![]()
Piet van Rooyen is op 17 Julie 1953 in Vryheid in Natal gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en word in 1982 as dosent in Ontwikkelingstudies aangestel word. In 1983 behaal hy’n PhD-graad aan dié universiteit. In 1989 vestig hy hom in Namibië en aanvaar ’n pos by die Boesmanstigting naby Tsumkwe in die destydse Namibiese Boesmanland, of N//oaq!’ae, waar hy jag, leef en spoorsny. Hy is tans professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië en boer deeltyds met arabierperde, wild en beeste op sy plaas naby die Gamsberg. Van Rooyen debuteer reeds in 1973 as digter met Draak op die Erf (HAUM). Sy volgende digbundel, Rondom ‘n Boorvuur, verskyn in 1983. Daarna publiseer hy verskeie prosawerke, waaronder die Die Spoorsnyer (1994) waarvoor hy die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romanprys en die CNA-debuutprys ontvang, en Die olifantjagters waarvoor hy die MNet-prys ontvang. Sy jongste digbundel is Kwansuis wat in 2008 verskyn. Kyk ook na Piet se Fotobeeld.
|
sigeuner
my destydse sigeunermeid
reis nou die wêreld vol
sonder karavaan of perd
met rooi kopdoek en rooi geruite rok
ek kry jou e-briewe met die nuus
jy pas stout kinders op in london
in parys stoot jy omies met dementia
snags heen en weer van pot na bed
jy voorspel die toekoms in florence
was skottelgoed vir geld in spanje
slaap kaal op griekse strande
en ek jan tuisbly
dink jy partymaal
in al jou verre reise
so plek-plek darem aan my
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
groen koringlande
kom meisie gee my jou hand
die weer is wonderlik vandag
en die lug is besonder blou
kom net ons twee alleen
gaan huppelkind speel
so hand aan hand
daar ver in die koringland
doer waar die are soos golwe
oor die horison verdwyn
gaan ek jou langs my
in die diepsee plattrek
ek het my kompas en sekstant
moenie bang wees nie
ons sal nie verdwaal nie
dit belowe ek jou
maar wel
gaan ons behoorlik verdrink
en nie eens die ribokke sal weet nie
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
malman
een namiddag betrap ek onverwags
‘n vreemde wese by my waterkrip
met baard en wilde wenkbroue
dis wrintiewaar die grotman self
hy steek met hande-viervoet vas
maar glimlag tog met breë tande
dieselfde aand hoor ek hom hard
uit die bek van sy hol spelonk
op god en op die geeste skree
die gekheid van die malles
verskrik my nie die minste nie
dis om die absoluut-gesondes
die sogenaamd-normales
dat ek my wydste draaie loop
© Piet van Rooyen. Jan. 2011
blomme
jy vra my ewe kwaai-gebelg
hoekom ek dan nooit kom kuier nie
maar in ‘n sonkol in my tuin
staan ‘n rare spesie aalwyn
wat net om die elke drie jaar blom
hoe kan ek die plek
so onbemand verlaat
as ek elke oomblik haastig
op my eie blombelofte wag
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
mondstuk
waarom moet die tong lusteloos wees
waarom altyd die woorde se gatte wil lek
woordsuiker is sleg vir die tande
as mens die kleur van die blomme behoorlik wil sien
moet die ore oop bly vir die geruis van die stilte
dan mag die mondspiere nie aan die kakebene rem nie
die ore nie blikners ry op die malperde van die kieste nie
stil mense vind ek altyd meer ingedagte
dis omdat hulle nog ongespeend
met diep teue aan die aarde suig
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
lugreis
ek beveel gerus die lugreis aan
dis veral op aardse lughawens
waar mens homo sapiens betrap
elk met mombak en koffertjie
na iewers elders heen op pad
dis hier waar mens terminaal
kan merk hoe evolusie werk
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
om te reis
vir die reisiger is dit gepas
om aan te hou reis
nie kop te gee aan traagheid nie
jan wandelaar met stok-en-moed
met lang treë deur bossieveld en woud
gehugte stede dorpe boereplase
seë woestyne of die poolstreke
eendag sal die plek
waarna jy so voetig soek
uit newels of mirage verskyn
dan eers kan jy knapsak neersit en rus
maar tot die uitspan aanbreek:
aanstryk swerwer!
