![]() Tom Gouws (1961-2018) is ’n wiskundige, letterkundige, onderwysspesialis, skrywer, bekroonde dramaturg en digter. Hy is gebore op Mafikeng waar hy dan ook in 1979 aan die Hoërskool Mafikeng matrikuleer. Hy behaal sy B.A.-graad met hoofvakke Afrikaans-Nederlands, Wiskunde en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 1982. Hy doseer aan die Universiteit van Potchefstroom, ook dié se Vaaldriehoekkampus, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Noord-Wes (as waarnemende visekanselier en rektor) en die Graduate Academy of Southern Africa (as kanselier). Hy was aan die stuur van ElijahAfrica, ’n internasionele bedieningsnetwerk. Verder lewer hy ook ‘n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde met sy werk as samesteller, medewerker en resensent. Gouws se gedigte verskyn in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde. Hy maak sy debuut met die digbundel Diaspora (1990) wat in dieselfde jaar genomineer word vir die Rapportprys. Daarna verskyn Troglodiet (1995), Syspoor (2002), Ligloop (2010) en Stigmata (2012). Ligloop word in 2011 met die ATKV-veertjie vir poësie bekroon en was ook op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg-prys. Sy gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, Honderd jaar later en Die dye trek die dye aan. Gouws skryf ook verskeie dramas. Nag van die lang messe word in 2005 met die Nagtegaalprys vir nuut geskrewe dramas bekroon. Tom Gouws is in 2018 op 25 Julie vermoor op sy kleinhoewe buite Pretoria. Versindaba betreur hierdie tragiese en sinnelose gebeure. Lees gerus ’n meer in diepte biografie oor Tom Gouws op LitNet: |
advent
“She said to me: ‘What an instrument your body!
Single and perfectly distinct from everything else!
What a tool in the hands of the Lord!
Only God could have brought it to its shape!”
-D.H. Lawrence
2 Kor. 4:16
sy kyk stip na die troufoto teen die muur,
dan stip na hom waar hy stol as naakfiguur,
die los buiteflappe van sy vleestent weggeskuif.
“my bruidegom het nou ‘n middeljarige se lyf,”
sê sy hartseer bruid gedemp. met dowwe oë kyk
hy onwillekeurig na die spieël wat vaagweg lyk
soos hy, skaamherken die indertydse bruidegom,
maar veel, véél is anders nou aan hom:
die eens welige swart boskaas is nou asgrys yl;
die tande afgevyl deur tyd; die lyf wat soepel geil
en passievol kon buig, is seer en stadig, ‘n ou kolos
met wit deeg aan die flanke; uit ‘n woeste klos
snorbaard loer ‘n moeë leeu se droë snoet;
vel verlep tot ou skil, mangogeel-en-swart gesproet.
sy kyk stip na die bruidegom se gerinneweerde tent.
met dieper oë probeer sy sin sien in dié patent
van weerloosheid. diep binne eien sy dit wat latent
gloei, ‘n sagte lig wat dié ou lap sonder fondamente
openbaar: ‘n staning vol goud en edelsteen, talente
silwer, spesery … die lyf word ‘n sakrament
– beleë wyn en uitgespaarde brood – ‘n testament
sonder sediment. sy kyk stip na dié spotprent
van die Bruidegom en hoe óngesiens Hy Hom inent.
© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)
Uitstekend!
So jammer dat die talent deur sinnelose selfsugtige mense vernietig is!
My innige meegevoel met julle as gesin!