Ronald Kenneth (Ronnie) Belcher is op 21 April 1933 in Goodwood gebore as een van 13 kinders van ʼn Engelssprekende werkersklas-gesin. As arm student aan die US het hy vakansietye na die destydse Rhodesië geryloop waar hy sy studiegeld verdien het. Sy lewensbeskouing is waarskynlik grootliks gevorm deur sy eie stryd om oorlewing en sy ervaring van die Charismatiese godsdiens as jong man.
Hy debuteer in 1956 met Mens en Skepper waarvoor hy ’n nasionale poësieprys wen.
Belcher se DLitt-verhandeling oor die poëties-psigologiese grondslag van die sonnetvorm is in 1969 in verwerkte vorm deur HAUM uitgegee onder die title Die sonnet as digvorm. Hy publiseer elf digbundels in sy leeftyd, waarvan die laaste bundel, Van heidebos en klip in 2000 verskyn het.
Sy belangstelling in die volksletterkunde het o.m. tot uitgebreide navorsing gelei oor die Griekwa-kultuur en die Morawiese Sendingkerk. ’n Aantal van sy gedigte is getoonset, o.a. deur Laurinda Hofmeyr. Temas wat meermale in sy ‘ernstige’ poësie voorkom is die liefde, die Kaapse mense, die vrou, die dood en die religie. Belcher is ook bekend vir sy kinderverse en veral vir sy speelse (spulse) kwatryne.
Belcher, wat nie net mynwerker was nie, maar ook uitgewer, dosent in Afrikaans en Nederlands en later wynboer, is in 2006 oorlede.
’n Meer in-diepte biografie is op Litnet te lees: https://www.litnet.co.za/rk-belcher-1933-2006/
Genadendal
‘n Dowwe plaatjie: Welkom te Genaal
sê ons is nog familie; want dis hier
dat ons met Kinderfees en Broedermaal
genadiglik ʼn samesyn kan vier
wat eie is; in elke voorhuis hang
ons testament in ʼn vergulde raam:
’n blanke oupa met soldaterang,
kind op die skoot, trots met sy bruin vrou saam.
Onder die soet van bliekombalk en riet
het ons deur jare vasgevleg geraak
met stringe ui en brandvloer op palmiet
aan ’n verlede wat ons trotser maak
oor voorgeslagte wat ons ken, maar weet
ons wit neefs het hul lankal reeds vergeet.
Uit : Ringe in ʼn geelhoutboom, Perskor, 1982
Die graf is toegegooi
Die graf is toegegooi
jou plek is leeg in die kooi
die suster wat die kranse pak
hoe buk sy dan so mooi
Uit: ʼn Ding om te skil in die maand April . Klipbok, 1980
Die Djêrrê en die dooiwêl
Die Djêrrê hy’s gabôrrô by die maag
en ês sy eie pa. Nou hy’t gatôr
en al die goetês ês. Die naag hy’s daag
en vês klem ooit die battêr en maak spôr.
Nou Sondag by die kerk ek hôr die prêk
van al die lekkêr goetês as hy kom,
dan al die tien geboues afgabrêk.
Die Djêrrê siestog hy’s gaslag prês hom.
Die dooiwêl hy ês boetie van maboer
en as ek battêr vra of stokkie brôd
dan sommar vloek vôr my jou ma sy moer
en hoekom ek nie by gabôrrô dôt.
Mar ek hy weet die Djêrrê sy sal kom.
Die dooiwêl sies hy ês gasooip fôk hom.
Uit: Van heidebos en klip, Suider Kollege, 2002.
Poësie-aand
Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel ontbloot for everyone to see?
Hier tussen die geskinder en gepraat
my siel ophang soos aan ’n doringdraad?
Met ander se geroggel en gerook
my sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier tussen al die waaiers en die fans
myself beskinder saam met also-rans?
Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak
soos ghoffels wat kafoefel op ’n trein
and other dear souls crying in the rain.
Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!
Uit: Van heidebos en klip (Suider-Kollege, 2000)
Witroes in die blaar
Witroes in die blaar
dis fienies en dis klaar
miskien kom daar ‘n moerse oes
die een of ander jaar
After all said and done
After all said and done
sê oom Piet vir oom Jan
Vat maar jou drienk
so nou en dan
Uit: So is die lewe vir een pond sewe (HAUM 1978)
Aasvoël trou met Olifant
Aasvoël trou met Olifant,
Jakkals is die predikant
skeel Renoster is die koster
en Haas is musikant.
Asvoël hou sy toespraak
en hy praat met sy mond vol kos,
en sy bruidjie word so kwaad daaroor
dat sy hom net daar los.
Akkedissie Akkedissie
Akkedissie Akkedissie
voor die koeistal se deur,
jy lyk so bleek en treurig –
wat het met jou gebeur?
Dis die koei – sy het my stertjie
morsaf gebreek;
al wat ek gedoen het,
is om vir haar tong uit te steek.
Ragie wou ‘n vis koop
Ragie wou ‘n vis koop
maar haar geldjies was te min;
sy vra toe vir ‘n halwe brood
maar daar was muise in;
toe koop sy maar ‘n soet patat
en eet hom dat die stroop so spat.
Uit: Sit om jou dassie (Die Kinderpers van S.A., 1973)