Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 October 202627 October 2026

Johann Lodewyk Marais. Lina Spies se ongemaklike band met Harrismith en die Noordoos-Vrystaat

 

Alwyn Roux en Neil Cochrane (samest. en reds.) se Onthou is die dag wat breek: ’n Digterlike huldigingsbundel ter ere van Lina Spies (Naledi, 2026) het onlangs verskyn. Hoewel Spies op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore is en haar skooljare daar deurgebring het, en verwysings na die Vrystaat later in haar gedigte voorkom, ontvang hierdie vormingsjare minder aandag in die huldigingsbundel. Meer inligting oor die digter se verbintenis met haar jeugwêreld en uitsprake in haar gedigte oor die streek kan groter insig gee in Spies se verhouding met, en latere afstand van, Harrismith en die Noordoos-Vrystaat.

Tydens my skooljare was die jaarlikse besoek van ’n inspekteur aan die plaasskool op Mont Pelaan, of van ’n span inspekteurs aan die laer- of hoërskool op Harrismith, ’n belangrike gebeurtenis. Vir die skoolhoof en onderwysers was dit ’n geleentheid om hul beste voet voor te sit, terwyl die leerlinge vermaan is om “hulle werk te ken en ’n goeie indruk te maak”.

Twee van die inspekteurs met wie ek op Harrismith kennis gemaak het, was mnr. J.F. (Joggie) Spies en mnr. Paul Johl. Albei het kinders gehad wat later digters, letterkundiges en dosente sou word, naamlik Lina Spies en Johann Johl (1951–1996).

Mnr. Spies was vroeër hoof van die laerskool op Harrismith, wat nog gedurende my skooljare as die Volkskool bekend was. Hy het die skoollied geskryf, asook dié van verskeie ander skole en die Universiteit van Port Elizabeth. Verder het hy kinderrympies en kleuterversies in Fliefla siembamba (1981) en Toepa-toepa towery (2003) gepubliseer. In die gedig “Omvang” uit Tydelose gety (2010) beskryf Spies haarself as “’n vadersdogter” wat haar skrywerstalent van haar vader geërf het.

Spies het saam met haar ouers en twee jonger susters in die prinsipaalshuis in Murraystraat 45 gewoon totdat sy gematrikuleer en by die Universiteit Stellenbosch begin studeer het. In haar matriekjaar verskyn sy op ’n foto van leerlinge “wat goed gepresteer het”. Die gesin het hul vakansies op die plaas Leeukop by haar oupa in die distrik Vrede deurgebring, ’n plek waarna sy in haar gedigte verwys.

 

 

Oor Spies se debuutbundel, Digby Vergenoeg (1971), en die bekroning daarvan met die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys het ons skoolhoof, mnr. J.M. (Johan) Steyl, tydens ’n saalopening melding gemaak. Die bibliotekaresse, mev. Harriet van der Merwe, het my ’n keer die eksemplaar van die bundel gegee om te lees, wat “die oud-leerling Lina Spies” aan die skool geskenk het. Dit was ’n sterk debuut, en ek het veral van die buiteblad en die netjiese afronding van die gedigte gehou.

In 1976, die jaar ná ek in matriek was, het Spies haar geboortedorp en voormalige hoërskool besoek. Teen daardie tyd is haar tweede bundel, Winterhawe (1974), reeds gepubliseer en was sy reeds ’n bekroonde digter. Sy het ook haar Universiteitsonderwysdiploma aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat verwerf en haar doktorale eksamen in Amsterdam afgelê. Ná twee jaar as onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en ’n lektoraat aan die Universiteit van Port Elizabeth, het sy as dosent na haar alma mater, die Universiteit Stellenbosch, teruggekeer.

In ’n artikel, “Digteres besoek haar geboortedorp”, wat op die voorblad van die Harrismith Chronicle (30 Januarie 1976; ook in die skool se 1976-Jaarblad) verskyn het, skryf sy oor dié besoek. Die geleentheid het hom in Januarie 1976 voorgedoen, kort nadat die skole vir die nuwe skooljaar geopen het – ná “tien [of meer?] jaar se ononderbroke afwesigheid”. Oor die rede vir haar besoek skryf sy soos volg:

Vroeër of later breek daar in die lewe van elke mens die oomblik aan dat hy hom begin rekenskap gee van sy kinderdae en sy vroeë jeug, oor die kragte wat hom gevorm het. Dié rekenskap is terselfdertyd ’n afrekening.

