Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 May 2026

Resensie: “Spienekelientjies” (Antjie Krog, Samest.)

 

 

Resensie: Spienekelientjies: Taalmusiek vir kleintjies, saamgestel deur Antjie Krog. LAPA, 2026.

Resensent: Marlies Taljard

 

Spienekelientjies is ʼn heerlike kinderboek vol klinkende ryme. Volgens die agterblad is dit “ʼn bundel wat sorgvuldig saamgestel is om jong kinders bloot te stel aan die musiek van taal en die geskenk van ʼn verdiepte woordeskat”.

Die omslagontwerp gee die toonaard van die boek aan: speels, kleurvol, interessant en humoristies. Daarby is elke gedig kleurvol en kreatief geïllustreer. Dit is die ideale geskenk vir elke jong kind of mamma, geskik om self te lees of om gereeld voorgelees te word. Glo my, kinders wil die gedigte méérmale hoor en méémaak! Dis ʼn boek wat deur klein handjies hanteer sal word en binnekort karakter sal hê. Antjie Krog het met dié versameling verse ʼn goudaar raakgeboor – ek soek al lankal na nét so ʼn boek en het self heerlik gelees aan gedigte (resitasies!) wat ons as skoolkinders uit die kop geleer het. Baie van die ou gewilde Engelse gedigte het sy in Afrikaans vertaal en dit werk beslis net so goed in Afrikaans as in Engels.

Vir ouers en onderwysers is die Voorwoord deur die Samesteller besonder nuttig. Hierin sit Krog die doelwit van haar projek uiteen, “naamlik om deur middel van taalritme en fantasie die binne- en intellektuele wêrelde van kinders te ontsluit” (p. 4). Sy verskaf sewe redes waarom jong kinders daagliks in aanraking behoort te kom met kinderryme. Sulke rympies help onder andere die kind se taalaanvoeling, skep passiewe woordeskat, ontsluit nuwe woordbetekenisse, bring disparate woorde op kreatiewe wyse bymekaar, maak die kind bewus van die krag van klank en “bind die kind aan die ware ritmes van die aarde” (p. 5). Statistiek toon aan dat die gemiddelde laerskoolkind in 1945 ʼn woordeskat van 10 000 woorde gehad het, terwyl dit vandag 2 500 is. Gereelde blootstelling aan voorgelese stof, wat ryme insluit, kan kinders se woordeskat uitbrei.

Die boek is gestruktureer aan die hand van vyf afdelings: “Trippe trappe trone”, “S staan vir superslim”, “Spienekelientjies”, “Ons eie” en “Help my” en bevat ou en nuwe verse van Antjie Krog en ander Afrikaanse digters, asook vertalings uit Duits en Engels deur die Samesteller.

In die eerste afdeling van die boek tref ons ou bekende en klassieke gediggies aan. Uit die Engels byvoorbeeld “Humpty Dumpty” as “Oompie Kedoompie”, “This little pig went to market” as “Vyf tone” en “Little miss Muffet” as “Klein Griet van der Poel”. Uit my laerskooldae onthou ek “Daar’s ʼn apie op ʼn stokkie”, “Daar kom ou Jan Balie om die draai”, “Wippie en Snippie loer uit by ʼn gaatjie” en Tienie Holloway se klassieke “Bobbejaan Bobbejaan”:

 

Bobbejaan Bobbejaan

 

“Bobbejaan, Bobbejaan,

waar kom jy vandaan?”

“Bo uit die berge,

onder die maan.”

 

“Bobbejaan, bobbejaan,

wat maak julle daar?”

“Ons grawe vir uintjies

en stoei met mekaar.”

(p. 19)

 

Die tweede afdeling bevat leerryme, byvoorbeeld tel- en alfabetryme, “Vreemde omies” (Antjie Krog), Elizabeth van der Merwe se “Tandeborselliedjie”, asook natuurgedigte, soos S.J. du Toit se pragtige “Die boom”: “Daar staan ʼn boom in die aarde, / En bloei so skoon – O, boom!” (p. 30) Heelwat van Antjie Krog se feetjie-gedigte wat in bundels soos Fynbosfeetjies (2007) en Vetplantfeetjies (2022) verskyn het, is hier weer opgeneem.

In Afdeling 3, wat “Spienekelientjies” heet, kom “byna waansinnig-obskure ryme” (p. 6) voor, soos die volgende vers waarvan die outeur onbekend is:

 

Spienekelientjies

 

Ek was my goed met kraalbos

ek spoel dit uit in soutslaai

ek hang dit op met pennetjies

en môre is dit droog

 

Jik Jak spienekelientjies

Jik Jak spienekelientjies

Jik Jak spienekelientjies

môre is dit droog

(p. 45)

 

“Bieblebomse berg” is ʼn omdigting van ʼn Nederlandse gedig wat genoem is na ʼn fiktiewe berg wat oorspronklik uit ‘n ou Nederlandse volksverhaal en kinderrympie kom. Daar is ook ʼn paar lekker tongknopers, soos Jaco Jacobs se prettige “Koperknope”:

 

Die koperverkoper verkoop koperknope.

Die koperkoper koop koperknope.

Die koperkoper koop die koperknope wat die

koperverkoper ver-

koop.

(p. 55)

 

Die voorlaaste afdeling, “Ons eie” bevat eg-Afrikaanse gedigte en begin met Antjie Krog se bekende “Antjie Somers” uit Mankepank (2011). Byna vergete gedigte van Alba Bouwer en Tienie Holloway het my sommer na lank vergange jare laat terugverlang.

Die laaste afdeling is ʼn ware gruwel-afdeling. Heinrich Hoffman se bekende kinderboek uit 1845, Der Struwwelpeter, het gedigte soos “Koenraad duimsuig” (“Der Daumenlutscher”) en “Piet Boskasie” (“Der Struwwelpeter”) geïnspireer. Ingrid Jonker se “Toemaar die donker man” is een van Afrikaans se mooiste kindergedigte. Van Antjie Krog is daar gedigte oor spoke en monsters en een van my gunstelinggedigte, “Die wilde wolman” van W.O. Kühne (verw. D.J. Opperman) is ook hier te lese. My allergunsteling in dié afdeling is egter Jaco Jacobs se “Krokodil”:

 

Jou …

skurwerige

skubberige

rubberige

rowwerige

growwerige

groenerige

gruwelike

gryperige

grieselige

glibberige

glipperige

glyerige

gladderige

happerige

tanderige

slaperige

sluiperige

slangerige

langerige

loerderige

loggerige

knobbelrige

knopperige

krokkerige

drillerige

ding

(p.93)

 

(Met ʼn tanderige krokodil-skets langsaan).

 

Vir ouers en oumense, middeljarige en jong mense, kleinmensies en selfoonkykertjies: Hierdie is nét die boek vir jou!

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wat lees jy? “Elly Holm: Van Berlyn tot Hartbeespoort” (Dieter Holm)
Resensie: “tussen asem” (Hannes Visser) →

1e kommentaar op “Resensie: “Spienekelientjies” (Antjie Krog, Samest.)”

  1. Bernard Odendaal says:
    16 May 2026 at 08:02

    Oupa gaan gewis dié bundel aanskaf.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d