Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

R.K. Belcher

Ronald Kenneth (Ronnie) Belcher is op 21 April 1933 in Goodwood gebore as een van 13 kinders van ʼn Engelssprekende werkersklas-gesin. As arm student aan die US het hy vakansietye na die destydse Rhodesië geryloop waar hy sy studiegeld verdien het. Sy lewensbeskouing is waarskynlik grootliks gevorm deur sy eie stryd om oorlewing en sy ervaring van die Charismatiese godsdiens as jong man.

Hy debuteer in 1956 met Mens en Skepper waarvoor hy ’n nasionale poësieprys wen.

Belcher se DLitt-verhandeling oor die poëties-psigologiese grondslag van die sonnetvorm is in 1969 in verwerkte vorm deur HAUM uitgegee onder die title Die sonnet as digvorm. Hy publiseer elf digbundels in sy leeftyd, waarvan die laaste bundel, Van heidebos en klip in 2000 verskyn het.

Sy belangstelling in die volksletterkunde het o.m. tot uitgebreide navorsing gelei oor die Griekwa-kultuur en die Morawiese Sendingkerk. ’n Aantal van sy gedigte is getoonset, o.a. deur Laurinda Hofmeyr. Temas wat meermale in sy ‘ernstige’ poësie voorkom is die liefde, die Kaapse mense, die vrou, die dood en die religie. Belcher is ook bekend vir sy kinderverse en veral vir sy speelse (spulse) kwatryne.

Belcher, wat nie net mynwerker was nie, maar ook uitgewer, dosent in Afrikaans en Nederlands en later wynboer, is in 2006 oorlede.

’n Meer in-diepte biografie is op Litnet te lees: https://www.litnet.co.za/rk-belcher-1933-2006/


 

Genadendal

 

‘n Dowwe plaatjie: Welkom te Genaal

sê ons is nog familie; want dis hier

dat ons met Kinderfees en Broedermaal

genadiglik ʼn samesyn kan vier

wat eie is; in elke voorhuis hang

ons testament in ʼn vergulde raam:

’n blanke oupa met soldaterang,

kind op die skoot, trots met sy bruin vrou saam.

Onder die soet van bliekombalk en riet

het ons deur jare vasgevleg geraak

met stringe ui en brandvloer op palmiet

aan ’n verlede wat ons trotser maak

oor voorgeslagte wat ons ken, maar weet

ons wit neefs het hul lankal reeds vergeet.

 

Uit : Ringe in ʼn geelhoutboom, Perskor, 1982

 


Die graf is toegegooi

 

Die graf is toegegooi

jou plek is leeg in die kooi

die suster wat die kranse pak

hoe buk sy dan so mooi

 

Uit:  ʼn Ding om te skil in die maand April . Klipbok, 1980

 


Die Djêrrê en die dooiwêl

 

Die Djêrrê hy’s gabôrrô by die maag

en ês sy eie pa. Nou hy’t gatôr

en al die goetês ês. Die naag hy’s daag

en vês klem ooit die battêr en maak spôr.

Nou Sondag by die kerk ek hôr die prêk

van al die lekkêr goetês as hy kom,

dan al die tien geboues afgabrêk.

Die Djêrrê siestog hy’s gaslag prês hom.

Die dooiwêl hy ês boetie van maboer

en as ek battêr vra of stokkie brôd

dan sommar vloek vôr my jou ma sy moer

en hoekom ek nie by gabôrrô dôt.

Mar ek hy weet die Djêrrê sy sal kom.

Die dooiwêl sies hy ês gasooip fôk hom.

 

Uit: Van heidebos en klip, Suider Kollege, 2002.

 


Poësie-aand

 

Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee

my siel ontbloot for everyone to see?

Hier tussen die geskinder en gepraat

my siel ophang soos aan ’n doringdraad?

Met ander se geroggel en gerook

my sielsgeheim met nikotien bestook?

Hier tussen al die waaiers en die fans

myself beskinder saam met also-rans?

Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak

oor snaakse goed wat ander siele raak

soos ghoffels wat kafoefel op ’n trein

and other dear souls crying in the rain.

Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm

voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

 

Uit: Van heidebos en klip (Suider-Kollege, 2000)

 


Witroes in die blaar

 

Witroes in die blaar

dis fienies en dis klaar

miskien kom daar ‘n moerse oes

die een of ander jaar

 


After all said and done

 

After all said and done

sê oom Piet vir oom Jan

Vat maar jou drienk

so nou en dan

 

Uit: So is die lewe vir een pond sewe (HAUM 1978)

 


Aasvoël trou met Olifant

 

Aasvoël trou met Olifant,

Jakkals is die predikant

skeel Renoster is die koster

en Haas is musikant.

 

Asvoël hou sy toespraak

en hy praat met sy mond vol kos,

en sy bruidjie word so kwaad daaroor

dat sy hom net daar los.

 


Akkedissie Akkedissie

 

Akkedissie Akkedissie

voor die koeistal se deur,

jy lyk so bleek en treurig –

wat het met jou gebeur?

 

Dis die koei – sy het my stertjie

morsaf gebreek;

al wat ek gedoen het,

is om vir haar tong uit te steek.

 


Ragie wou ‘n vis koop

 

Ragie wou ‘n vis koop

maar haar geldjies was te min;

sy vra toe vir ‘n halwe brood

maar daar was muise in;

toe koop sy maar ‘n soet patat

en eet hom dat die stroop so spat.

 

Uit: Sit om jou dassie (Die Kinderpers van S.A., 1973)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Gert Vlok Nel
  • Meyer van Rensburg. Spieëlkamer
  • Margaret Cordier-Biermann. Verlossing
  • Wynand J Booysen. koue afgrond
  • Don’t Hesitate! – AVBOB Poetry Mini-Competition winners

Nuutste kommentaar

  1. Conrad on Hans du Plessis. Psalm 121 (Stemgreep)30 July 2026

    Goeie middag ek is n koorleier van die VGK Kerk Kraaifontein en is op soek na die SATB Blad musiek…

  2. Marieta McGrath on Miel Vanstreels. Voorlopig30 July 2026

    Stout gedig! Baie snaaks!

  3. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

  5. STEPHANUS JOHANNES MARAIS on Margaret Cordier-Biermann. Wekroep van die verlostes28 July 2026

    Die gedig verbeeld 'n fase in die mens se lewensverloop waar hy ingehok voel en die omstandighede die uitsig beperk…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d