Algemene opmerkings deur die volgende drie beoordelaars. Bls. (1);2
1. Prof. Louise Viljoen, Universiteit van Stellenbosch: Die omskrywing van die lykdig by die uitnodiging om deel te neem aan die kompetisie het kennelik die sewentiende-eeuse model van ‘funeraire poëzie’ (soos omskryf in Witstein se studie) in gedagte gehad. Daar is byvoorbeeld verwys na die aspekte van lof (laus), rou (luctus) en troos (consolatio) wat die uitstaande boustene van hierdie soort gedig is. Die vraag is in watter mate ’n mens hierdie beskrywing van die lykdig as ’n voorskrif moet gebruik wanneer jy probeer bepaal watter gedigte wel kwalifiseer as lykdigte. Wat my betref is daar ruimte vir variasie en innovasie sodat daar voorsiening gemaak kan word vir verwerkings van die bestaande model of nuwe interpretasies van wat die begrip lykdig verteenwoordig. Alhoewel die meeste van die finalis-gedigte elemente van die tradisionele lykdig bevat, is daar tog ook ander wat speel met die tradisie.
Dit opvallend dat die meeste van die gedigte hou by die retoriese voorskrif van ‘decorum’ wat in die tradisionele lykdig geld, naamlik dat daar harmonie moet wees tussen die aard van die gestorwene en die wyse waarop daar oor hom/haar geskryf word. Gevolglik word daar in elkeen van die finalis-gedigte baie sterk gesteun op die digter se lewe en werk, veral op laasgenoemde waaruit daar dan geput word vir die konstruksie van die gedig. Dit is natuurlik een van die mees effektiewe maniere om ’n digter se lof te besing. Die gevaar van hierdie prosedure is dat die uitgebreide aanwending van die gestorwene se beeldmateriaal en gedagte-inhoude die lykdigter se eie stem kan verdring en kan lei tot geforseerde beelde, soos wat soms wel die geval is.
Wat vir my minder opvallend is in hierdie lykdigte is die element van rou. Daar is min gedigte waarin ’n mens ’n gevoel van intense verlies, verdriet of melankolie ervaar. Vanweë die opdrag om te skryf oor ’n digter is daar ook nie soveel sprake van die ontreddering wat ’n mens vind in lykdigte wat geskryf word oor die dood van iemand na aan jou, oor iemand wie se dood jou skok of vul met vrees nie. Alhoewel daar in enkele gedigte sprake is van die persoonlike impak wat ’n bepaalde digter op die outeur van die lykdig gehad het of van ’n kreatiewe gesprek met ’n voorganger, is dit meestal ’n relatief afstandelike spel wat gespeel word met die betrokke digter se werk en lewe. Die gevoel wat die sterkste deurkom, is dié van verering vir belangrike en invloedryke voorgangers.
2. Prof. Joan Hambidge, Universiteit van Kaapstad: Die beoordeling van so ‘n kompetisie laat die beoordelaar opnuut nadink oor die rol van die elegie. Jy moet drie verse kies uit ‘n besondere goeie aantal verse en verse wat nog nie heeltemal die mas opkom nie, maar wél meriete het. So nou begin smaak (en jou opvatting van wat ‘n goeie gedig is) ‘n rol speel. En terselfdertyd hoe lyk ‘n geslaagde lykdig.
Catullus se Carmen 101 (wat deur Johann de Lange herdig word) en Ovidius is twee mylpale in hierdie digsoort. Op die Wikipedia word die elegie klinkend as volg gedefinieer: In literature, an elegy (from the Greek word ἔλεγος, “lament”) is a mournful, melancholic or plaintive poem, especially a funeral song or a lament for the dead. http://en.wikipedia.org/wiki/Elegy (Besoek 25 Julie 2014).
