
Francois Wahl de Jongh (14 Maart 1951 – 21 Mei 2026)
F.W. de Jongh was ’n beskeie maar ware digter. Hy het in 1981 gedebuteer met die bundel Klipsweet, wat hom een van die vroegste “Tagtigers” maak. Hy was ook as poësieredakteur betrokke by die mondstuk van daardie generasie digters, Etienne van Heerden se literêre tydskrif Graffier.
Van sy gedigte word in gerekende bloemlesings opgeneem, soos D.J. Opperman se Groot verseboek en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Maar toe swyg hy vir agt-en-dertig jaar voor sy tweede bundel, Konglomeraat, in 2019 by Naledi verskyn.
In ’n onderhoud met Hannes Visser op Versindaba vertel hy dat sy opeenvolgende beroepe as onderwyser, joernalis en sakeman al sy tyd in beslag geneem het. Hy was die redakteur en eienaar van Gansbaai Courant en beskryf dié tyd, soos mens van ’n digter kan verwag, met treffende beeldspraak: “As joernalis was ek soos ’n melker voltyds aan die speen. Heeldag besig tot die nuus sak.”
Hy noem homself ’n “lessenaarlaaidigter”. Een van die gedigte uit daardie laai wat in sy tweede bundel opgeneem is, handel juis oor die joernalistiek. Dit is opgedra aan sy medejoernalis Marlene Malan:
Bosslaper
Die joernalis
draai teleurgesteld
by die polistasie weg:
maar net ’n bosslaper
wat versuip het in die berg.
Toe hul sy liggaam
ná drie dae
uit die kranspoel haal
vertel die steekbaardhond
in sy arms
self die verhaal.
Hoewel ek ook ’n sogenaamde Tagtiger was wat gedigte gepubliseer het in Graffier, het ek Francois nooit ontmoet nie – tot die jaar 2018. As sakeman het hy die Spar op Prins Albert geopen en dié dorpie aan die voet van die Swartberg besoek om na sy belange om te sien. Daar het ek hom toe vir die eerste keer in lewende lywe teëgekom. Ek het hom aangemoedig om sy laaigedigte bymekaar te sit, wat toe as Konglomeraat die lig gesien het.
Vir die agterplat het ek die volgende blakerteks geskryf: “Hy neem bestek op van ’n hele lewe. Sy ervarings as dienspligtige, onderwyser, joernalis, gesinsman, natuurliefhebber en geomorfoloog klonter hier saam tot boeiende versgesteentes.”
Die bundeltitel is geïnspireer deur sy belangstelling in die geologie. Hy verklaar dit self soos volg in die Versindaba-onderhoud: “Geologies gesien is konglomeraat wel ’n samevoeging van verweerde gesteentes, klippe en klein brokstukke wat deur water afgevoer en saam neergeset is. Dit is dan met ’n bindstof ingesement. So is my bundel ook ’n versameling van verse wat oor ’n tydperk van jare met die vloei van die oomblik geskep en afgeset is. Nou het hul hulle lê in Konglomeraat gekry.”
Hier is die titelgedig:
My denke sedimenteer
in konglomeraat:
brokstukke en rolklippe
afgeset in verse
ongebonde aan reëlmaat
grootte of vaste vorm
natuurlike spoelgoed
in die vloei
van die oomblik.
Francois se hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch was Geografie en Argeologie. Daar het hy W.E.G. Louw, digter en professor in Afrikaans en Nederlands, opgesoek. Louw het sy skryfmentor geword en daarvoor betuig Francois sy dank in die volgende vers:
Meester
As ek eendag jou jare het
sal ek dan ooit vergeet
wat jy so ligweg uit
jou tuin gehaal het.
Sal ek ook dan die son
tot in sy laaste draai
kan ken
en my woordswaels
met herfs
op ’n somervlug
soos jy
kan stuur.
Louw het destyds op die plasie Sondraai net buite Stellenbosch gewoon – dit verklaar die metafoor in reëls 5 tot 7. Die swaels “op ’n somervlug” kom moontlik uit Louw se gedig “Laat somer”. Dit staan in Opvlugte en opdragte wat in 1980 kort ná Louw se dood verskyn het.
Ná die uitbreek van die Covid-pandemie in 2019 het Francois met die voorstel gekom dat die uitgewery Turksvy, wat toe pas opgerig is, ’n bloemlesing gedigte oor die grendeltyd moet publiseer. Die resultaat was Maskers en mure van 2021 waarin 142 digters ’n spreekbeurt vanagter hul maskers gekry het. Ek en Francois was die samestellers.
In sy flapteks skryf hy onder meer: “Persoonlike ruimtes word beproef, tuisbly en saamwoon in kwarantyn is ’n nuwe dimensie.” Sy digterlike bydrae tot die bundel klink só:
Covid-19
Die tuinhek is gegrendel
en verbylopers
wat eens lastig was
word nou selfs gemis.
Slegs die voëls
en briesie
gaan hul gang
waar ek
op my erf
kluisenaar is.
Die lug sal skoner
wees van rookmis
verbranding
van fossielgesteentes
en aardse olies.
Maar krematoriums
sal volstoom werk
en so steeds
die mens se merk,
’n Kaïn-dwaalspoor
vanuit die land Nod,
op die aarde laat.
Toe ek Francois die eerste keer gesien het, was hy reeds met prostaatkanker gediagnoseer. Sy positiewe ingesteldheid het steeds bewondering by my gewek. Hy het later oor sy siektetoestand gedigte geskryf, wat op Versindaba geplaas is:
Chemolokaal
so sit ons
op rye gemakstoele
onder gifdrup
pypies uit sakkies
elk gevul
met ’n ander mengsel
vir oorlewing
so ver verwyder
van gister is vandag
’n onseker pad
die onkoloog
’n doodskonsultant
met geen tydprognose
slegs geloof
gesonde denke
en liefde
dra jou deur.
Die liefde waarna hy verwys, het onder andere gekom van sy vrou Deonora. Hy het Konglomeraat aan haar opgedra met hierdie woorde:
ek is griffel
jy die lei
waar verse
gestalte kry.
My gunstelinggedig in die bundel is inderdaad ’n liefdesvers, met ’n komiese kinkel:
Kussingpraatjies
Jy vra
of ek jou laasnag
gemis het.
Ek het kussings
op jou plek gepak
om my te verbeel
jy is daar.
Maar kussings
lê nie lepel nie
draai nie
saam om nie
snork nie
liggies nie
straal nie liefde
of warmte uit nie:
kussings voel vere.
Francois was ’n egte digter én ’n opregte mens. Die digter leef voort in sy verse, die mens sal ek mis.
– Daniel Hugo
29 Mei 2026

Hartseer.