![]() Fanie Olivier is gebore in Pretoria, word groot in die Kaap & leer skryf in Durban. Hy studeer Regte en Afrikaans op Stellenbosch en waar hy lid is van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. Verdere nagraadse studie volg in Utrecht, Nederland en hy promoveer op Potch. Hy doseer by die ou Universiteit van Natal en [eweneens] Durban-Westville, gee daarna onderwys op Graaff-Reinet en maak ’n draai by die ou Skiereilandse Technikon. Kunsredakteur by Rapport vir drie jaar, en dan weer dosent by die [nou nog bestaande] Universiteit van Venda. Praktiseer ook om den brode daar as advokaat. Hy werk vir amper twee jaar by Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole en dan, die dood ter wille, weer as advokaat in Durban. Sedert einde 2007 terug by die nou nuwe Universiteit van KwaZulu-Natal, maar hy loop in Maart weer die Poolse paadjie terug. Hy tree af in Stilbaai.
Hy debuteer in 1971 met die bundel gom uit die sipres. publiseer naas die debuut ses ander bundels. Sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Digters en digkuns, Die dye trek die dye aan, Kraaines, Miskien sal ek die wingerd prys, Verse vir Opperman, en Nuwe verset. Hy stel verskeie versamelbundels saam. Dit sluit in Goudaar (1986) ter herdenking van Johannesburg se eeufees, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte en As die son kom oogknip . Hy vertaal in 2009 JM Coetzee se Disgrace. |
wonder
dis seer
so ‘n somerdag op graaff-reinet
as ek die strate deur en weer
stilhou voor die huis agter die luike
met bougainvilleas in potte op die stoep.
verby die drumpel weet ek hoe dit lyk:
onthou ek die trappie waar was ons bed
die lang tuin met ‘n prieel en struike
hoor ek hoe jy van iewers roep
dat ek moet inkom om te eet.
ek het net daar gesit toe jy my hare stryk
en vra wat is verkeerd. hoe bot
hoe dom hoe gruwelik was ek:
‘n droogtesomer waarin alles vrek.
behalwe dat die prieel se wortels tot
diep onderkant die huis se fondament
en ver anderkant die erf se grense strek.
eet jy nog saans alleen of het jy
daar bolands heeltemal van my vergeet?
is iets hiervan tog nog bekend?
miskien
sal jy my kan vergewe dat ek lol
as jy die druiwe swaar en swart sien
hang, dalk inklim en soontoe uitry
om te kyk hoe lê die uitgedorde dam
van toe nou tot aan die wal se bokant vol.
——————————————
ek het gaan loop
om van my te vergeet en van ons te onthou
en hierdie dinge opgetel:
die maand sterf aan sy blare
terwyl die winter in sy bessies gloei
en lukwarte beginne swel
o liefste, my hart is ryp aan hoop
my neus roosvol van jou ver hare
(was hier ‘n station sou ek ‘n ruiker koop!
‘‘n tuin sou ek een steel ‘n veiling
‘n hele houer vol) nou
word dit lig die dag by jou berge aan die bloei
en wat ek opgetel het sit ek neer
op hierdie vel en in ‘n bruin koevert
jy weet dit nie – jy kan my immers nie vertrou –
maar ek voel hoe die dinge weer
van nuuts af vorm kry na jou toe groei
soms weifel ek word ek oor vroeër droogtes bang
– dit moet jy my vergewe soos ‘n vrou –
al het die soetreën daai seisoen besweer.
moet net nie twyfel nie: die bome vou
hul aan die herfstyd oop sodat die vrugte
later geel en wonderbaarlik aan die takke hang
——————————————
ek het gehoop dat hierdie nuwe jaar jou uit my weg sou strooi
maar met die roukeelkiewietskreeu begin die hart ontdooi
sodat ek in verdwaalde winterwolke weet hoe spoel
die eerste aande oor ons droogfontein vol rooi
——————————————
(sukkelboer)
ek hoor nog soms diepnag musiek
waarmee jou hande oor my hare gly
voel hoe iets opgroei in ‘n droom
onder jou vingers in die sagte klei
verken die landskap tot in die verskiet
soos dit met elke kwashaal vorm kry.
die oggend skuif die koel gordyn opsy:
weer was die uitvlug puur verniet,
wag nog ‘n afgeleefde dag op my:
die waterverf verstar tot bloekomboom
die stofdam daar was vroeër vlei
sonbesies neem eenvoudig oor by kriek.
wat is die oog van min, het jy
‘n slag, een keer, ver van hier, bely.