Sy meld ook haar ontmoeting met die Afrikaans-Joodse digteres Olga Kirsch tydens die Taalfeesviering van 10 Oktober 1975 in die Paarl. Vir Kirsch sou haar begin “altyd verborge wees in Koppies, die klein Vrystaatse dorpie, al het sy haar volkome vereenselwig met Israel; haar lotsbestemming daar gevind”.

Die volgende opmerking van Spies is betekenisvol, hoewel van haar gedigte by nadere beskouing op ’n verwikkelde verhouding met die Noordoos-Vrystaat dui:

Vir my sal dit Harrismith bly – die mooi Noordoostelike dorp aan die voet van Platberg.

Die besoek aan Harrismith het per trein plaasgevind. Volgens haar het die trein “die laaste kilometers pynlik langsaam tussen koppe en heuwels deurgestoom”. Hierdie beskrywing spruit waarskynlik eerder uit poëtiese verbeelding as uit feitelike akkuraatheid, aangesien die spoorlyn tussen Bethlehem en Harrismith reeds geruime tyd tevore geëlektrifiseer was.

Die somerlandskap van koppe en heuwels het haar egter aangegryp. Dit was vir haar “mooi, hoe mooi”. Platberg by Harrismith, skryf sy, het “sy wegkruipspeletjie met my begin speel: skielik helder teen die horison en dan weer weg. Oral om my is groen van so ’n intensiteit dat dit wil seermaak.” Uiteindelik het sy tot die besef gekom dat “die Noordoos-Vrystaat bestaan in die reg van sy eie skoonheid”.

Tydens Spies se besoek was verandering en modernisering reeds sigbaar, maar nog nie die agteruitgang en verval wat die dorp later as deel van die geteisterde Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit sou beleef nie. By die Debora Retief-tuin in die middedorp kon sy nog “oorstap na die mooi ou stadsaal”, asof die tyd daar stilgestaan het (albei is vandag erg verwaarloos). Dieselfde geld die Oorlogsmonument ter nagedagtenis aan soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het, die Burgermonument en die stadsaal se horlosie, wat destyds nog getrou die tyd aangedui het.

Spies besoek ook die nuwe Drakensberg-arkade, die Kovisco-slaghuis en die ou VC-kafee en neem die veranderings in die dorp met ’n fyn oog waar.

Sy ontmoet weer haar Sub A-onderwyseres, mev. Nanda Hansen; die St. V-onderwyser in Afrikaans en Bybelkunde, mnr. Jan Bonnet, ’n meesterverteller; en mnr. Thys Beukes, vir wie sy in St. VI “met vreugde opstelle geskryf” het. (Ek was in 1973 deel van Beukes se laaste Rekenkundeklas, en St. VIII is daardie jaar vir die laaste keer as openbare eksamen afgelê.) Sy onthou ook haar Afrikaansonderwyser, mnr. Len Lindeque, wat toe reeds oorlede was en wie se “liefde vir Afrikaans […] soos ’n magnetiese vonk na [haar] oorgespring” het.

By die Engels- (en Latyn-)onderwyseres, Miss Helen Scott, se klein sandsteenhuis in Stuartstraat 71 het sy “tee gedrink – so Engels as wat dit maar kon wees, met kaasbotterbroodjies en al” en vervolg:

 

[Sy] lees […] weer vir my ’n gedig [van John Betjeman] in die bekende voorkamer met sy gekleurde glasruite; ’n ironiese gedig oor vooruitgang. Terwyl ek ontroerd luister soos destyds in St. VIII dink ek weer aan Pep Stores en O.K. Bazaars.

Voor sy die artikel afsluit met ’n gedig, “Harrismith: Noordoos-Vrystaat” (ook opgeneem in Dagsoom, 1976), wat verdere voorbeelde bied van hoe die dorp verander het, skryf sy:

 

’n Mens wat ’n dorp en ’n straat het, is ’n gelukkige mens. Ek is bly dat myne lê aan die voet van ’n berg. Omdat Platberg nie kan verander nie, sal ek ook nooit heeltemal vervreem of vergeet nie.

 

Een van Spies se bekendste gedigte is “’n Paternoster vir Suid-Afrika” uit Digby Vergenoeg, waarin sy die tyd van die somer beskryf wanneer skape deur spanne werkers, tradisioneel trekarbeiders uit die Oos-Kaap, geskeer word. Die gedig roep jeugervarings en herinneringe op van haar kinder- en jeugjare in die Noordoos-Vrystaat, asook besoeke aan die plaas Leeukop. Tydens die sogenaamde Wool Boom van die 1950’s, ’60’s en ’70’s was Harrismith-distrik een van Suid-Afrika se voorste wolproduserende distrikte.

