https://photos.app.goo.gl/yMJaFhYqpg1ETy678
Foto 18 – Naghemel Rogge Cloof
Ter Elfder Uur
elke gedig ontspring vanaf daardie ewige punt in die heelal
om vir my buurman wat onder ʼn sentrum van sterrestroming
flonker, iewers in die kloof tussen heerlikheid en sterflikheid
ʼn oor-sprong te laat vasanker in die twéékantigheid van ons
ek begryp slegs die sterreklank van woorde uit sy mond
as ek maar ten dele die werklikheid van my eie-bestaan,
die grootse vyand van my donkerkant, aan die lig laat kom
dat die strepe wat óns is, al-tyd kan uitreik tot in verste baan
hy iewers in sy klooster ingebed deur die rowe van tyd
wat bó ons in koepels bly beweeg in die apeks van God:
Sý hand wat skilder aan die andersheid wat eens een
was – maar nou na alkant van die spektrum terugkeer
om tot eie reg te kom, is om alleen, soos ek-alleen, te vertrou
die son is aan die ligkant onderweg na hóm, maar ook na my
© Bester Meyer, 2026
