![]()
Jan de Bruyn is gebore op 25 November 1941 in die Moedersbond in Pretoria. Hy was onderskeidelik ’n klerk in die Staatsdiens, ’n onvanpaste netjies verpakte outsider-fenomeen in die privaatsektor, ’n meer van paste bruingebrande voorman op verskeie Rhodesiese plase; ’n boer op eie rekening en gevolglike insolvent in Suid-Afrika; ’n akademikus aan verskeie universiteite en ’n sakeman op Louis Trichardt. Hy is in Mei 2007 oorlede nadat sy bydrae vir Versindaba reeds ontvang is. Jan de Bruyn het die volgende digbundels gepubliseer: Vuurtent in die sneeu (1984); Te bruin vir groen (1987) en Witvuurlig (2004). |
Beethoven: Sonate no. 32
Klipbrokke
kras en singend
soos voetstappe nagte soos die wind in boomskeure
sing sy alleenheid
oor die seë
oor my Afrika
sy son dorings en klipeinders
tot hier waar die klavier soos bitter klokke
beier in die middag buite
in swart vure bome
nagte as die stiltes soos ’n man huil
want so kom hy terug
lei my deur nagte
oor elke grens van mense
lei hy my luister
die klokke se tonge skeur
teen stiltes
en mense
tot in die laaste
die klavier soos gelate bitter golwe breek
soos ’n mens se verbryselde geroep
lui die donker klokke
die alleenste stiltes in
stiller vér stiller
luister
sing die laaste klokke silwer
Gert Vlok Nel. Sonate vir kitaarstawe
Weer so half oor jou dorp gevlieg
nie kon weet of die skaduwee
sigbaar uit die lug is nie
gewens ek was eerder op ’n trein
sou vir jou kon waai
sou jou naam in die klikke-klak
gesê gehoor gehoorsê het
op stawe wat jou faam behoort te ken
op wiele wat jou songs vir my kon sing
vliegtuigmense is ek en jy mos nie
die landskap sukkel
om by ons uit te kom
sukkel om op te steier
tot teen die dun kokon
geen klip is van hier af sigbaar nie
ook mens en dier word heeltemal ontken
daar is geen land
so leeg en bruin geleë
daar is geen song
so stil of seer verkreë
en ek wens ek was op ’n trein
met Beautiful Beaufort-Wes se woorde
in die klikke-klak van die kitaarstawe
Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006