Louis Jansen van Vuuren is in 1949 in Middelburg, in die ou Transvaal (Mpumalanga) gebore. Van vroeg reeds het hy sy belangstelling in skilderkuns laat geld en so skryf hy hom reeds in standerd sewe in by Hoërskool Middelburg se kunsklas. Hy hou sy eerste solo uitstalling op die ouderdom van 17. Na skool het hy hom as kunsstudent ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch. Na sy studies het Louis etlike omswerwinge na die buiteland onderneem en met sy terugkeer na Suid Afrika vir dertien jaar as kunsdosent aan die Universiteit Stellenbosch betrokke gewees alvorens hy ’n pos as dosent in grafiese ontwerp by die Universiteit van Kaapstad se Michaelis Kunsskool in die Tuine aanvaar het. Sy lewe neem hierna nuwe wendings en hy aanvaar in 1987 die geleentheid om by die Cité Internationale Des Arts in Parys te gaan werk en te studeer. Die liefdesverhouding met Parys en die Franse verdiep en word die grondslag om ’n paar jaar later maklik deur immigrasie in ’n nuwe Franse land te kan stap. Sy betrokkenheid met die bevordering van die kunste word ’n nuwe fokus in sy lewe en gedurende 1988 word Louis verkies tot die voorsitter van die Suid Afrikaanse Kunsverening in Kaapstad en ook tot die Raad van Trustees van die SA Nasionale Kunsmuseum. Sy eie kunsloopbaan word, om verskeie redes, effe agtertoe geskuif en gedurende hierdie tyd ontmoet hy Hardy Olivier, wat ’n groot rol begin speel met die administrasie van Louis se persoonlike kunsloopbaan. Sedert 1999 woon en werk hy voltyds in Frankryk. Louis se debuutbundel Tempermes verskyn in 2010 by Queillerie Uitgewers. Besoek gerus die digter se amptelike webtuiste vir meer inligting oor sy kuns, skryfwerk en lewe: https://www.louisjansenvanvuuren.com/
|
Agape
Die droom vou weids
uit die donker oop –
pinsbek dagbreekuur.
Die landskap sing van
blou bieseroeibosse.
In die koelgewaaide skadu
van die helder baldakyn
voer ek jou lippe
soet ronde korrels
barlienkadruif,
granaat en vy.
Beheks deur purper kruike
koue ambrosyn
sweer ons gierig trou.
Venus lag hierop
hardop,
laat haar aandster bibber.
Appelmotte vlieg benepe rond,
maraboe sluk die spikkelslang
en ons gaan lê belief
waar die bergpruim blom.
Nikolaas
Ons klouter teen die modderdam se wal,
‘n honderd suignat kinderspore.
Twee mans wat op die stasie wag –
die trein na die noorde trek mos eerste
die trein na die suide net daarna.
Om jou weer te vind sou ek te ver moes reis –
diepste soutsee wat ons eilande maak.
Om jou weer te vind sou ek ‘n plan moes maak –
hiernatoe en daarnatoe, ek het besig gebly.
Bleekperd se ruiter het die boodskap gebring,
woorde wat seil soos ‘n slang.
Nou is jy grys gepoeierde as:
vaal vierkantjie-boks, net jou naam daarop.
In die breekblou van die winternag,
in die skitterskoon van ‘n lentedag
noem ek jou naam
Elizabeth-serenade
Jou neurieliedjies van godsgenade
vou lawend om my oop:
ambergeel origami-rosies
kleurvolle botsels klank
kind vol vreesverlange –
skuiling soek tussen kussing en boek
Nou is jy weg en die lied het gaan staan
saam met die klok
teen die voorhuismuur.
