Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
4 November 20263 November 2026

Joan Hambidge. Landskappe en argiewe

 

I

Die afgelope week doen die uwe navorsing in Bloemfontein. Die Etienne Leroux-kamer aan UOFS word besoek ter navorsing vir ‘n nuwe roman. Argivale navorsing is besonder veeleisend, veral omdat ‘n mens objekte of artefakte ontdek wat jou aandag aftrek of alles op ‘n syspoor plaas. Die stof. Die ongesorteerde dokumente. Resensies van boeke binnelands en buitelands. ‘n Dagboek wat ek nie kan vind nie. ‘n Ou bandopnemer.

‘n Mens kry weer respek vir Karel Schoeman en A.S. Byatt vir hul enorme werk.

 

Pieter Fourie se jakkalsvelbaadjie 

 

Aan wie het die jakkalsvelbaadjie behoort wat op die tafel uitgestrek lê? Dit het behoort aan Pieter Fourie, die dramaturg en digter. ‘n Getroue vriend van Leroux. ‘n Pyp met twak in.

Leroux se tikmasjien en sonbril is ook hier. Leë dagboekies. Vele foto’s en studies oor sy werk. Lesings deur Leroux. Die impak van sensuur. Sy boeke in vele vertalings. Relevant ook om te sien watter boeke uit sy studeerkamer hier staan. John Dos Passos. Updike. Saul Bellow …

Pieter Fourie, Brink, Ingrid Winterbach is ook in die argief te siene.

Afhangend van op watter onderliggende verwysingstruktuur jy fokus, modelleser, sal die teks oopwaaier na ‘n ander interpretasie. Mitologie, inisiasie, die speurverhaal, ingebedde Russiese romans of die kabbala. Ook die vriendskap met Graham Greene, daardie gedugte skrywer van The power and the glory uit 1940, staan hier.

Al is hierdie skrywers sinies of selfs krities oor Bybelse kwessies word dit in hulle tekste geaktiveer. Veral Leroux stel ongelooflike eise aan sy leser met betrekking tot die filosofie

Ek tel ‘n getekende eksemplaar op van Hilaria. Daardie beroemde wyshede is steeds relevant:

 

Hilaria:

Wat is dit wat alles meteens laat verander?

Jou tevergeefse soektog.

Die verwydering vind voor jou oë plaas. ‘n Glimlag verander, ‘n kontak verdwyn, ‘n situasie word vreemd, begrip word onbegrip, harmonie disharmonie, belang belangeloosheid.

Weltschmerz met seekatkloue.

(1957:79)

 

Die pynlike egskeiding van Renée, die skilder, word in die pers aan die groot klok gehang.

Ek maak ‘n swart legger oop oor 18-44. Resensies van hierdie belangrike teks. Renske Koen se legger is leeg. Sy het gesterf op 1 Januarie 1986 in Pretoria. ‘n Vriendin van Elize Botha, ‘n uitsonderlike Leroux-leser.

Die aand voor die tragiese motorongeluk was ek by Renske. Sy en haar man is op slag dood en die kind is erg beseer in die ongeluk toe hulle onder ‘n stilstaande vragmotor ingery het. Pretoria. Uit Lyttelton stad toe.

Die volgende oggend sien ek die berig op die voorblad van ‘n koerant. Bel vir wyle Stephan Bouwer oor die skokkende nuus. Ons het albei oor haar geskryf. ‘n Vers staan opgeteken in Bitterlemoene.

 

II

T.S. Eliot Myth deur Rossell Hope Robbins wat in 1949 verskyn het, vang my oog. ‘n Belangrike studie oor die invloed van die mitologie en hoe moderne lewe in Eliot se tekste funksioneer. ‘n Besinning oor hoe ‘n skrywer die chaos van die moderne lewe probeer beheer met antieke mites. Die impak van oorloë en hoe Eliot hieruit probeer sin maak het in The Waste Land.

Die studie verwys ook na James Frazer se The golden bough.

Daardie belangwekkende studie oor mites, dood-en-hergeboorte rituele en al die kultusse rondom vrugbaarheid.

Dit staan ook in die Leroux-argief. En die invloed van haar studie op Leroux se werk moet verder ondersoek word.

 

III

‘n Navorsingsbesoek vir my nuwe roman Wentelbaan.

So het Johann de Lange die grootse Leroux gehuldig:

 

Etienne Leroux (1922 – 1989)

 

Die boek wat jy met ‘n begrafnis

wou begin, het met een geëindig:

‘n Verhoogarties sal

in die oseaan sterf.

 

Jy het gesterf

in ‘n tyd waar mense

al hoe jonger sterf

aan verveling, vuur en VIGS

(het God/god muteer?).

Ek sal jou goliardiese humor mis.

 

Ek sien jou nog staan

en rook, jou oë onkenbaar

agter die donkerbril

(oë wat die noodlot drink),

die tawwe leerbaadjie

om jou skouers

soos ‘n wafferse eendstert.

Jy was die mooiste man.

 

Ons het nooit gesels nie;

tog glo ek jy’t verstaan:

jy het man en vrou

in jou gebrokenheid behou,

‘n punk-Teiresias

in die shopping centre

(ons kollektiewe onbewuste).

Die man met ‘n doodsbesef

wat besluit het hy wil lewe.

 

Ek groet jou, sagsinnige Colet,

uit my wêreld

van plofstof en plastiek,

en wens jy was steeds hier

op ons gedoemde Titanic.

 

 

Joan Hambidge

Kaapstad 3 November 2026

 

Bronne:

Frazer, James. 1890/1976. The golden bough. Londen: MacMillan.

Greene, Graham. The power and the glory. Londen: Heinemann.

Hambidge, Joan. 1986. Bitterlemoene. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kannemeyer, J.C.  2008. Leroux – ‘n lewe. Pretoria: Protea.

– Op weg na Welgevonden: ‘n Studie van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins. Pretoria: Academica.

Leroux, Etienne. 1957. Hilaria. Pretoria: Haum.

Robbins, Rossell Hope.  1949. The T. S. Eliot Myth.  Berkeley: University of California.

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Op die narreskip

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember
  • Margaret Cordier. Tog
  • Stephan du Toit. Florence Nightingale

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Landskappe en argiewe
  • Miel Vanstreels. Na soveel jare
  • Hennie Nortjé. Raka in my tuin
  • Marieta McGrath. Resensie van ‘n huweliksverblyf
  • AVBOB Persverklaring

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Marius Crous. Vier gedigte26 October 2026

    Uitstekend.

  2. Versindaba on Marius Crous. Vier gedigte25 October 2026

    Jacobus, "Dr. Swathe" se onvanpaste kommentaar is verwyder.

  3. Etienne on Andries Fourie. Waar die stilte wit is24 October 2026

    Mooi

  4. Bernard Odendaal on Johan Myburg. Vertaling uit Afrikaans in Duits. (Vert. Robert Schall)24 October 2026

    Robert Schall weet hoe om vertalend reg te laat geskied aan ‘n treffende Afrikaanse óf Duitse gedig.

  5. Jacobus Swart on Marius Crous. Vier gedigte24 October 2026

    Daar sal in 'n samelewing altyd diegene wees wat die Parthenon op die Akropolis in 'n favela wil verander. Dr.…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d