![]() Mellet Moll is in 1967 in Pretoria gebore en matrikuleer in 1984 aan die Hoërskool Waterkloof. Hy studeer Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria waar hy die grade B.Ing, B.Ing (Hons), M.Ing en PhD in Bedryfsingenieurswese behaal. Hy spandeer die eerste helfte van sy professionele loopbaan in die industrie en ontvang post-doktorale opleiding in Gehaltebestuur in Osaka, Japan. Sy laaste betrekking voordat hy die industrie verlaat is dié van Uitvoerende Hoof van Strategie en Deurlopende Verbetering van ArcelorMittal Suid Afrika. In 2006 aanvaar hy ’n professoraat in Bedryfsingenieurswese aan Stellenbosch Universiteit waar hy die nagraadse program in Ingenieursbestuur vestig en lei. Hy aanvaar in 2012 diens by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie waar hy werksaam is as adjunk-dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-Omgewing en word in 2017 dekaan. Onder sy leierskap ontwerp, vervaardig en lanseer die fakulteit se ruimteprogram onder meer ’n konstellasie nanosatelliete wat intussen ontplooi is om die land se kuslyn te moniteer as deel van Operasie Phakisa. Hy word ook verkies as die eerste voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Hernubare Energie Tegnologiesentrum (SARETEC). Tydens sy ampstermyn vestig hy verskeie navorsingsaksies met betrekking tot die vierde industriële rewolusie (4IR). Hy word in 2020 met die koms van Covid-19 aangestel by die universiteit as uitvoerende beampte verantwoordelik vir besigheidskontinuïteit en Covid-19. As ingenieur vestig hy in ’n kort tyd ’n reputasie as ’n nasionale deskundige in die bestuur van Covid-19 toe sy universiteit die aandag van die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie trek aangesien die universiteit, onder sy leiding, die mees suksesvolle Covid-19 veldtog in die sektor het ten spyte van die feit dat die instelling ’n uiters diverse en gemarginaliseerde studentegemeenskap bedien. Sy stokperdjies is sedert sy kinderdae musiek en poësie en hy onthou hoe sy eerste gedig reeds in Graad 1 hom ’n pak slae op die hals gehaal het as gevolg van sy aweregse interpretasie van die onderwyseres se opdrag. Hy het waarskynlik een van die grootste musiekversamelings in Suid-Afrika en waag ook soms sy hand aan musiekvervaardiging. Sy musiekversameling beslaan ongeveer 60 000 albums oor alle genres, hoewel hy neoklassieke musiek, gotiese musiek, ambient-musiek en Franse musiek uitsonder as die mees omvattende in sy versameling. Hy was in sy jonger dae ook werksaam as uitsmyter by nagklubs en kroeë. Hy debuteer in 2014 met ’n drieluik getiteld Heilige Meetkunde, Swanesange en Nalewe. Dit was die eerste keer dat ’n Afrikaanse digter met ’n drieluik debuteer. Sy gedigte is opgeneem in die versamelbundels Die mooiste Afrikaanse Christelike Gedigte en Maskers en Mure. Van sy gedigte is getoonset deur musikante soos Mel Botes, Steyn de Wet en Eva Mouw. Hy ontvang in 2015 die Orde van die Beiteltjie. Hy is tans besig met ’n tweede doktorale studie: die PhD in Afrikaanse Lettere aan die Universiteit van Johannesburg. Hy het drie volwasse dogters uit ’n vorige huwelik en woon in Somerset-Wes. Hy is vir die afgelope 10 jaar in ’n verhouding met die skrywer, digter en resensent, Nini Bennett. |
’n Laaste villanelle
Wanneer ek eendag in jou arms sterf
kan jy die rame oopgooi vir die wind.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.
Ek het ’n onvolmaakte stillewe geverf
vol sweefsterre, wat in die lug ontbind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.
So vry, die fynstuif wat nou onbederf
soos ’n dandelion die stromings vind.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.
Ek sal die skaduwee van lugvoëls erf
en die gestadigdheid se gloed ontblind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.
En ek sal strale deur die lugruim kerf,
soos wolkmutasies sweef, jou labirint.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.
Mag jy ’n staat van enigheid verwerf
met die Nirvana van jou binne-kind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.
© Mellet Moll, 2022
*
Achtung!
Na die rolprent “Wings of desire”, 1987
Die monochrome stad waak uitgestrek
in wêrelde wat ewewydig voortbestaan.
Ek sal ‘n lig aan los vir Zeppelins oppad
saam met die vlieërs in ‘n woudstil nag:
onsigbaar soos walküre wat kom land.
Daar is ‘n eggo oor die Alexanderplatz
in ‘n verbode gister en ‘n stilgebore uur
as die gesante met die jasse onder ons
vanaf die kruistorings die epitawe skryf.
Ons het alleen die oomblik om te ken –
die owerspel van wolke en ‘n rustelose
muur, die sweepslag van die swartvlerk
en die anargie van woorde in die grou:
profesieë in die spuitverf teen ‘n doek
van rou beton. Ons leef in die geheue
van 1945, en luister na die dreunsang
wat gelei word deur ‘n kartelende vlag.
By Brandenburg en by Potsdammer Platz
en op die Bahnhof loop die dood nog
soos ‘n bedelaar en voer ‘n monoloog
met die gewete van ‘n onbetrokke god.
© Mellet Moll, 2022