![]()
Ian Raper se gedigte het in verskeie tydskrifte verskyn, o.a. Standpunte, Tydskrif vir letterkunde, Kol en die e-tydskrif Bloots. Hy het self twee bloemlesings, Verskeurings en Klikspringer (lg. die eerste e-versameling), saamgestel en gee klas vir digters by die Huis vir Afrikaanse poësie. Hy is ’n letterkundige van beroep en het radiopraatjies met die titel “Verse vir die volk” gelewer, asook Van Wyk Louw-gedenklesings. In 2012 ontvang hy die Orde van die Goue Pen van Cordis Trust vir sy buitengewone bydrae tot die bevordering van Afrikaans. Sy bundel Oorlopers verskyn in 2013 by Cordis Trust Publikasies. |
Khafre met die mussie
(en die neus nog heel)
Ek het ‘n sfinks laat maak:
hy staan hier buite.
Daar is ‘n pad gemaak
af na hom toe.
En op na my.
Met die rivier langs
het ons blokke en balke rooi graniet gebring,
maar geel-wit sandsteen sleep ons uit ons eie kwarrie.
Plate kalksteen vir bedekking
om die son te kaats en straal
en bo, puntkappie oorgetrek in goud
‘n snuiter vir die lyf.
Kyk, almal, vir my sfinks:
dis die gesig wat julle kry.
Reken my verskansing,
met knap om my
alles wat een mensman denkbaar
sou kon nodig kry:
vrou of wat, kinders by dosyne, kat, bont, ruim
kleipotte vir salf, graan, olie; amulette
en een klein standbeeldjie
iewers van my vrolike ou siel
popgroot met die neusie
vir die hiernamaals nog heel.
© Ian Raper / 2009