
Mellet Moll (1967 – 2024) is in Pretoria gebore en matrikuleer in 1984 aan die Hoërskool Waterkloof. Hy studeer Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria waar hy die grade B.Ing, B.Ing (Hons), M.Ing en PhD in Bedryfsingenieurswese behaal. Hy spandeer die eerste helfte van sy professionele loopbaan in die industrie en ontvang post-doktorale opleiding in Gehaltebestuur in Osaka, Japan. Sy laaste betrekking voordat hy die industrie verlaat is dié van Uitvoerende Hoof van Strategie en Deurlopende Verbetering van ArcelorMittal Suid Afrika. In 2006 aanvaar hy ’n professoraat in Bedryfsingenieurswese aan Stellenbosch Universiteit waar hy die nagraadse program in Ingenieursbestuur vestig en lei. Hy aanvaar in 2012 diens by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie waar hy werksaam is as adjunk-dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-Omgewing en word in 2017 dekaan. Onder sy leierskap ontwerp, vervaardig en lanseer die fakulteit se ruimteprogram onder meer ’n konstellasie nanosatelliete wat intussen ontplooi is om die land se kuslyn te moniteer as deel van Operasie Phakisa. Hy word ook verkies as die eerste voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Hernubare Energie Tegnologiesentrum (SARETEC). Tydens sy ampstermyn vestig hy verskeie navorsingsaksies met betrekking tot die vierde industriële rewolusie (4IR).
Hy word in 2020 met die koms van Covid-19 aangestel by die universiteit as uitvoerende beampte verantwoordelik vir besigheidskontinuïteit en Covid-19. As ingenieur vestig hy in ’n kort tyd ’n reputasie as ’n nasionale deskundige in die bestuur van Covid-19 toe sy universiteit die aandag van die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie trek aangesien die universiteit, onder sy leiding, die mees suksesvolle Covid-19 veldtog in die sektor het ten spyte van die feit dat die instelling ’n uiters diverse en gemarginaliseerde studentegemeenskap bedien.
Sy stokperdjies is sedert sy kinderdae musiek en poësie en hy onthou hoe sy eerste gedig reeds in Graad 1 hom ’n pak slae op die hals gehaal het as gevolg van sy aweregse interpretasie van die onderwyseres se opdrag. Hy het waarskynlik een van die grootste musiekversamelings in Suid-Afrika en waag ook soms sy hand aan musiekvervaardiging. Sy musiekversameling beslaan ongeveer 60 000 albums oor alle genres, hoewel hy neoklassieke musiek, gotiese musiek, ambient-musiek en Franse musiek uitsonder as die mees omvattende in sy versameling. Hy was in sy jonger dae ook werksaam as uitsmyter by nagklubs en kroeë.
Hy debuteer in 2014 met ’n drieluik getiteld Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe. Dit was die eerste keer dat ’n Afrikaanse digter met ’n drieluik debuteer. Sy gedigte is opgeneem in die versamelbundels Die mooiste Afrikaanse Christelike Gedigte en Maskers en Mure. Van sy gedigte is getoonset deur musikante soos Mel Botes, Steyn de Wet en Eva Mouw. Hy ontvang in 2015 die Orde van die Beiteltjie.

[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]

Ek het Mellet hoog geag.