Resensie: Habitus, Kobus Kotzé, 2026. Gansbaai: Naledi.
Resensent: Dewald Koen
I
Kobus Kotzé het onlangs gedebuteer met sy bundel Habitus. Hierdie bundel is die “nooiensbundel” (soos die agterplat aandui) van ’n nuwe reeks poësiebundels. Hierdie reeks stel ten doel om aan ontluikende debutantdigters wat belofte toon die geleentheid te bied om ’n solobundel te publiseer. Die reeks staan bekend as “Podium” en is ’n inisiatief onder die redakteurskap van digters Neil Cochrane en Alwyn Roux. Die keuse van “Podium” as naam vir die reeks is heel gepas aangesien dit daarop sinspeel dat daar ’n ruimte of plek vir die debutantdigter geskep word om sy of haar poësie met die leserspubliek te deel.
II
Die bundeltitel is die spreekwoordelike sleutel wat die bundel vir die leser ontsluit. In die eerste epigraaf verwys die digter na die Franse sosioloog, Pierre Bourdieu. In sy seminale teks Outline of a Theory of Practice (1977) ondersoek en kritiseer Bourdieu die tradisionele sosiale wetenskappe en die wyse waarop menslike gedrag beskryf word. Bourdieu voer aan dat die mens se sosiale perspektiewe aangaande gewoontes, vaardighede en denkwyse eerder ’n interaksie tussen sosiale strukture en individuele handeling is. Die antieke Griekse filosoof, Aristoteles, het eeue vantevore aangevoer dat die “Habitus” dui op sogenaamde aangeleerde ingesteldheid wat die mens se karakter definieer. Hierdie aangeleerde ingesteldheid bepaal die wyse waarop ’n individu op die daaglikse stand van die wêreld rondom hom of haar optree. Bourdieu het Aristoteles se konsep (Habitus) uitgebrei en die sosiologiese Habitus volledig uitgewerk en gedefinieer. Die bundeltitel, Habitus, dui dus op die gewoontes, vaardighede en denkwyse van die deursnee mens en die wyse waarop sosiologiese tendense soos sosiale klas, opvoeding en die omgewing waarin mense grootword bydra tot die vorming van individuele denke en optrede. Die titel word vernuftig deur die loop van die bundel inkorporeer om Bourdieu se sosiologiese habitus op kreatiewe wyse te verken. Soos Breyten Breytenbach se aanhaling uit Notes from the Middle World (2009) in die epigraaf te kenne gee: “Belonging is never a fixed point; it is always a negotiation, a movement between before and after.”
III
Die bundel is in vyf afdelings verdeel naamlik Grond, Gesigte, Tussen, Ander en Smelt. Alhoewel die onderskeie afdelings elk ’n digterlike verpakking van temas is, word die diep ingewortelde gewoontes van die mens se inherente Habitus deurgaans ondersoek. Gedigte handel oor die digter-spreker se lewenservarings en die wyse waarop sy gewoontes, agtergrond en sosiale omgewing in die gedigte vergestalt word. Klas, ruimte, taal en geskiedkundige gebeure is as temas in die gedigte volop. Die digter-spreker ondersoek hiermee die wyse waarop laasgenoemde die digter-spreker as individu gevorm het. Hierdie sosiale Habitus dui op die digterlike kartering van daaglikse ervarings – sowel in die hede as die verlede.
Die programgedig “Silwerstraat, Desember, 1996” (15) versinnebeeld die betekenisgewing van die bundeltitel. In dié opsig is die volgende versreëls treffend:
[…]
gaan sit met ’n skelm sigaret
om myself te integreer met die beweging
van alledaagse objekte en mense
in die plat en wye Noordwes
[…]
In “Helikopters deur wolke” (49–50) is die eerste en slotstrofe veelseggend in terme van Bourdieu se Habitus met klem op die sosiale klas waarin die digter-spreker homself bevind. Hierdie beskrywing van die sosiale klas stel ten doel om die mens in die konteks van alledaagse handelinge uit te pluis:
Die wêreld
is ’n kleindorpse winkelsentrum
waar mense loop
soek en soek
na iets wat blink
en anders.
[…]
loop die water brak
deur die klinkersteenare
van middelklasmense
se skewe huise.
