Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
24 September 202525 September 2025

Resensie: “vloei / stof” (Gilbert Gibson)

 

 

 

Resensie: vloei / stof, deur Gilbert Gibson, 2025, Pretoria: Protea.

Resensent: Dewald Koen

 

vloei/stof epiteton (-wwe; -fie) 1 die naam van ’n vaskulêre vloed. 2 hoe sweet anders word as bloed.

vloei/stof anafoor (-wwe; -fie) 1 ’n vogkolleksie in die grond waarin vleilande verskyn en verdwyn. 2 die swaarwater in motiewe, soos by kerke, ouerhuise, tersiêre geriewe.

Gilbert Gibson se sewende digbundel het onlangs by Protea verskyn. Onder poësieliefhebbers is Gibson bekend as ’n gevestigde digter wie se digterlike oeuvre tot op hede van besonderse digvernuf getuig. Sedert sy debuut met die bundel boomplaats in 2005 waarvoor hy die Protea-prys vir beste digbundel in 2005 ontvang het, het Gibson bekendheid verwerf vir sy eiesoortige, hermeneutiese digstem en e.e. cummings-skryfstyl. Van sy mees geslaagde digbundels sluit in die merkwaardige Kaplyn (2007), oogensiklopedie (2010) en vry- (2015) wat met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie sowel as die Suid-Afrikaanse Letterkunde-prys vir poësie 2016 (Sala-toekennings) bekroon is.

Met vloei / stof doen die digter oudergewoonte sy reputasie as spesialis op die veld van die hermeneutiese vers gestand. Synde ’n internis van beroep wat die menslike liggaam op eksakte wyse moet ondersoek op soek na ’n onderliggende, versluierde siektetoestand, vereis Gibson se digkuns ’n geduldige leser wat elke vers as die literêre speurder-as-eksegeet moet benader. Gibson is vantevore deur literatore en resensente hieroor geroskam. Sy jongste bundel dien egter as bewys dat die hermeneutiese vers myns insiens geensins afbreuk doen aan die digterlike beeldbeskrywing of metafoor nie. Die aandagtige leser word eerder beloon met ’n oorvloed verse wat die menslike palaat soos ’n goeie rooiwyn sal verkwik.

Die bundeltitel aktiveer verskeie moontlike interpretasies: Wat is die verhouding tussen “vloei” en “stof”? In hierdie opsig dink ek aan die moontlikhede van ’n vloeiende stof soos bloed en water, maar ook ’n vaster, tasbare stof soos stof afkomstig uit die grond. Laasgenoemde veronderstellings word gebaseer op die oorkoepelende temas in die bundel en skakel ook met die programgedig getiteld “sou”.

 

my skoene het soos hospitale geword, soos die n1

’n plek van skielike dood

 

my sole soos die wegstap van ’n man

wie se voete aan sy bene herinner

 

my spoor was uitgedien soos perkament

soos die stil hart van winter

toe die ryp soggens ’n aambeeld

 

met die nodige ontsag van verkenning

was my veters ’n oogwink van komplekse geografie

 

want as ek aanhou loop, was voor my stof en water

’n vooruitsig wat die strate in glinsterende strome

sou verander. en agter my, in die aard van die meteense

sterfte, ’n lang geslag van mense wat hulle mistieke

eerbied vir grond bly koester het, nou sesvoet onder

 

diep is hulle daar hul oë in ongerief

hulle bene gepoleerde obsidiaan

en die fonteine daaragter aan’t verdwyn

soos die rivier uit jou oë wat jy ingedam hou

as ek eendag wegloop van hierdie plek

en met skielike dood terug in die aarde sou

 

