Hans du Plessis is in Pretoria gebore en matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy studeer voorgraads aan UP en behaal ʼn doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde aan UNISA in 1975. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Na ses jaar onderwys word hy Lektor in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA en RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die PUK en in 1990 Direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy veertiende, Karos orie dyne, verskyn binnekort. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en sewe kleinkinders.
Lees gerus ’n meer uitgebreide biografie op LitNet: |
Op Sandverhaar
Ek hoor dis mooi vanjaar
op Sandverhaar:
‘n tarentaal se fluit hoort grys
in hierdie heilige stilte tuis,
en iewers agter rooi duine
brul ‘n broeis volstruis.
My oë kan sig verstaar
aan Sandverhaar:
kameeldoring het mos ‘n swart manier
van wag in droë sand van ‘n wit rivier
vir die driedoring om tog net weer
lente soos ‘n geel boodskap uit te stuur.
Geur verjaar
op Sandverhaar:
ek vryf die muskus pronkerig soet
uit die wit van ‘n bok se laaste groet,
dagbreek prikkel growwe sout
en die aand smaak na doringhout.
Lywe baljaar
op Sandverhaar
en ril as die son hitsig tas
oor bene boesmangras,
en wilde wind se heupe beur
teen my warm wange vas.
Ons ontmoet mekaar
op Sandverhaar:
U het hierdie sonderlinge land
tussen skurwe berge ingeplant.
Dis net ‘n God wat so kan speel
tussen ysterklip en droe sand.
SIKLUS
TIEN HAIKOE VIR DIE VREDEFORTKOEPEL
METEORIET
Deur die donker klief
`n klipvuis en klap lewe
uit die aarde uit.
WIND
`n Asem jaag oor
yslike nagte en vee
ons winternis weg.
WATER
Jy maak so silwer
sonder droë woorde sin
wat my skoon verstom.
GROND
Vang reën en son in
die bakhand van jou lyf waar
lewe kliphart klop.
BOOM
Veerlig dwarrel herfs
van kil takke los en broei
nóg `n lente uit.
MENS
Toe staan stof uit stof
en oorheers die aarde op
grond van sy bestaan.
WÊRELDERFENIS
En ons koepel skeur
al langs perforasies van
mens-dom middeldeur.
BESOEDELING
Nou moet dier en duif
hees van die rook en roet vir
byl en treksaag boet.
DANKGEBED
Heer, ons paaie lê
uitgeteer oor brûe met
water onderdeur.
TIEN
Vuis van swael en vuur
gaan duskant ons Groot Ekskuus
weer kom asem haal.
© Hans du Plessis. November 2009
(2 van die haikoe is gebruik by ‘n kunsuitstalling van Strijdom van der Merwe)
PSALM 2
Nou vi wat woelie wêreld
en dink heidense goeterse?
Hulle se voormanne span saam
ennie kapteinse hou krygsraad
tenie Jirre en Hom Koningkjent.
Hille sê hille gat spanriem breek
en orie Jirre se kraalmuur spring.
Ma da bo innie jimmel
skerie Jirre met hille gek,
en Hy sit lag vi hille yt.
Toe praat Hy mette rowwe stem
lat hille sos bang kjennerse bewe:
“Ek het oppie Grootdyn geloop gesit
en hom self die Koningskjent gemaak.”
Lat ek vertel vannie Jirre se beslyt,
die Jirre het gekom en vi my gesê:
“Jy’s my Mankjent! Hierielike vedag
het Ek nou self vi Jou gekom gesalf.
Vra net: Jy kan die mense by My erwe,
en die aarde vi jou tot in sy hoeke vat.
En vi dies wat swaar lyster,
vat jy die koevoetyster en
slat hille sos kleipotte plat!
Voorman, gebryk tog jou se kop,
en lyster vi my, slim advokaat:
hou op dink jysie Jirre se maat,
jyse lammerskaap in Hy se trop.
Kom dien My Koningkjent,
lat Hy nie kan kwaad worre,
ennie beerlou innie voetpad
vi jille lat kom voorsit nie.
Weet jy hoe gelikkig is hy
wat innie Jirre se skerm bly?
Uit: Verindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007