Kotzé fokus merendeels op sy jeugervarings asook sy talle reise wat hy as volwassene onderneem na plekke soos Hanoi in Viëtnam, Busan in Korea asook Bangkok. Verwysings met herinneringe aan plekke waar die digter-spreker as kind gewoon het soos “Potgietersrus, 1989” en “Mooirivier” bied ook insig tot die digter-spreker se gedagtegang.
Intertekstueel tree Kotzé naas Pierre Bourdieu in gesprek met die digter Breyten Breytenbach asook skrywers Elsa Joubert en F.A. Venter. In die gedig “Tussenstop” (62) merk die digter-spreker op: “[…] Buite bly die bome groen/ my liewe Breyten/ en ek sal eendag weer/ my ma en suster/ sonder skaamte in die oë kyk […]”. Die slotstrofe van “Bangkok, 2025” verwys na “[…] en ek tussen wêrelde/ wag op die kaptein […]” met verwysing na Joubert se roman Ons wag op die kaptein (1963) terwyl “Witborsrooikat” (74–75) intertekstueel in gesprek tree met Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif” en “ek sal sterf en na my vader gaan”. Die gedig sluit af met ’n direkte verwysing na Francois Alwyn (F.A.) Venter se roman Die ou man en die duif (1987):
As ek met sonop
die regte wysies fluit
raak ons asem
amper een
en deurboor
die kelderdeur
van die ou man
en die duif.
Hierdie gedig is ’n roerende voorbeeld van die digter-spreker se sagmoedigheid in die wyse waarop hy met die niemensdier in gesprek tree.
IV
Kotzé gaan indrukwekkend te werk ten opsigte van beeldspraak wat effektief aangewend word om kreatiewe metafore, vergelykings en voorbeelde waarin personifikasie figureer te skep. Die bundel se trefkrag lê onder andere in die digter-spreker se gebruik van stylfigure. In “Reitzstraat 45A, 1991” merk hy op: “ […] hoogsgeheim klim ons/ met krulvoete tot bo-op ons/ motorhuisdak/ en ontlont vrot vye en pere/ wat daar lê en ontbind” (16). In sy treffende gedig “Westdene-dam” (24), met verwysing na die Westdene busramp van 1985, merk hy op:
Daar waar die skoolbus eens versuip het
vol kinders in haar ysterlyf
met stemme doof soos toe
die organe van my ouma
koebaai gesê het […].
Die gedig “Motorwrak (26) is veral aangrypend ten opsigte van sterk metaforiese taalgebruik:
Langs die pad
’n vaalrooi Toyota
soos ’n oopgesnyde
velddier met roesbloed
ystersiel en kilometers
van oraloor nou hier
tussen gras en grondgoed
’n laseroog
vir altyd soekend
na die spooksein van
’n radiostem.
’n Ander markante verwysing in “Ek begrawe klippe” (32) lui: “[…] en gaan lê en luister/ hoe die aarde onder my/ tektoniese somme maak […]”. In die gedig “Totsiens aan Oupa” (54) verwys die digter-spreker na die Jesusfiguur wat tydens sy aardse verblyf as skrynwerker gearbei het. Hy merk op: “na kamers/ waar houtwerkers sit/ en gesels met die seun/ van God.” Laasgenoemde voorbeelde is maar enkeles wat die bundel as geheel verruim en tot die estetiese geslaagdheid van die onderskeie gedigte asook die bundel as geheel bydra.
V
Ek was besonder beïndruk met die wyse waarop die bundel as geheel saamgestel en geredigeer is. Naas die gedigte self is daar ook ’n QR-kode waarmee lesers na opnames van sommige gedigte kan luister. Die bekende akteur, Neil Sandilands, lees die gedigte voor vergesel van musiek deur Jaco Mans. Habitus is ’n geslaagde debuutbundel wat ’n welkome toevoeging is tot die Afrikaanse poësielandskap. Kotzé toon ongetwyfeld talent met sy digvernuf wat die mens se optrede en gewoontes deurtastend dissekteer. Sy fynsinnige aanvoeling vir die woord en beeldspraak is prysenswaardig. Kotzé is ’n goeie keuse om die Podium-reeks af te skop. Indien hierop voortgebou word kan poësielesers uitsien na verborge talent wat ons op ons boekrakke te wagte kan wees. Die bundel verken diverse aspekte op kreatiewe en gekunstelde wyse. Habitus is ’n deurdringende bundel wat die leser op sielvolle wyse aangryp.