Die effektiewe gebruik van die enjambement kom duidelik na vore in die programgedig. Die vers ontsluit as sulks die bundel en bied vir die leser ’n kortstondige blik op die ruim aantal verse en temas wat aan bod kom. Soos in sy vorige bundels figureer die Bybel as interteks in ’n groot aantal gedigte naamlik “lot gewerp” (26), “in altyd reeds” (41), “reis” (42), “wat nog kom” (69), “voorsien” (92), “bene in slagysters kom” (93), “karamazof” (127), “die prediker aan” (135), “as die lengte van dae” (136), “om na jou te reik” (143) en “stadsmuur sou sak” (145). Die programgedig tree intertekstueel in gesprek met Genesis 3:19-24 (Die Bybel, 1933/1953-vertaling). Die vers skakel met die bundeltitel en fokus metafories op menslike verganklikheid. Die gebruik van woorde soos “skoene”, “sole”, “spoor”, “veters”, “loop” en “bene” dui op die mens se figuurlike lewenspad. Die slotreël lui: “en met skielike dood terug in die aarde sou”. Genesis 3:19 lui: “[w]ant stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”. Die dood staan sentraal in woorde soos “skielike dood”, “stil hart”, “stof”, “eerbied vir grond”, “sesvoet van onder” en die herhaling van “skielike dood” in die slotreël. Die spreker gee in die opsig gestalte aan die bundeltitel vloei / stof. Verdere verwysings na die bundeltitel figureer deulopend: “die stof uit die noorde en oral stof in ons binne” (36), “onsigbaar oor die plaaspaaie. die stof by die / modderskerms […]”, “lopende water” (49), die pratige paradoks in die gedig getiteld “van my” met verwysing na “woestyn van water” (79), “die vloed” (80), “stof tot nadenke” (87), asook “en bloed vloei soos verkeer of vuil gedagtes” (135). Die spreekwoordelike “goue draad” vloei deur die bundel as geheel. Die titel aktiveer dus dood, maar ook die lewe met spesifieke verwysings na “water” wat soos “stof” prominent in die bundel figureer. Simbolies word water met “lewe” geassosieer. Die vernuftige spel neem die speurende leser op ’n bevredigende speurtog waarin die paradoksale lewe versus die dood en vaste “stof” teenoor “vloeistof” verken word.

Tematies figureer temas wat in vorige bundels te voorskyn kom weer eens in die bundel. Gedigte oor die Anglo-Boereoorlog (oftewel die Suid-Afrikaanse Oorlog), die Grensoorlog, diensplig, selfdood, en gesprekke met digters en sangers kom aan bod. In die gedig getiteld “soutpilaar” (27) skryf die digter-spreker soos volg oor die Grensoorlog:

 

ek’t ’n kubaan

ek’t ’n brug van drome

ek’t oor die nhiarivier

dat ek met ’n verkyker na jou staar

ek asem net in circular breathing

ek dra ’n uniform ’n geweer ’n waterbottel ’n mes

ek lê jou voor tot skadeloos/ jou om te draai

ek’t ’n lokval ek’t ’n lot

en weifel of wag nie

ek maak jou nie sag nie

ek’t ’n kubaan ek’t ’n onbekende gevaar

ek’t ’n alternatiewe teorie oor ’n soutpilaar

 

In hierdie gedig tree Gibson intertekstueel met Etienne van Heerden se kortverhaal “My Kubaan” in gesprek. Let veral op die skakel tussen die titel “soutpilaar” en die woord “lot” met verwysing na Genesis 19:26 waarin Lot se vrou in ’n soutpilaar verander. Die gedigte oor die Anglo-Boereoorlog is eweneens merkwaardig. Dit is interessant dat dié oorlog in 2025 nogmaals in literêre tekste opduik soos ook te sien in Thérèse Hulme se debuutbundel wat onlangs by Naledi verskyn het. Die afdeling getiteld “’n skrynwerker in funksie” (met verwysing na Jesus Christus) bevat meerendeels die verse wat geskiedkundige gebeure verken. Een van die pragtigste verse in die afdeling is getiteld “in altyd reeds” waarin die digter-spreker vanuit ’n soldaat se perspektief nuwe gestalte verleen aan Psalm 121:

 

nie elders na die berge nie

maar hier slaan ek my oë neer

oor die vlakte voor my hierdie keer

waar my hulp versuim

waar my steun bestendig

waar my voortstap nie verval nie

en die here se ywer nie rus nie

waar sy sekerheid nie slaap nie

want hy sluimer nimmer

hy droom nooit

sy son kom van bakboord

en skaad my nie bedags nie

hy versorg my snags in die maan

hy omhein my teen elke euwel

oor my uitgang en my terugkom

ook oor die vlakte sonder heuwels

van nou tot in altyd. reeds

 

Die bundel bevat ook ’n aantal liefdesgedigte waarin Gibson die erotiek verken. In “steke” lui die inleidende versreëls: “ek sit my mond op jou mond neer, jou tong binne soos / ’n fliek soos dwaalkoeëls in ’n stegie […]” (59). In “kom” word die bundeltitel vernuftig geaktiveer met ’n seksuele verwysing wanneer die spreker opmerk: “om met ’n verborge afvoer van vergelding / in die greep van vingers deur jou hare te kom” (65). Die verwysing na semen dui as sulks op vloeistof wat die erotiese met die ontstaan van nuwe lewe deur middel van die liefde verbind.