Vir my laaste totsiens
was jy reeds in jou dood –
liedlose lippe, effens te rooi
Tyd wys my ‘n blaaikaart vol goed:
Hoefspykers en die doringkroon
‘n leërskare wat jubel en sing
ook hoe om my pad weer te vind
na jou liedjies se sus en die man vol droom
gefrommel tussen kussing en soek
Hangkas
op geskaafde en gedweilde
dennehoutplanke
langs ‘n hangkas
wat pleit om klere
staan twee pare skoene
met sole wat slyt
agtergeblewe
gespes
soos jou beloftes
gebreek
Donker oksel
Ek het jou uit die badkuip sien klim:
donker oksels, heuningdou,
swingel vlottend wakker,
die wieling van die water
wat jou lyf se sediment soos
stuifsand spoel.
Die eerste skimpskoot knoop die deken oop,
kapkatel en skommelklip.
Jou nat gestalte
bibber oor my honger lyf,
ek hoor ‘n duisend klaroene skel,
sien jou krom en stuip en kom.
Bokbaaivygie, disseldoring
hoor jy ook die roofmeeu roep?
Aandgogga
‘n Maanmot pulwer deur my venster,
tak-tak teen die lamp se linneskerm –
perlemoerpoeierprente
lê stil teen die skemerwit plafon.
Sy laat vir my ‘n boodskap
vol vreemde talkumwoorde
wat fluweelgloei in die nag.
Quod scripsi, scripsi
Winterballade
‘n hooglied
Ek soek na jou tussen winterboomskelette daar waar kuifreiers roep
Waar het my alombeminde heengegaan die hoeksteen van my hart?
Ek sien jou skim in koue kuile water wat glas maak in die wintermaan
Ek sing vir jou ‘n roeplied uit ‘n boek met asbloublaaie
My sielsbeminde het by my poort verbygeloop na ‘n koue wintertuin
op soek na die eerste bloedpruimbotsels, verslete maankalfjas oor sy skouers
Om die helder hoof hang ‘n mirtekrans, bekroon met balroosblomme
wat jubel in die westewind
Daar sing ‘n koor van mossie, vink en tortel
Jy is my spuwende fontein vol sagte wateranemone, ‘n grag van
lewende water wat uit ‘n doopvont vloei
Jou lippe is die lotusblom wat oopskulp in gesang
In my gekweste hande roer my bidsnoer stil wyl ek bedelsmeek om
groot genade,
dat jy terugkom uit die donker wintertuin
Draai terug o beminde, dan berei ek vir jou festyn van liefdesvreugde
‘n Tafel vol silwer skottels sedersade, viskuite uit die weskusdieptes
en ‘n raapkoek uit die toringstad
As jy my hart teen sterlig hou sal jy die watermerke sien,
jou naam staan daar duidelik in nege goudbladletters opgeskryf
My geliefde is ‘n ysterhek wat deur ‘n duisend hamerhale op die aambeeld
uitgetemper is
Die kuras wat die hart behoed is in patrone ryk versilwer en met ‘n
toorwoord uitgraveer
In jou hande word ek ‘n trompie wat vir jou vingers ghommaliedjies speel
Jou voete wil ek lawe met koel kalbasmelk en die gegeurde olie van ‘n
bokbaaivygie
Jou oë is topaas salmanders wat kamma koggel in die skemer,
jou mond is ‘n purper gulpvy wat oopbars net vir my
(Gedigte uit: Tempermes, Louis Jansen van Vuuren, Queillerie Uitgewers, 2011)
Selim die Voortreflike
Hy kom rokend uit die badkuip op:
gesalfde Kalief van Bagdadstad,
arms, bors en lende
glim met olie van die muskushert.
In sy donker omphalos ster ‘n goue druppel
amber, bergamot en wit jasmyn.
Van Kreta het sy gekom
met ‘n helse see-eskader:
maste van goud en seder,
bleek prinses in kurkuma-geel gewade.
Sy vou haar wimpers smagtend toe,
lig die stene-sluier van haar gesig af weg.
***
Met opgehewe letselhande
hou ek na jou toe uit
‘n oopgevoude muskusroos-
my doepa teen die breek van val.
© Louis Jansen van Vuuren (Uit: Tempermes, Queillerie Uitgewers, 2010)