![]() Trienke Laurie is op 10 Mei 1946 in Kaapstad gebore – die oudste dogter van die bekende digter en letterkundige DJ Opperman en Marié Opperman. Sy behaal ’n B.A.-graad en Onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch. In hierdie tyd vorm sy ook deel van haar pa se bekende Letterkundige Laboratorium. Laurie skryf haar eerste gedigte as vyfjarige dogtertjie. Haar eerste gedig waaroor haar pa opgewonde geraak het, was “Wurm, wurm, spin vir my”, wat sy geskryf het toe sy ongeveer sewe jaar oud was. Sy debuteer in 1997 met Skietspoel waarmee sy die Ingrid Jonker-prys wen. Daarna volg die dramatiese alleenspraak oor die Anglo-Boereoorlog, Ek sien ’n rooi bul storm (1999), en Uitroep (2001). Haar jongste bundel is Sonskyf (2007). Haar gedigte word ook in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, Nuwe verset, Kleuterverseboek en Nuwe Kleuterverseboek. In 2020 word haar gedig ‘Ongevraagd kind van ongehude ouers’ in Vers en vrou opgeneem. Trienke het vir ’n jaar op Vredendal onderwys gegee en na haar troue word sy ’n tuiste skepper. Haar liefhebbery sluit die skilderkuns in: Drie van haar bundels het omslae gebaseer op haar eie skilderye. Lees meer oor Trienke Laurie en haar werk op LitNet. |
Delphi
Ek het die duisendpoot opgetel
en kyk, dit was lank uitgestrek-
‘n naelstring om ‘n stok of fallus.
Toe rol hy op in ‘n naeltjie,
word vrou en vagina.
*
Hier by Delphi, by die middelpunt van die aarde
kom bymekaar: die mens, die dode en die gode.
Die omphalos van die wêreld
se naelstring draai,
golf na die klipperige aarde,
maar onafgesluit kring hy ook uit —
‘n ewigheidsirkel met sy voeding
van gees van bo uit die hemelblou.
Bo Delphi hang die Diereriem — ‘n slang,
‘n silwer afgeslibde vel van skubbe ster
en onder dein Ouroboros met die see
wat reg om die aarde sluit.
Hier by die aarde se middelpunt,
by die omphalos, sluk hy sy stert in…
so broos die vraag:
en waar sou hy, Ouroboros, begin?
Van walms bo die krater
het skaapwagters gehallusineer
en later kom die orakel
en word beelde opgetower in breinkronkels,
in die grys see van die brein en die onbewuste.
Soms stotter die orakel stink sprake voort
ander kere ‘n goed ontvangde woord.
Die bron, sou dit goed wees of kwaad?
Tog kom menige bekende hier en vra om raad.
En altoos bo die berg:
twee roofvoëls wat sirkel
oor die olyfbos, oor die omphalos,
al om en om….
© Trienke Laurie. Jan 2011
Seekat op Minoaanse amphora
(Die kus van Zakros)
Haar oë is twee swart eilande
wat diepkyk in jou hart
Haar arms amper swagtelende sluiers.
Suiers stippel die ranke pote –
vrolike staccato’s voortgesit in borrels.
Sy is ‘n sierlike Minoaanse prinses
met perdebymiddeltjie en golwende lyf.
Twee arms omlyn haar grootoogkop
terwyl die ander pote ‘n ritmiese dans uitklop
Hierdie ongewone ongrillige seekat op die amfora,
prikkel die sintuie –
sy wikkel jou tone; die seekatjie dans
sy dans ‘n Salome sekskat-riel, sowaar!
Die Parthenon, onder andere
Die antieke geboue in Griekeland
selfs dié gewy aan die gode
het altyd in gedagte:
die wiggel van die gode
en die wankel van die aarde
Die stene word geanker,
want die aarde sidder
en die pilare wrik
as die gode skik…
Atheense uiltjie
Die uiltjie word gekerf –
Athena se wysheid in die wye kyk-
met binnekant sy verebors gekooi
en sigbaar tussen openinge:
‘n uilbal of kleiner uiltjie.
Dis die gees van die hout
ook die hart van die boom ;
sy lewe verweef met die uil,
wat ook alles uit die kruin bespied het;
die seder wat bo alles gesweef het
die uil wat bo alles uitgetoring het
die boom verveer, die uil verblaar het
Die gees van die boom
hoe-hoe
hoe hy gekreun het in die wind
hoe die uile in hom kom sit het
Hoe-hoe!!
© Trienke Laurie. April, 2009.
Ostraka
Op die wit potskerf
oefen die leerling in rooi.
Sy oë soek en meet en pas.
Met gebruik van ’n ruitenet
maak hy versigtige hale met die kwas,
volg hy die patroonboek nougeset.
Hy verf valkvlerke om ’n keweramulet,
Ra roeiende in sy manjet,
hy leer ken die verhoudings
van die liggaamsdele tot mekaar,
skilder koeie wat met geboë rug baar
en later, dramaties: ’n leeu op ’n duin
in plaas van ’n strak basislyn.
In Farao se hand kom die lusvormige kruis …
Die voltooide produk seël hy met harpuis.
Die meester korrigeer met swart
’n kontoer ietwat skeef, straks uit met ’n aks,
op wit ostraka van gemaalde kalk.
Die tekens staan vir frases klank
wat die leerling mettertyd bemeester;
ook deur die ankh, hulle lewensteken,
raak hy só begeester,
hy verf bedrewe sonder ruite –
die patroonboek ken hy reeds van buite.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008