Jannie Malan (1973) is in Wynberg, Kaapstad, gebore. Kort daarna verhuis sy ouers na Pretoria waar hy ook skoolgaan en studeer (tale en uitgewerswese). Hy werk vir ’n tyd lank as uitgewer, asook by verskeie takke van Exclusive Books. Sedert 2006 is hy ’n konsultant en besigheidsanalis in Menslike Kapitaalbestuur vir ’n internasionale maatskappy. Malan debuteer in 2010 in Nuwe Stemme 4 en in 2014 verskyn sy debuutdigbundel In ligte laaie by Protea Boekhuis. Temas in sy werk sluit in sy jeug, die liefde, reis en die dood. Jannie is getroud en het twee dogtertjies. Hy is passievol oor comics, alternatiewe musiek en hedendaagse Afrikaanse skryfwerk en lirieke. |
Pietà
as fokuspunt vorm vrou en kind, ʼn kruis.
Lemminkäinen lê leweloos langs
die Tuonela se tydsame water, bleek
op ʼn klipperige oewer uitgestrek
die oë, asof hy net slaap, is met doek bedek
by die opdrifsels van towery en oorskot;
in sy ma se voorarm bol spiere belynd.
die goue golwing oor die swart water dubbelsimbool,
vroeër koper spore van die opeenhark van haar seun se stukke
nou die suggestie van strale genade.
helder oë in die gebeitelde gesig herken
stroef die skaars sigbare hommelby, wat
sag vir haar ontslape seun die heuning en beloftes
van lewe vanaf die gode bring.
in die linkerkantse hoek, immer drywend, bo
kyk wasig die swaan, onbetrokke, toe.
(© Jannie Malan 2013)