Daar is ‘n lang tradisie van elegiese verse in Afrikaans wat by Totius begin en vele uitstekende lykdigte vind ons o.a. by Opperman (oor sy moeder), by TT Cloete, by Breytenbach (eweneens oor sy moeder), ensomeer. By die Ierse digter Paula Meehan is daar die aangrypende “Child burial” en natuurlik Auden se “Funeral blues” wat in die film Four weddings and a funeral beroemder geraak het.
Die sentimentele lykdig met woorde waarin “siel” voorkom, werk nie vir my nie. Die soort gedig het ‘n bepaalde struktuur: laus, luctus, consolatio. Overgesetsynde die lof, die lament en die herstel of berusting.
In die klassieke model is dit dan ook óntoepaslik om die oorsaak van die dood te vermeld – ‘n konvensie wat steeds gevolg word vandag met doodstydings en in memoriam-aankondigings in ‘n dagblad. Die leser kan dikwels net uit die boodskap aflei hoe die persoon dood is. Was dit ‘n lang, uitmergelende proses (soos met kanker) dan is daar berusting. Die skielike heengaan, word weer begelei met skok en ontsteltenis.
3. Dr. Marlies Taljard, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom: Oor die algemeen het ek die 20 gedigte besonder geslaagd gevind – en ek sê dit nie omdat dit sogenaamd van ‘n keurder verwag word nie. Dit was vir my besonder moeilik om ‘n keuse te maak, veral onder die top-10 gedigte.
Die meeste digters het ryklik gebruik gemaak van intertekstuele verwysings na die werk van die digter oor wie die elegie handel. Dit op sigself verseker natuurlik nog nie ‘n goeie gedig nie. Ek het probeer om heel eerste verby die intertekste te lees en vas te stel of die gedig sin maak, selfs al sou die leser nie die intertekstuele aanspelings, insinuasies en verwysings na tekste en na bepaalde outobiografiese besonderhede verstaan nie. Die meeste digters het hierdie toets geslaag. In baie gedigte het die intertekste van die ontslape digters ʼn nuwe dimensie of betekenis aan gedigte toegevoeg en selfs ironiese kommentaar by nabaat gelewer. In enkele gevalle was die groot aantal intertekstuele verwysings egter steurend en het dit die vloei van die gedig belemmer of die betekenis verdoesel. Wat verder ‘n belangrike rol by die beoordeling gespeel het, was of die digter daarin slaag om die aard van die ontslape digter vas te vang en om die spesifieke geval te oorstyg sodat die gedig ook iets universeel-mensliks weerspieël, soos dat dit ʼn besinning oor sterflikheid as sodanig word. Daarbenewens het die struktuur van die gedig en die digter se tegniese vaardigheid uiteraard ook ‘n rol gespeel by die beoordeling. Daar was enkele gedigte met ʼn sterk struktuur, goeie vloei en sinvolle, gemotiveerde progressie. Dikwels het metafoorgebruik egter die gedig gekelder deurdat daar enkele metafore was wat nie binne die metaforiese raamwerk ingepas het nie. Soms was daar enkele reëls/woorde wat nie binne die register waarin die gedig geskryf is, ingepas het nie.
Tradisioneel is ʼn gevoel van verlies en selfs rou ʼn basiese element van elegieë. Dan volg dikwels prys van of herinnering aan die ontslapene en, om die siklus van rou te voltooi, troos of berusting. Oor die algemeen het elegieë ʼn meditatiewe karakter en is dit (in moderne tye nie altyd meer nie) liries van aard. Dié gedigte wat ek in die eerste posisies geplaas het, maak almal op een of ander kreatiewe (dikwels uiters subtiele) wyse, van verskeie van hierdie stylkenmerke gebruik.
Ten slotte het die beste gedigte subtiliteit, suggestiewe krag, harmonie en afronding in gemeen. Baie geluk aan die wenners – diegene wat nie gewen het nie, het soms maar net ʼn haarbreedte agter die ander geëindig. Wat my betref, sou ten minste die helfte van die semifinaliste ook as wenners uit die stryd kon tree.
*