Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
30 October 2026

Johann Lodewyk Marais. N.P. van Wyk Louw se “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” as vermaning

Voorligting was op skool ’n vak wat veronderstel was om vir leerlinge die pad na die toekoms aan te dui. Ek het die vak by twee of drie onderwysers aan die Hoërskool Harrismith gehad, maar die presiese inhoud van die kurrikulum wat hulle moes aanbied, was vir my nooit heeltemal duidelik nie. Tog het die klas, dikwels met min moeite, ’n geleentheid geword om by die betrokke onderwyser iets te leer (of soms vir ander klasse voor te berei!).

Wat die onderwysers as riglyn gebruik het, was onder meer die toetse wat leerlinge moes aflê om ons beroepsaanleg en belangstellings vas te stel. Daarbenewens het die onderwysers ook oor die IK-toetse beskik wat ons in St. VI geskryf het, en wat gebruik is om – soms subtiel, soms minder subtiel – daarna te loer en leerlinge se potensiaal te “bepaal”. Vir sommige was die terugvoer van die onderwyser nuttig, maar vir ander eerder verwarrend, stereotiperend en selfs afbrekend.

My een voorligtingonderwyser het eenmaal N.P. van Wyk Louw (1906–1970) se “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” uit Nuwe verse (1954) vir ’n hele periode se les gebruik. Of hy die Roggeveldtse milieu van die gedig behandel het, kan ek nie onthou nie; waarskynlik was dit ook nie nodig vir sy interpretasie en die boodskap wat hy aan ons wou oordra nie. Dit was die jare toe skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink en, in ’n mindere mate, Etienne Leroux omstrede figure was. Dat ek en ’n vriend byvoorbeeld Breytenbach en Brink gelees het, het reeds gevaarligte laat aangaan.

Die betrokke onderwyser, wat later op Stellenbosch verder gaan studeer en toe predikant van ’n buurdorp se NG Kerk geword het, se voorlesing van die gedig het ’n groot indruk op my gemaak, al het ek toe alreeds die gedig self gelees. Die landelike verwysingswêreld in die gedig en aktiwiteite op die Sutherlandse dorpswerf was bekend: Heelparty van ons het met posduiwe geboer of mense geken wat duiwe aangehou het en in die Noordoos-Vrystaat was perde gewild, my familie was perdeliefhebbers en van my vriende en vriendinne het graag perd gery.

Nou, tydens die herlees van hierdie groot gedig van Van Wyk Louw, tref my weer die digter se fyn beskrywing van die duif en die perd – hul gedrag, gewoontes en plek op die werf. Saam met gedigte soos Raka (1941), “Die strandjutwolf”, “Die swart luiperd” en “Drie diere” uit Gestaltes en diere (1942), sowel as “Die narval”, “Svend Foyn het die harpoenkanon” en “Satan-Helios” uit Tristia en ander verse, voorspele en vlugte (1950–1957; 1962) behoort dit tot die Afrikaanse letterkunde se skitterendste dieregedigte.

Hoewel die verwysings na die Romeinse en Asteke-geskiedenis in die gedig nie vir ons bekend was of uitgelig is nie, bly die landelike beelde en verwysings in “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” helder en maklik herkenbaar.

Hoe die onderwyser die slot van “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” geïnterpreteer en dit daardie dag klaarblyklik direk op my van toepassing gemaak het, het my nie ontgaan nie. Die beeld van die hings se gebondenheid aan die einde, “wanneer die grendelhout val”, is as ’n lewensles voorgehou. Hierdie les is skerp gekontrasteer met die werk van sommige van die Sestigers, wie se lewensbeskouing en sogenaamde “losbandigheid” en “losgeslaanheid” as ’n bedreiging vir die heersende orde beskou is. Teenoor hulle is die beeld van die ingeperkte perd gestel: “magtig, gebonde, beheers en mooi”. Ek het ongemaklik gevoel oor só ’n toepassing van Van Wyk Louw se gedig, maar dit was nie ’n tyd waarin ’n mens in die klas sou terugpraat nie.

© Johann Lodewyk Marais, 2026

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember

Nuutste bydraes

  • Johann Lodewyk Marais. N.P. van Wyk Louw se “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” as vermaning
  • bevan boggenpoel. oupa doela
  • Wat lees jy? “Douwenis” (Daniel Lötter)
  • Marius W Garbers. Glo deur die solderdeur
  • Johann Lodewyk Marais. Lina Spies se ongemaklike band met Harrismith en die Noordoos-Vrystaat

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Marius Crous. Vier gedigte26 October 2026

    Uitstekend.

  2. Versindaba on Marius Crous. Vier gedigte25 October 2026

    Jacobus, "Dr. Swathe" se onvanpaste kommentaar is verwyder.

  3. Etienne on Andries Fourie. Waar die stilte wit is24 October 2026

    Mooi

  4. Bernard Odendaal on Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)24 October 2026

    Robert Schall weet hoe om vertalend reg te laat geskied aan ‘n treffende Afrikaanse óf Duitse gedig.

  5. Jacobus Swart on Marius Crous. Vier gedigte24 October 2026

    Daar sal in 'n samelewing altyd diegene wees wat die Parthenon op die Akropolis in 'n favela wil verander. Dr.…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d