© Piet van Rooyen. Feb. 2011
laatnag in ‘n koue stad
fabrieke rook pypdun asems
die nag hang ysig skerp geslyp
ek suig diep aan my sigaar
en woel my digter in my jas
iewers by ‘n poegaai kroeg
lag dowwe stemme van studente
ek hoor die donker klop-klop-klop
van my afgemete voetstappe
op teer en koue kieselstene
asof van onder vame water
sien ek my twee-drie skaduwees
oopflerts met dun arms
langer rek en korter krimp
swemmers in poele lamplig
soveel dinge plotseling
plotseling – skielik – eensklaps
‘n voorwerp wat in water val
‘n dier wat duik
‘n plons
soveel dinge is plotselinge
spoedbetrappers van tyd
as dit te laat is mag jy dink
ek het dit sien kom
maar as dit opduik
is dit klaar verby
‘n man met digte borshare
maar seepglad op die boude
voor jy ‘boe!’ of ‘ba!’ kan sê
tot jou verlies
tot jou verdriet
‘n vingerklap te laat
‘n plotseling te laat
soveel dinge plotseling
maan-bobbejaan
‘n mannetjies-bobbejaan
dronkgevreet aan gus maroelas
sien die maan vroegaand
in ‘n waterpoel blink
tot daar sal ek kan vlieg!
om die maan te kan vang
o om die maan te vang
op blou boude skuifelend nader
knobbel-kneukels
piel-in-die-sand
stert sekelstert agterna
uit takke van kremetart ‘n uil grootoog
hoe-hoe?
sprong kordaat
duik tentatief
o gonna o gits
daar’s ‘n bobbejaan in die maan
© Piet van Rooyen. Jan. 2011
hond
watter rare ding
is hond-se-smoel
hond dra gepas
sy ewige frons
met tong en gekwyl
drup hy sy bietjies-bietjies
uitbundigheid net soms
andersins altyd
so vreeslik swaarmoedig
‘n swaai van die stert
sy flentertjies vreugde
kyk bietjie mooi
as jy weer hond ontmoet
in ‘n hond se gesig
lê ‘n ganse wêreld
se moeite en verdriet
© Piet van Rooyen. Jan. 2011
tafereel
uit oorblyfsels van droë stoppellanderye
tussen wit-geblertsde tele-pale
vloek gekwesde kraaie kras
op NG-dominees wat vuisskud
met stompneus-haelgewere
in ‘n eensame buurt vir barmhartiges
sluip nonne onder kaalgeskeerde koppe
vol skuld en kommunale hoop
amegtig van toegesluite deur tot deur
ons self sit met ons mede-kriminele
en skink ons grimmige glasies wyn
die lewe is ‘n maer lokasie-brak
wat grommend tussen tande kwyl
skoppend tussen benewelde vingers
elk se opgewarmde resies-kokkerot
in dun harnasse van garedraad
waar hul met wye pote
padvat oor ‘n tafelblad
diepgekerf in elke stukkie splinterhout
sit hindernisse van ou-vergete momente
van half-vervulde luste, wrewel, boete, haat
ons kloek moedig aan met skril stemme
oorwinning is soet, verliese suur:
tussen hoedende elmboë by elk
knusgepak sy hopie dertig silwerlinge
ons strydwaens jaag verwoed
in die swart gewaad van geestiges
deur moerasse van spoeg en kwyl
en plassies uitgestorte wyn
ons stoele kier op dun pote
terwyl ons diep uit mae lag
onder vloerplanke en agter toegetrekte ruite
piep-verskriklik skarrel rotte
in die donker doolhof van ‘n drein
moeg en mistroostig kom die refrein:
bedelaars steek mekaar met lemme
om laaste korsies brood
iewers in die bouval van’n kerk
steek ‘n swerm bye woedend
‘n spirits-versuipte boemelaar dood
© Piet van Rooyen. Junie 2009.