![]() Aniel Botha word in Kaapstad groot. Sy verwerf ’n B.Ed-graad aan die Universiteit Stellenbosch asook ’n M.A. in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Op sewentienjarige ouderdom word sy gediagnoseer met die eetsteurnis anorexia nervosa, waarna sy eindelik op 23-jarige ouderdom op aanbeveling van ’n sielkundige in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word. In 2010 verskyn haar aangrypende joernaal ‘n Dans met die dood, wat handel oor haar ervarings in die psigiatriese hospitaal se eetsteurnisafdeling en haar stryd om herstel. Haar debuutdigbundel Pirouette verskyn in 2012 en was ook op die kortlys vir die ATKV se poësieprys in 2013. In 2020 word haar gedigte ‘Jy raam en hang my’ en ‘Pas de chat’ in Vers en vrou opgeneem. Aniel werk as vryskuttaalpraktisyn en privaat tutor, en sy is ook gekwalifiseer as balletonderwyser. |
Krismis
Oupa klink nóg ‘n glasie
om sy oorwinning in die stryd
teen alkoholisme te vier.
Sy vrou, die wrede stiefouma, gesels
met ‘n goeie dosis snobisme
oor háár kleinkinders se intellektualisme.
Pa doen die tafelgebed met sy beste
ouderlingstem, geoefende balans
van vroomheid en sinisme –
dominee sou ‘n ding of twee kon leer.
Ma staar na die gekraakte muur
vol leë beloftes van skilderye
en beter dae, skryf die naakte
waarheid af as minimalisme.
Niks hiervan pla my broer nie –
hy glo hy glo aan niks meer nie
(die kulkuns van ateïsme).
Ongestoord kou hy sy vis en tjips,
spoeg tussendeur grate
en anglisismes uit.
Ek hou hulle dop, my familie van -ismes.
Dank die Heer dis net een keer ‘n jaar Krismis.
Pluto
Ek stuur per satelliet ‘n boodskap om jou mee te deel, Liewe Pa,
dat jy, spil waarom my vyfjaar-bestaan gebolmakiesie het,
ontslae is van my kinderlike konstellasies hoekom-vrae.
Deesdae haal jy die onderwêreld van my bewussyn net-net,
verban tot die rand van my sterrestelsel. Ek wou dit nie
so hê nie: jy het jouself tot dwergplaneet gepluto.
As ek reg onthou is dit jý wat mý verruil het vir die
glimmende rekenaarskerm: getroue Chevron
wat jou e-posse – daardie geraamtes van kommunikasie –
karwei. Ek wonder soms: sou jy terugkom as jy kon?
Partykeer, ek moet erken, wens ek dat jy dit wil doen.
Dan bêre ek jou, metaanysklippie, maar weer in my donker skoen.
(Gedigte uit: Pirouette, Queillerie, 2012)