© fanie olivier. Uit: ou laaie [ongepubliseerde verse]; Jan. 2011
*
eerste tree : bestek
geen valse vriend lê digterby nie:
amper in afrikaans is “byna”, “na aan”,
“omtrent” [nie soos ek en jy nie];
die grens dus nog nie oorskry nie
maar in nederlands is dit gedaan:
“maar net”, “nauwelijks” . maar verby.
soos die koeël deur die kerk
het dit geen keer nie. laat sy merk
op alles wat daarna gebeur, hierna.
ek probeer om te verstaan:
is daar skade om te beperk?
wil ek jou van hieruit vra.
ʼn valse vriend durf ek nie wees nie.
om ons onthalwe, asseblief, moet jy
die woord in afrikaans nie lees nie
- noudat ek dit so gadeslaan
– stomversigtig oor die eerste tree –
sien ek in asseblief is twee
uitkomste ingewerk
*
staning bokant levubu
ek koers uiteindelik boontoe los
die stad agter met sy hoop verdriet
– onthou: tog het ons eenmaal goud gevind –
verby die loom herinnering van warmbad
– soet klokke, vriende in ‘n bos –
en laat jou op die kaart al verder
weg as ek die langpad soos ʼn vrypad
vat, uitbundig weer ʼn kind.
om my ruik die grond na afrika, so vars
waar jy woon is daar, ek weet,
ook berge soos hier waar ek nou
tussen vreemde tonge tentpenne slaan,
sprokkel vir ʼn staningsvuur en dis verniet
of ek jou afskud of van jou vergeet
al is die laaste ballasmandjie klaar gepars
– hier, ontdek ek, lê jou spore in die sand
as dogtertjie hier waai die wind
jou hare teen my wang, groei jy stuk
vir soepel stuk uit deinings van die land
as ek ʼn ramkie had, sou ek hom sláán
—————————————–
ek moet onthou: so veel is afgemeet
by jou en ander is reeds ingebed
saam met jou huis wat tuin en fondamente het
ek maak my wys as ek so sluk
dis die stof wat in die stofpad staan
dis die somersweet
wat my oë laat traan
—————————————–
ek soek nog steeds besef ek nou
terwyl die winter uitslaan in die populiere
wat opstroom teen die berg se hang
in elke boom se fladdering na jou
verslae van die liefde kou
ek vergeefs die blare van ʼn vlier
om te vergeet op te hou verlang
raadpleeg die towenaars wat stil eenkant
woon en die met rusbanke
en geraamde dolosse van papier
weer en weer en met meer en meer
verslae van die liefde op versoek
sodat hulle pen in die hand
later kan rondblaai vir antwoorde
in een na die ander boek
dan grendel ek my dig as enigste verweer
êrens lê die hoëveld kaal trek vlae
reën die boland toe agter ‘n gordyn
miskien maak jy vir ander vuur
het jy lank reeds die koue pyn
besweer maar ek las nog met die seisoen se trae
gang aan my lappieskombers
soek van inkantasies die juiste woorde
pak nog aan my kaggel die verslae
van my liefde stomp vir stomp op rym
nog bly die dae klein die lang
nagte grypvoet aan die ruite
eendag weet ek breek somer buite
deur in bloeiselbome, in goëlgroen populiere
kom parstyd van die liefde bot in uitgestrekte boorde
© fanie olivier. Uit: ou laaie [ongepubliseerde gedigte]; Desember 2010