

Johannes de Villiers

Jan Rabie-Rapportprys 2026
Wenner: Johannes de Villiers vir Op pad na ’n klooster in die sneeu
(Human & Rousseau)
Commendatio: Danie Marais
Johannes de Villiers se debuutroman, Op pad na ’n klooster in die sneeu, is ’n boek met ’n anderwêreldse, outydse sjarme. Die verlange na asketiese afsondering en heilige stilte, weg van die sinlose gespartel en gejaag na wind van die moderne wêreld, op soek na ’n ervaring van die goddelike, word hier met ’n groot klein boeiende verhaal verweef. De Villiers se eerste roman lees soos ’n waarskuwing aan almal op soek na filosofiese kortpaaie en eenvoudige oplossings vir groot eksistensiële vraagstukke. Die kompleksiteit van ’n strewe na geestelike verheldering en die prys en bereidheid tot die uiterste wat dit kos, word uit verskeie perspektiewe belig en ook bevraagteken aan die hand van ronde, feilbare karakters wat elk op hul eie manier worstel met die lewe en hul geloof. Elkeen is op ’n pelgrimstog, maar hoe hard hulle ook al die self probeer aflê in ’n doelbewuste stropingsproses, hul ydelheid en begeertes reis saam.
Die roman herinner, veral in die eerste helfte, aan die werk van Karel Schoeman – sowel in toon as tematiek; in die tweede helfte deels aan Ingrid Winterbach, maar baan selfversekerd sy eie weg na daardie ontwykende klooster in die sneeu – dikwels met meesleurende, liriese prosa. Die Katolieke taal wat die skrywer inspan, vang ook welluidend iets van die antieke mistieke vas en is ’n verryking van die Afrikaanse woordeskat.
De Villiers skryf ’n wêreld oop waarmee die meeste Afrikaanse lesers nie vertroud sal wees nie en wat op die rand van verdwyning staan. Soos die naamlose verteller se oom Adelbert dit in ’n brief aan hom stel: “Dit was my voorreg om in die laatskemer van ’n kwynende wêreld te kon leef. Ek is net-net genoeg tyd op aarde gegun om deel te wees van ’n kultuur wat nou saam met my sterf. Ek was een van die laaste mense wat kloosters, heiliges, monnike, lewende wonderwerkers beleef het soos dit sedert die donker eeue bestaan, dinge waaroor mens in ’n paar jaar net in boeke sal kan lees.”
Die enigste bestaansrede van die roman is om te ontdek wat net die roman kan ontdek, het Milan Kundera in The Art of the Novel geskryf. En dit is presies waarvoor De Villiers hierdie literêre vorm vaardig inspan. Op pad na ’n klooster in die sneeu verken die binnelewe van die soekende mens soos geen visuele kunsvorm kan nie. Dis ’n roman wat jou herinner watter sakrale, meditatiewe ruimte die katedraal van die letterkunde nog kan bied en ’n waardige wenner van die Jan Rabie-Rapportprys.