In sy gedig “van mense” plaas Gibson ’n skrywer in kontras met ’n bekende reeksmoordenaar. Die buitengewone spel met ironie is treffend. Die onderliggende humor moet die leser nie ontgaan nie:

 

in florida soek ek ’n haelgeweer vir hemingway

maar loop net die biografie van bundy raak

teddy speel skaak en ons luister dylan

hy praat gekerker oor sielkundeklasse

in smal heupe wat op ’n stoep kan sit

hy liasseer sy leeskamer tot

a hard rain’s gonna fall

hy belowe jou die outeur van keuse

(anders as ernest hou hy uit sê hy

hy hou van mense)

 

Ander verse wat gelees móét word is “verweef” wat handel oor die Griekwastad-moorde, “donker gang”, “hart” asook “as die slottoneel” waarin Jesus se kruisiging figureer. Daar is soveel geslaagde verse in dié bundel dat die lys veel langer daar uitsien as wat hier vermeld word.

Die rolspelers agter ’n boek of bundel kry selde ’n pluimpie vir hul bydrae tot ’n teks. In dié opsig moet Hanli Deysel by naam genoem word weens haar betowerende bandontwerp. Die bundeltitel verkry visueel gestalte met ’n woorspeling tussen die vloeibaarheid van stof asook die metaforiese aanwesigheid van donkerte oftewel verhulling (lees hier die klem op die hermeneutiese) soos dit op die voorplatontwerp verbeeld word. Opvallend is die gebruik van ’n weerkaatsingseffek van die bundeltitel asook die naam van die digter op die agterplat. Metafories sinspeel hierdie effek op die oorkoepelende tematiek by name die teenpole en paradokse wat in die digbundel aan bod kom.

’n Intertekstuele spel word met bekende figure soos Ingrid Jonker, Boerneef, Koos Kombuis, Christopher Torr, T.S. Eliot en Emily Dickinson op vindingryke wyse gevoer. Één so ‘n gedig getiteld “en caledon” (149) is een van daardie onvergeetlike verse waarin die skerpsinnige spel met woorde die leser meevoer:

 

op pad na valkenburg

het ek te voet uit die vrystaat gevlug

eerste patrollies op die deurpad vermy

en in die stilligheid tot drieanker terug

my rugsak en my rekenskap vergeet

verby afdraaie en toegeetekens

verby ’n oordrif wat in dolle vaart

stilstand opgelewer het. toe diskreet

momentum behou om in die

kwynende verkeer te vooruit, verby

trompsburg en touwsrivier, waar

droogtes oor beleërde grond

my vordering as vals verklaar

op pad na valkenburg

het ek in die ruis van stilte gevaar

weg oor ’n ingeduikte tweeliter die oor-

klink van wind gevind

by leë stasies ingedraai

en van spore en spruite gedroom

wat sonder flirtasie voor sou gaan

oor sir lowryspas oor gordonsbaai

dat ek moes wonder of stilstand

die res van die lewe verduur,

en sou langer wag in die oorpad

in die groen hexrivier

en toe gebergte om my digter kordon

en onverskillig gemik vir botrivier en caledon

 

Dit is helaas ’n onbegonne taak om in die bestek van die resensie reg te laat geskied aan ’n lywige, treffende bundel soos vloei / stof. Gibson oortref homself met sy jongste bundel. Ek het lanklaas ’n digbundel gelees wat my intellektueel so uitgedaag het soos dié van Gibson. Terselfdertyd kon ek die wonder van die Afrikaanse taal en die wyse waarop Gibson daarmee omgaan, waardeer. Gibson is inderdaad ’n woordsmid van formaat. Ek verbeel my die digterlike internis wat tydens die skryfproses met skalpel (asof ’n poëtiese sjirurg) elke aspek en woord van die gedig dissekteer, ondersoek, bepeins en bewonder. “vloei / stof” is ’n verruklike (’n gewaagde stelling om deur ’n resensent gemaak te word) bundel wat poësieliefhebbers van begin tot einde met die prag en praal van die geskrewe woord sal verlei. Naas Kaplyn en vry- is hierdie bundel ongetwyfeld magistraal en span die kroon op Gibson se oeuvre tot op hede.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge gesels met Gilbert Gibson oor “vloei / stof”
Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg
  • Johann Lodewyk Marais. Saterdagaand

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d