Danie Marais is in 1971 in Kimberley gebore, gaan in Pretoria skool en behaal in 1993 op Stellenbosch ‘n B.Com-graad met regsvakke. Hy studeer in die onderwys aan die Carl von Ossietzky Universität in Oldenburg, Duitsland, met Duits, wiskunde en filosofie as hoofvakke. Hy woon en werk tans as vryskutjoernalis en -skrywer in Stellenbosch. Marais is ‘n boekjoernalis en skryf ‘n gereelde rock-rubriek vir Beeld en Die Burger. Hy was ‘n draaiboekskrywer vir Binneland sub judice en op Bush Radio medeaanbieder van die musiekprogram The Unhappy Hour saam met Clive Smith, Toast Coetzer en Erns Grundling. Hy het sy vrou, Karlien de Villiers, se eerste grafiese roman, Meine Mutter war eine schöne Frau, in Duits vertaal. In 2007 het hy deelgeneem aan Poetry International in Rotterdam en is opgeneem in die Nederlandse bloemlesing, Hotel Parnussus: Poezie van dichters uit de hele wereld. Marais het ook deelgeneem aan Poetry Africa 2007 in Durban. Vir sy debuutbundel, In die buitenste ruimte (2006), het hy die Ingrid Jonker-, Eugène Marais- en UJ-debuutprys ontvang. Sy tweede digbundel, Al is die maan ‘n misverstand, het in 2009 by Tafelberg verskyn gevolg deur Solank verlange die sweep swaai in 2016. Hy het ook die bloemlesing As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe (Tafelberg, 2009) saamgestel, ‘n versameling van essays, briewe, kortverhale en strippe oor ervarings van emigrasie en of verblyf in die buiteland. Hy was ook een van die samestellers van Nuwe Stemme 4 (2010) saam met Ronel de Goede. Verskeie van sy gedigte word in die 2008 uitgawe van Groot verseboek opgeneem en van sy gedigte word ook opgeneem in die versamelbundels Nuwe stemme 3, My ousie is ‘n blom, Honderd jaar later, en Versindaba 2006. |
Stellenbosch Revisited
Stellenbosch is kastig ‘n classic,
maar ek het haar 20 jaar gelede
by die venster uitgesmyt –
“hopeloos oorskat” het ek gesê,
soos On the Road, Parys of die 60’s.
Liewer grinterig lewe en na hartelus vergaan
as ‘n versuikerde pilletjie elke dag
in dié aftree-oord van drome, dankie.
Maar dis 20 jaar later en ek weet nie meer lekker
waaroor ons provinsiale stryd destyds was nie.
Ek wantrou steeds Hollywood, Frankryk en kerkmusiek –
alles wat te geslepe, mooi of monumentaal is,
maar o, Stellenbosch, dis 20 subversiewe jare later en ek is besig
om weer ‘n swak te ontwikkel vir jou
bleddie beautiful Bolandse lentes jou teatrale
sonsondergange, jou selfingenome berge.
Jy lyk wragtig nie ‘n dag ouer nie, inteendeel,
jy’t laat werk aan jou gesig jou cappuccino’s
stoom onverstoord geborge
in die blaaie van ‘n Lonely Planet-gids.
Stellenbosch, bokkie, I’m not okay
and you’re not okay
maar dis oukei –
wat jy sien, is wat jy kry
en ek kyk nou sonder verwagtings,
sonder wanhoop of verweer na jou lanings,
jou akkers, jou wingerde, jou blakende, weselose studente
al jou edel sentimente.
Jy was eintlik onskuldig,
intellektueel misbruik soos meeste simbole
‘n magtige lugspieëling, erfsonde
van ‘n hulpelose rykmanskind.
