NP: RIV
’n Alleenspraak om wyse raad uit die poёsie en lewe van N.P. Van Wyk-Louw met die herdenking van sy eenhonderd-en-twintigste verjaarsdag te ontgin
I
Jou ewige onvoltooiing
(oor die Roggeveld gespan)
kaal in ’n halwe kring
in alleenspraak naak voor God en leser
het jou beitel ons taal
ondenkbaar hoёr laat styg
(’n Sipres uit Sutherland ge-toring)
jou tyd myle vooruit.
II
Sal jy met my praat, alleen
(ster met klip op Gunsfontein)
oor intertekstualiteit
wat jy so helder modelleer?
Mag ek in ’n De Lange ge-bieg jou vra:
oor die duiwel se gelag (aleer jou rek
oor die plaasdam skiet), want inter teks
sien mens hom (soms) nie meer raak nie;
in pros & cons dra woorde in jou karoo
die sonsondergange soos kleur & stof
vir Wytze op ’n Ars poetica-pad, en bespie ek
die slymerigheid van ons histories-
en geweefde denke wat uit die ongevormde literatuur
ondeurdag déúr-praat:
III
Miskien sou jy uitbars van die lag, oor bekkens
boude en torso’s walg, of dalk die verse
waar reёls ongeredigeer in kele stamp
kompaan wou wreek.
(maar nie so ritmies soos ’n pomp by jou dam nie).
IV
Hoe aanvaar mens intertekstuele banaliteit wat
in/as palinodes manifesteer?
Wat sou Heloise vandag vir Abelárd sê of andersom?
Sou dié twee binne jou grense, walglike woorde duister noem?
Kan ek dalk (buite konteks) jou reёl as korrek aanvaar:
Net eenmaal kan mens iets so volmaak soos die ewigheid van ’n gedig ervaar?
Alternatiewelik (binne konteks) Hambidge se twee paar oё wat een sou word?
V
Soos Anna Neethling-Pohl wil ek op jou versoek nie hulde bring nie; weet net:
Vannag in hierdie helder stilte dink ek alweer aan jou; en al is jy
eenhonderd-en-twintig oud, vernuwe jy nóg –
VI
N.P. asseblief, rus in hemelsnaam in vrede:
Jou nalating is volbring, of hoe?
© Koos de Wet, 2026
