Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
30 May 2026

RIV Francois Wahl de Jongh (14 Maart 1951 – 21 Mei 2026)

 

 

Francois Wahl de Jongh (14 Maart 1951 – 21 Mei 2026)

 

F.W. de Jongh was ’n beskeie maar ware digter. Hy het in 1981 gedebuteer met die bundel Klipsweet, wat hom een van die vroegste “Tagtigers” maak. Hy was ook as poësieredakteur betrokke by die mondstuk van daardie generasie digters,  Etienne van Heerden se literêre tydskrif Graffier.

Van sy gedigte word in gerekende bloemlesings opgeneem, soos D.J. Opperman se Groot verseboek en Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Maar toe swyg hy vir agt-en-dertig jaar voor sy tweede bundel, Konglomeraat, in 2019 by Naledi verskyn.

In ’n onderhoud met Hannes Visser op Versindaba vertel hy dat sy opeenvolgende beroepe as onderwyser, joernalis en sakeman al sy tyd in beslag geneem het. Hy was die redakteur en eienaar van Gansbaai Courant en beskryf dié tyd, soos mens van ’n digter kan verwag, met treffende beeldspraak: “As joernalis was ek soos ’n melker voltyds aan die speen. Heeldag besig tot die nuus sak.”

Hy noem homself ’n “lessenaarlaaidigter”. Een van die gedigte uit daardie laai wat in sy tweede bundel opgeneem is, handel juis oor die joernalistiek. Dit is opgedra aan sy medejoernalis Marlene Malan:

 

Bosslaper

 

Die joernalis

draai teleurgesteld

by die polistasie weg:

maar net ’n bosslaper

wat versuip het in die berg.

Toe hul sy liggaam

ná drie dae

uit die kranspoel haal

vertel die steekbaardhond

in sy arms

self die verhaal.

 

Hoewel ek ook ’n sogenaamde Tagtiger was wat gedigte gepubliseer het in Graffier, het ek Francois nooit ontmoet nie – tot die jaar 2018. As sakeman het hy die Spar op Prins Albert geopen en dié dorpie aan die voet van die Swartberg besoek om na sy belange om te sien. Daar het ek hom toe vir die eerste keer in lewende lywe teëgekom. Ek het hom aangemoedig om sy laaigedigte bymekaar te sit, wat toe as Konglomeraat die lig gesien het.

Vir die agterplat het ek die volgende blakerteks geskryf: “Hy neem bestek op van ’n hele lewe. Sy ervarings as dienspligtige, onderwyser, joernalis, gesinsman, natuurliefhebber en geomorfoloog klonter hier saam tot boeiende versgesteentes.”

Die bundeltitel is geïnspireer deur sy belangstelling in die geologie. Hy verklaar dit self soos volg in die Versindaba-onderhoud: “Geologies gesien is konglomeraat wel ’n samevoeging van verweerde gesteentes, klippe en klein brokstukke wat deur water afgevoer en saam neergeset is. Dit is dan met ’n bindstof ingesement. So is my bundel ook ’n versameling van verse wat oor ’n tydperk van jare met die vloei van die oomblik geskep en afgeset is. Nou het hul hulle lê in Konglomeraat gekry.”

Hier is die titelgedig:

 

My denke sedimenteer

in konglomeraat:

brokstukke en rolklippe

afgeset in verse

ongebonde aan reëlmaat

grootte of vaste vorm

natuurlike spoelgoed

in die vloei

van die oomblik.

 

Francois se hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch was Geografie en Argeologie. Daar het hy W.E.G. Louw, digter en professor in Afrikaans en Nederlands, opgesoek. Louw het sy skryfmentor geword en daarvoor betuig Francois sy dank in die volgende vers:

 

Meester

 

As ek eendag jou jare het

sal ek dan ooit vergeet

wat jy so ligweg uit

jou tuin gehaal het.

Sal ek ook dan die son

tot in sy laaste draai

kan ken

en my woordswaels

met herfs

op ’n somervlug

soos jy

kan stuur.

 

Louw het destyds op die plasie Sondraai net buite Stellenbosch gewoon – dit verklaar die metafoor in reëls 5 tot 7. Die swaels “op ’n somervlug” kom moontlik uit Louw se gedig “Laat somer”. Dit staan in Opvlugte en opdragte wat in 1980 kort ná Louw se dood verskyn het.

Ná die uitbreek van die Covid-pandemie in 2019 het Francois met die voorstel gekom dat die uitgewery Turksvy, wat toe pas opgerig is, ’n bloemlesing gedigte oor die grendeltyd moet publiseer. Die resultaat was Maskers en mure van 2021 waarin 142 digters ’n spreekbeurt vanagter hul maskers gekry het. Ek en Francois was die samestellers.

In sy flapteks skryf hy onder meer: “Persoonlike ruimtes word beproef, tuisbly en saamwoon in kwarantyn is ’n nuwe dimensie.” Sy digterlike bydrae tot die bundel klink só:

 

Covid-19

 

Die tuinhek is gegrendel

en verbylopers

wat eens lastig was

word nou selfs gemis.

Slegs die voëls

en briesie

gaan hul gang

waar ek

op my erf

kluisenaar is.

Die lug sal skoner

wees van rookmis

verbranding

van fossielgesteentes

en aardse olies.

Maar krematoriums

sal volstoom werk

en so steeds

die mens se merk,

’n Kaïn-dwaalspoor

vanuit die land Nod,

op die aarde laat.

 

Toe ek Francois die eerste keer gesien het, was hy reeds met prostaatkanker gediagnoseer. Sy positiewe ingesteldheid het steeds bewondering by my gewek. Hy het later oor sy siektetoestand gedigte geskryf, wat op Versindaba geplaas is:

 

Chemolokaal

 

so sit ons

op rye gemakstoele

onder gifdrup

pypies uit sakkies

elk gevul

met ’n ander mengsel

vir oorlewing

so ver verwyder

van gister is vandag

’n onseker pad

die onkoloog

’n doodskonsultant

met geen tydprognose

slegs geloof

gesonde denke

en liefde

dra jou deur.

 

Die liefde waarna hy verwys, het onder andere gekom van sy vrou Deonora. Hy het Konglomeraat aan haar opgedra met hierdie woorde:

 

ek is griffel

jy die lei

waar verse

gestalte kry.

 

My gunstelinggedig in die bundel is inderdaad ’n liefdesvers, met ’n komiese kinkel:

 

Kussingpraatjies

 

Jy vra

of ek jou laasnag

gemis het.

Ek het kussings

op jou plek gepak

om my te verbeel

jy is daar.

Maar kussings

lê nie lepel nie

draai nie

saam om nie

snork nie

liggies nie

straal nie liefde

of warmte uit nie:

kussings voel vere.

 

Francois was ’n egte digter én ’n opregte mens. Die digter leef voort in sy verse, die mens sal ek mis.

 

– Daniel Hugo

29 Mei 2026

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

1e kommentaar op “RIV Francois Wahl de Jongh (14 Maart 1951 – 21 Mei 2026)”

  1. Johan Coetzee says:
    30 May 2026 at 14:21

    Hartseer.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. vóór die smelting
  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond

Nuutste kommentaar

  1. Miel Vanstreels on Miel Vanstreels. Voorlopig1 August 2026

    Dankie, Marieta

  2. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  3. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  4. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d