Annie Klopper is ’n skrywer, digter, taalpraktisyn en nagraadse navorsingsgenoot verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland. Annie behaal ’n B.A. in Geesteswetenskappe asook ’n Honneurs en ’n M.A. in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Die titel van haar MA-verhandeling is “Die opkoms van Afrikaanse rock en die literêre status van lirieke, met spesifieke verwysing na Fokofpolisiekar”. Op haar MA volg die publikasie van haar debuutboek getiteld Biografie van ’n bende: Die storie van Fokofpolisiekar (Protea, 2011), dié rockgroep se amptelike biografie. In 2017 behaal sy haar PhD aan die Universiteit Stellenbosch met ʼn studie getiteld “Identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek met spesifieke verwysing na Die Antwoord, Jack Parow en Bittereinder”. In 2018 verskyn haar fiksiedebuut Die tragiese saak van Pamina Vermaak (Kwela) wat genomineer is vir ʼn ATKV-Woordveertjie. Van haar gedigte is opgeneem in Penseel 2007 (Universiteit van Stellenbosch), Versindaba 2008 (Protea Boekhuis), Nuwe stemme 4 (Tafelberg), Toulopers (Lapa) en Sterkykers (Lapa). Sy was ook mede-navorser vir die MK-dokumentêr Johnny en die Maaiers, mede-samesteller van die 2007-heruitgawe van Eugene Marais se Die Siel van die mier (Protea), bydraer tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (Sun Media). |
oujaarsdag op Baardbos
in die omtrek van plusminus een dosyn hoenders
’n gebreklike stoepkoei, hartseer perdeoë, skedels, roes, dorings en
’n karavaan sonder wiele, baklei
twee honde met onpeilbare genetiese samestellings
op die stoep van die pub-grill-and-venue
waar rugby gekyk word,
troues en verjaarsdae gehou word en
’n antie met flappende onderarms beduie
dat die balp in ’ie toilets geblaas is
waar ’n hartseer handdoek slapper hang
as die mense by die bar
en ’n middeljarige man in sy broek pis
omdat hy nie sy pad na die krip
kan vind nie
en in sirkels sal slinger
tot hy hier sterf
© Annie Klopper. Nov. 2012
ingenieur
vanaand wil ek graag ’n ingenieur blameer
want in hulle siviele hoedanigheid
en obsessie met praktiese funksie,
tyd, geld en somme
onderskat hulle dikwels die ról van brûe
miskien, as ’n ingenieur destyds gedink het
aan die estetiese moontlikhede van ’n brug
miskien as brûe meer flambojant was
het ek gekies om vanaand bloot oor ’n brug
na jou te stap
eerder as om ’n storie oor ingenieurs
hier neer te krap
en mooi woorde te gebruik
om jou te probeer
bereik
© Annie Klopper. Mei 2010
strelitzia
dit was reeds te laat vir verskonings maak
toe mevrou Susan van Breda – enkele sekondes
nadat sy die oggend om stiptelik sewe-uur
met ’n lang sigaret
tussen gladde naels agter die stuur
van haar luukse sedan ingeskuif het –
skielik
geskok
na die linkerkant van haar simmetries
geplaveide siersteenoprit staar
dit was reeds te laat vir verskonings maak,
ja,
maar
dalk
indien sy nie so besig was om
(met die staar saam)
aan verskonings te dínk nie
sou sy dalk ten minste redes kon kop
waarom haar seun haar strelitzia
stukkend sou wou skop
© Annie Klopper. Maart 2010
’n Doos met rose op
in ’n stampvol trein se stampvol hoek
tussen Clocolan en Bloemfontein
staan ’n vrou met ’n doos
met rose op
(haar oë se blou is bruin)
haar waterige oë het glase oor
sy’s vuil en haar voete kaal
haar bruinpienk trui
het hare op
en haar rubbervel is vaal
die mense ken al die roosdoosvrou
tussen Clocolan en Bloemfontein –
in haar vuilpienk doos
met rose op
kriewel daar iets klein
uit ’n roospienk doos in ’n stampvol trein
wat ruk met ’n steenkoolsang
haal die vuilvoetvrou
’n katjie uit
en sy vryf dit teen haar wang
die mense wat kyk na die stinkvoetvrou
in die steenkoolstoom na Bloemfontein
sien ’n vaalpienk vrou
met ’n roosdooskat
en hulle harte word piepklein
gaan soek maar na die vuiltruivrou
tussen Clocolan en Bloemfontein –
in haar vuilpienk doos
met rose op
bêre sy jou pyn
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008