Joan Hambidge. Omgekeerde sonnet
Monday, February 15th, 2021
Omgekeerde sonnet
Ek het jou toegelaat, meer as een keer,
om my hartstogtelik te verrinneweer.
Dié sonnet, onafgelewer, ‘n nabootsing
soos ‘n onbekende DHL-versending.
Niemand tuis, nes die leser, ingekeer
besig om rympatrone uit te keer.
Op watter dag, tyd of plek
het die hart haar ingeperk?
Is daar ‘n onthou- of beroukaart
om soiets presies uit te klaar?
‘n Tirannie van die Verlede
word ‘n oop-breek in die Hede.
Die gedig slaan toe, vervaard.
© Joan Hambidge, 2021