In dieselfde gedig word ook aangedui dat hierdie wêreld agtergelaat is: die “bale is lankal toegewerk en weggestuur,/ die wololie van my voete afgewas,/ my bene nie meer lam getrap nie”. Reeds vroeër in dieselfde bundel, in “Brief oor die Baai”, verklaar die spreker dat “al die Vrystaatse stof […],/ al die Calvinisme, al die droogte” weg is en sy sê selfs onomwonde, byna soos ’n sportkreet (Spies was lank ’n kranige WP-rugbyondersteuner!): “Boland bo, Vrystaat onder.” Dan voeg sy by: “Ék het die Vrystaat tog vergeet.”

Maar die band met haar jeuglandskap blyk nie volledig verbreek te wees nie. In “Heimwee” uit Die skaduwee van die son (1998) word sy verras deur heimwee “aan ’n landskap/ wat nog net in die ver verlede pas”, terwyl herinneringe aan die Vrystaat, die Malutiberge en die rooi tamboekiegras opgeroep word.

In “Uiterstes” uit Duskant die einders (2004) skryf sy hoe sy as student op Stellenbosch eerder die berge van die Boland leer liefkry het:

 

Waar my oë voorheen

goue kranse kon verken,

kan ek hul nou op pieke rig

wat hoër, blouer na die hemel reik.

 

Die slot van die gedig suggereer dat die afwesigheid van berge in Nederland waarmee sy as student en besoeker ’n hegte band ontwikkel het, tog ’n voordeel inhou:

 

Miskien omdat wat ’n mens

verloor aan hoogte, jy aan diepte wen

deur al die slote, kanale, gragte.

Alles bogronds en in die ruim

– gewels, torings, bome, wolke –

kan jy in weerkaatsing dubbel sien.

 

In die gedig “Terug na Leeukop: Distrik Vrede, Noordoos-Vrystaat” uit Duskant die einders word Leeukop ná ’n herbesoek as “bedroë en verdwaas” voorgestel, terwyl die besoekers as “verbonde bannelinge” die plaas slegs deur verbeelding en herinnering kan vergelyk met die eertyds geliefde plaas. In die gedig “Liewe Antjie Krog” uit Oorstaanson (1982) het sy tog ná ’n besoek aan Krog en haar gesin in die Vrystaat “geleer/ dat die aarde om sy prag ontwil/ die watermerk van ons lewens bly”.

Uit Spies se gedigte blyk sowel haar kennismaking met as haar vervreemding van die uiteenlopende ruimtes waarmee sy oor die jare ’n band opgebou het. Veral opvallend is haar diepe ontnugtering met en aversie teenoor Pretoria, die onderwerp van die bundel Van Sjofar tot Sjalom (1987). Dieselfde tendens is waarneembaar ten opsigte van die Noordoos-Vrystaat en, by tye, die Boland. In “Vreemde tuiskoms” (uit Die skaduwee van die son, 1998) verklaar sy dat sy “nie meer vanself behoort nie”, want “Nederland lê ver, lê ver” en omdat die berge haar “uitsig versper”. Uiteindelik skep haar poësie die indruk dat sy ’n noue, moontlik selfs permanente, verbondenheid met Nederland sou verkies het bo Suid-Afrika, ’n land waarmee sy in verskillende lewensfases ’n komplekse en dikwels ambivalente verhouding gehandhaaf het. Van Afrika buite Suid-Afrika se grense is daar nietemin selde sprake in haar oeuvre, hoewel hierdie waarneming bloot as ’n terloopse opmerking bedoel is.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Johann Lodewyk Marais. Samekoms

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember

Nuutste bydraes

  • Marius W Garbers. Glo deur die solderdeur
  • Johann Lodewyk Marais. Lina Spies se ongemaklike band met Harrismith en die Noordoos-Vrystaat
  • Anton Döckel. Stofstraat
  • Johann Lodewyk Marais. Samekoms
  • Margaret Cordier-Biermann. Verjaarsdagblomme 28 April 2026

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Marius Crous. Vier gedigte26 October 2026

    Uitstekend.

  2. Versindaba on Marius Crous. Vier gedigte25 October 2026

    Jacobus, "Dr. Swathe" se onvanpaste kommentaar is verwyder.

  3. Etienne on Andries Fourie. Waar die stilte wit is24 October 2026

    Mooi

  4. Bernard Odendaal on Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)24 October 2026

    Robert Schall weet hoe om vertalend reg te laat geskied aan ‘n treffende Afrikaanse óf Duitse gedig.

  5. Jacobus Swart on Marius Crous. Vier gedigte24 October 2026

    Daar sal in 'n samelewing altyd diegene wees wat die Parthenon op die Akropolis in 'n favela wil verander. Dr.…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d