Stellenbosch, on second thoughts,
jy is ‘n verkragte classic –
‘n bergie met ‘n gewel uit 1840
vir ‘n hoed, ‘n Picasso met ore
vir oë en monde vir ore; ‘n meer tragiese
verstrengeling van lig en donker, ‘n beter balans
tussen waarheid en digting
sal jy kwalik kry, maar ek bly
die period piece, ek is verby
nou eers kan ek jou argitektuur
in die skemering bewonder, nou eers
gaan ek vredig lê soos stof
om die fyngetrekte Kaaps-Hollandse lyne
van jou brose, jou wrede ou, barbaarse beskawing.
© Danie Marais. Okt 2010
Nuwe oë
Die liefde is nie ’n dokter nie,
maar dis diep narkose –
die natuur se eie date-rape drug –
en ek en jy het eers jare later
in ’n skakelhuisie in Woodstock bygekom
aan ’n geel kombuistafel met ’n kakkerlak
vasgekeer in die digitale horlosie
van die nuwe mikrogolfoond en ’n brommer wat
al teen die al teen die al
teen die kombuisvenster vas.
Jy was besig om girts-girts botter
op jou roosterbrood te smeer en ek kon nie
glo ek het nooit voorheen die gapende swart
Mamma-en-Pappa-groottegat
in jou bors voel suig nie.
Ek het gestaar.
Dit was hipnoties, het gesing –
’n sirene.
Jy het opgekyk en geglimlag nes steke
wat ooptrek.
Jy het op ’n druppel soos my vrou gelyk.
In die kamer het ’n babadogter vir ons
“Mamma!” en “Pappa!”
begin huil
*
Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden
Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?
Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.
Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …
Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.
Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.
Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
© Danie Marais. Feb. 2010
Metafisika vir beginners
Siel is die geheimsinnige een
– niemand weet lekker van Siel nie –
Siel is ’n lugvaring
’n puur onsterflike gedagte
Siel is glo die belangrikste een
Siel is soos potensiaal –
’n blanko tjek, maar onmoontlik om te wissel
Siel se gewig en waarde voel jy eers
wanneer jy Siel reeds verkoop het
Hart is ’n hoender
wat dink hy’s Bruce Lee
Hart is ’n mal professor se idee
van ’n vliegmasjien
Hart sien kans vir ontelbaar
Hart is punk-rock
Hart is ’n tydbom in jou bosak
Hart is die wind in sy eie waansinnige seile
Hart is onweerstaanbaar as sy kaal swem
Hart is aantreklik as hy slaap
Hart is ’n verlore saak
Siel is Hart se laaste hoop
Verstand sug net oor Hart en Siel
Verstand is iemand wat Rede verstaan
Rede glo heimlik dat Verstand
deur Hart en Siel benewel word
Rede sê Siel is Hart se denkbeeldige maatjie
Verstand sê Rede se grootste probleem
is dat hy nie die behoefte
aan Hart en Siel ernstig opneem nie
dat hy nie die implikasies van Die Onderbewuste verstaan nie
Verstand sê Rede moet ophou om te glo
hy’s Verstand se meerdere
Rede steur hom nie aan Verstand se kinderpraatjies nie
Hart en Siel woon
saam met Rede en Verstand
in Mens
Die Onderbewuste kruip in die kelder weg –
tot die tande gewapen
Rede sê Mens is ’n woord
wat te hoog mik
Verstand sê Rede projekteer maar net
Hart fluister iets geheimsinnigs
in Siel se oor
Uit die kelder kom ’n moerse lawaai
Maar Mens bestaan uit Man en Vrou
“Stil nou!” brul Mens
“Vrou wil vir Man iets sê”
En Vrou neem Man se hand en bieg:
“Ek kan nie meer sonder jou lewe nie”
Man gaan op sy knieë en vra:
“Sal jy met my trou?”
Vrou sê oorstelp: “Ja!”
“Dis ’n fokop!” sê Rede
en Verstand knik somber sy kop
Hart bestel ’n ronde Tequila
vir hom en sy onsigbare vriend
en stel ’n heildronk in:
“Op Ware Liefde!”
In die kelder is dit onheilspellend
stil
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008