Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Hans du Plessis

 

Hans du Plessis (1945 – 2024) is in Pretoria gebore en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy studeer voorgraads aan UP en behaal ʼn doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde aan UNISA in 1975. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard.

Na ses jaar onderwys word hy Lektor in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA en RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die PUK en in 1990 Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit.

Hy debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en verskeie romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer.

Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is.

Lees gerus ’n meer uitgebreide biografie op LitNet:

https://www.litnet.co.za/hans-du-plessis-1945/

 


 

Op Sandverhaar

 

Ek hoor dis mooi vanjaar

op Sandverhaar:

‘n tarentaal se fluit hoort grys

in hierdie heilige stilte tuis,

en iewers agter rooi duine

brul ‘n broeis volstruis.

 

My oë kan sig verstaar

aan Sandverhaar:

kameeldoring het mos ‘n swart manier

van wag in droë sand van ‘n wit rivier

vir die driedoring om tog net weer

lente soos ‘n geel boodskap uit te stuur.

 

Geur verjaar

op Sandverhaar:

ek vryf die muskus pronkerig soet

uit die wit van ‘n bok se laaste groet,

dagbreek prikkel growwe sout

en die aand smaak na doringhout.

 

Lywe baljaar

op Sandverhaar

en ril as die son hitsig tas

oor bene boesmangras,

en wilde wind se heupe beur

teen my warm wange vas.

 

Ons ontmoet mekaar

op Sandverhaar:

U het hierdie sonderlinge land

tussen skurwe berge ingeplant.

Dis net ‘n God wat so kan speel

tussen ysterklip en droe sand.

 


 

SIKLUS

TIEN HAIKOE VIR DIE VREDEFORTKOEPEL

 

METEORIET

Deur die donker klief

`n klipvuis en klap lewe

uit die aarde uit.

 

WIND

`n Asem jaag oor

yslike nagte en vee

ons winternis weg.

 

WATER

Jy maak so silwer

sonder droë woorde sin

wat my skoon verstom.

 

GROND

Vang reën en son in

die bakhand van jou lyf waar

lewe kliphart klop.

 

BOOM

Veerlig dwarrel herfs

van kil takke los en broei

nóg `n lente uit.

 

MENS

Toe staan stof uit stof

en oorheers die aarde op

grond van sy bestaan.

 

WÊRELDERFENIS

En ons koepel skeur

al langs perforasies van

mens-dom middeldeur.

 

BESOEDELING

Nou moet dier en duif

hees van die rook en roet vir

byl en treksaag boet.

 

DANKGEBED

Heer, ons paaie lê

uitgeteer oor brûe met

water onderdeur.

 

TIEN

Vuis van swael en vuur

gaan duskant ons Groot Ekskuus

weer kom asem haal.

 

© Hans du Plessis. November 2009

(2 van die haikoe is gebruik by ‘n kunsuitstalling van Strijdom van der Merwe)

 


 

PSALM 2 

Nou vi wat woelie wêreld

en dink heidense goeterse?

Hulle se voormanne span saam

ennie kapteinse hou krygsraad

tenie Jirre en Hom Koningkjent.

Hille sê hille gat spanriem breek

en orie Jirre se kraalmuur spring.

 

Ma da bo innie jimmel

skerie Jirre met hille gek,

en Hy sit lag vi hille yt.

Toe praat Hy mette rowwe stem

lat hille sos bang kjennerse bewe:

“Ek het oppie Grootdyn geloop gesit

en hom self die Koningskjent gemaak.”

Lat ek vertel vannie Jirre se beslyt,

die Jirre het gekom en vi my gesê:

 

“Jy’s my Mankjent! Hierielike vedag

het Ek nou self vi Jou gekom gesalf.

Vra net: Jy kan die mense by My erwe,

en die aarde vi jou tot in sy hoeke vat.

En vi dies wat swaar lyster,

vat jy die koevoetyster en

slat hille sos kleipotte plat!

 

Voorman, gebryk tog jou se kop,

en lyster vi my, slim advokaat:

hou op dink jysie Jirre se maat,

jyse lammerskaap in Hy se trop.

Kom dien My Koningkjent,

lat Hy nie kan kwaad worre,

ennie beerlou innie voetpad

vi jille lat kom voorsit nie.

Weet jy hoe gelikkig is hy

wat innie Jirre se skerm bly?

 

 

Uit: Verindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg
  • Johann Lodewyk Marais. Saterdagaand

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d