Meturgeman
Vir die refleksie van iemand
wat langs ʼn venster sit en bid
dat ek jou toe ook moes begelei
na die fontein waaruit ek
indertyd moes drink
was om toorwoorde op te roep
uit die duister –
want die deure van persepsie
word nie alleenlik geopen
deur die dobbelsteen se worp
oor die graal van kennis nie –
nee, kyk, elke nuwe seisoen
is spieël van ʼn vorige lewe
om die kalf – die monumentale ek – op te rig
was om terug te keer na die Sri se uitleg
oor presies hóé om asem te haal:
om die eens moederlike figuur
met my eie vaderlike ek te vervang
en daardeur dié pleidooi, as opdrag,
neer te lê op ʼn hemelsblou kussinkie
as plengoffer aan haar generasie: z
om in die beweging van haar heupe
in haar Afrika-amandel-oë
die metronoom gereed te maak
vir die student se wyster wat tik
© Bester Meyer, 2026
