![]() Jeanne Goosen (13 Julie 1938 – 3 Junie 2020), gebore in Parrow, Kaapstad, was ’n veelsydige, bekroonde en kontroversiële Suid-Afrikaanse joernalis, digter en skrywer. Sy begin op jong ouderdom met klavier en klarinet en kry later formele musiekonderrig aan die Rondebosch School of Music. Na skool ontvang Goosen ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad waar sy radiografie en drama studeer. Goosen beoefen gedurende haar lewe ’n verskeidenheid beroepe waarvan o.a. kunsredakteur by die destydse koerant Hoofstad in Pretoria en joernalis by die Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, bibliotekaris by die Vloot, radiografiste, stoorkamerwerker, vertaler, sitrusboer by Hartebeeshoek, kleuterskoolonderwyseres, visser aan die Weskus, smous, afslaer, en voltydse skrywer. In 1971 debuteer Goosen met die digbundel ’n Uil vlieg weg. Daarna verskyn Orrelpunte in 1975. Hierna verskyn verskeie dramatekste en romans uit haar pen. Haar laaste digbundel Elders aan diens het in 2007 by Genugtig! Uitgewers verskyn. Haar verse word opgeneem in talle versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Die dye trek die dye aan, Liggaamlose taal, Woordpaljas, Die goue vreugde, Voorspraak en die Versindaba bundels wat jaarliks na hierdie fees uitgegee word. In 2020 word van haar gedigte ook in Vers en vrou opgeneem. Goosen het veertien boeke geskryf, wat poësie, essays, prosa en drama insluit. Sy het onder meer die volgende pryse gekry vir skeppende werk: Die M-Net en Rapportprys vir prosa, die Rapportprys vir drama, die CNA-prys vir prosa, ’n KKNK-toekenning vir skeppende Afrikaans en Athol Fugard se Helen Martens Fellowship. Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor Jeanne Goosen op LitNet: |
My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môore kry jy van soetpap en melk
My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.
My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou
Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007