p. 55)
Die voorlaaste afdeling, “Ons eie” bevat eg-Afrikaanse gedigte en begin met Antjie Krog se bekende “Antjie Somers” uit Mankepank (2011). Byna vergete gedigte van Alba Bouwer en Tienie Holloway het my sommer na lank vergange jare laat terugverlang.
Die laaste afdeling is ʼn ware gruwel-afdeling. Heinrich Hoffman se bekende kinderboek uit 1845, Der Struwwelpeter, het gedigte soos “Koenraad duimsuig” (“Der Daumenlutscher”) en “Piet Boskasie” (“Der Struwwelpeter”) geïnspireer. Ingrid Jonker se “Toemaar die donker man” is een van Afrikaans se mooiste kindergedigte. Van Antjie Krog is daar gedigte oor spoke en monsters en een van my gunstelinggedigte, “Die wilde wolman” van W.O. Kühne (verw. D.J. Opperman) is ook hier te lese. My allergunsteling in dié afdeling is egter Jaco Jacobs se “Krokodil”:
Jou …
skurwerige
skubberige
rubberige
rowwerige
growwerige
groenerige
gruwelike
gryperige
grieselige
glibberige
glipperige
glyerige
gladderige
happerige
tanderige
slaperige
sluiperige
slangerige
langerige
loerderige
loggerige
knobbelrige
knopperige
krokkerige
drillerige
ding
(p.93)
(Met ʼn tanderige krokodil-skets langsaan).
Vir ouers en oumense, middeljarige en jong mense, kleinmensies en selfoonkykertjies: Hierdie is nét die boek vir jou!

Oupa gaan gewis dié bundel aanskaf.