Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais Ondertussen’

Resensie: Ondertussen (Johann Lodewyk Marais)

Wednesday, August 26th, 2020

 

 

 

Ondertussen, deur Johann Lodewyk Marais. Naledi, 2020

Resensie: Daniel Hugo

 

Johann Lodewyk Marais skryf al vier dekades lank ’n soort praatvers: ingeperk deur lettergreeptelling, sober van woordgebruik, met weinig beeldspraak en meestal sonder ’n klimaktiese slot. Tog boei sy beste gedigte jou deur die fyn gebalanseerde gedagtegang, onopvallende klankeffekte en suggestieryke verswygings. Dit is eintlik iets unieks in Afrikaans. Van Uys Krige het D.J. Opperman op ’n keer gesê dat sy praatverse neig tot luidrugtige spraaksaamheid. Dit sal ’n mens Marais egter nooit kan verwyt nie.

Marais is bekend as ’n digter wat ekologies bewuste verse skryf. Dié tema word treffend verwoord in die titel van sy bundel uit 1992: Verweerde aardbol. Dit roep steeds onwillekeurig by my op die volgende reëls van D.J. Opperman uit sy bundel Dolosse (1963):

 

Die bleek aardbol

is swart aangebrand,

’n ingedukte

alunimiumkastrol.

 

Marais het twee bloemlesings groen verse saamgestel: Groen, gedigte oor die omgewing (1990) en (in medewerking met Ad Zuiderent) Ons klein en silwerige planeet – Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Sy bekommernis oor die vernietiging van ons aarde en sy spesies vind ook neerslag in die tematiese bundels oor voëls (Aves, 2002), die see (In die bloute, 2012) en insekte (Insektarium, 2018). In vroeër bundels het hy sy land van herkoms, die Oos-Vrystaat, nostalgies en noukeurig in kaart gebring. Nostalgies maar nooit sentimenteel nie.

“Sleutels”, die openingsvers van Ondertussen, handel oor die ontsluiting van die verlede:

 

My pa se bos sleutels kon die staaldeure

van die Ou Fort luid- en weergalmend sluit,

maar kan ek jare later daar instap

en, nou bevry, alles probeer ontsluit?

 

(Terloops, dit is jammer dat die teenwoordigheid van die vader nie meer aandag in die bundel kry nie. Hierdie kwatryn skep moontlikhede wat ongelukkig nie verder ontgin word nie.)

Die tweede, hegverweefde afdeling van die bundel bevat inderdaad talle jeuherinneringe waarin die verse mekaar as ’t ware weerspieël. Hierdie weerkaatsingseffek word reeds voorberei deur die titel van die gedig “Spieël” in die eerste afdeling.

Die indrukwekkende, lang gedig “Piromaan” vind sy pendant in “Die verloop”. In die eersgenoemde vers is dit ’n wit seun wat die boere – “sy eie mense” – se hooimiedens aan die brand steek. In “Die verloop” is dit “duister figure” wat “die boereopstal” afbrand. In hierdie vers word beskryf hoedat die trekboere hulle by fonteine gevestig en huise gebou het deur “klip op klip” te pak. In die daaropvolgende gedig, “Erdvarkgat”, word die verlate voorvaderlike graf van die inheemse bevolking die erdvark se “teelgat”. Dit is betekenisvol dat dié graf die vorm van ’n “klipstapel” aanneem.  Eers het die koloniste die inheemse mense uit die veld verdryf, maar uiteindelik seëvier die natuur. Die erdvark beskerm ten slotte sy “erfgrond”. Dit is inderwaarheid ’n herskrywing van D.J. Opperman se gedig “Edms. Bpk.” waarin die janfiskaal en koperkapel “Dirk se erf” terugeis en tot eiendom verklaar.

Die mens as sodanig (“uitheems” én “inheems”) is dus ’n tydelike, ongewenste teenwoordigheid in Afrika.

Die “veld” word as die habitat van die erdvark uitgewys – die einste veld wat deur die inheemse veeboere en blanke inkommers as weiding gebruik is. Dit slotstrofe van “Hamish” spel dit uit:

 

By die krip met helder skoon water

steek hy sy hand uit oor die soetgrasveld

waar die teeltroppe van sy weiding loop.

 

Die “fontein” van “Die verloop” is hier getem tot “krip”, maar die grasveld as teelterrein van beestroppe sal volgens “Erdvarkgat” ten slotte aan dié dier ’n “teelgat” verskaf nadat die mens en sy makgemaakte vee verdwyn het.

Die boer in Afrika, waar grondbesit al eeue lank ’n strydpunt is, bly soek na groener weivelde. In “Biduur”, met die datumaanduiding 1965, emigreer ’n gesin na Rhodesië se “groener tabaklandery”. Die ironie daarvan hoef sekerlik nie uitgespel te word nie. Inderwaarheid was die Europeër se posisie in Afrika nog altyd prekêr; daarvan getuig die gedig “Banneling” uit die derde afdeling. Daar word vertel hoedat ’n Belg destyds uit die Belgiese Kongo moes vlug. Sy pa, wat agtergebly het om sy sake in orde te kry, se keel is afgesny. Dit is veelseggend dat die Belg naamloos bly – hy word sodoende die verteenwoordiger van duisende lotgenote.

Maar Afrika is ook ’n gevaarlike plek vir sy oorspronklike inwoners. In Junie 2004 is 16 000 vroue in die huidige Demokratiese Republiek van die Kongo verkrag deur rebellemagte onder die bevel van generaal Nkunda. “Vroue van Bakavu” is ’n ontstellende gedig. Die inkanterende refreine van hierdie villanelle het ’n aweregse uitwerking. Die liriese kwaliteit van die versvorm verhoog die onuitspreeklikheid van dié gruwelgebeure.

Op 2 April 2015 is 148 mense op die universiteitskampus van dié Keniaanse stad Garissa deur lede van die funamentalistiese Moslemfaksie el-Shabaab vermoor. Die gedig “Garissa” open met ’n pastorale beskrywing van nomades wat deur die droë vlaktes met hulle vee trek, terwyl die slagting in die stad plaasvind. Hierdie gebeure word versmatig in die eerste reëls voorsien deur die verwysing na “doempalms” en krysende kraaie. Maar, soos in “Erdvarkgat”, gaan die natuur sy onverstoorbare gang: “Stadig loop die Tana se bruin water.”

Die uitsigloosheid van die mens se bestaan in Afrika word in “Beleërde stad” enigsins verlig deur humor. Die datumaanduiding is 2017:

 

In die verte die dynserige beeld

van Paul Kruger, magies op die plein

en ons ry om die betowering.

Nou lê daar lemmetjiesdraad.

Dis ’n stroewe ervaring.

Afgesien van die beleëring.

Alles rondom. Die stad.

Kruger is toevallig die laaste keer

te velde: omsingel deur rooi baadjies.

 

Dit verwys natuurlik na die EFF se toenmalige protesaksie in Pretoria.

In die vierde afdeling ontvlug die digter self uit Afrika: “’n Droewe kontinent het my laat gaan” (p. 47). Hierdie reël bevat ’n eggo van N.P. van Wyk Louw se onvergeetlike treursang oor Suid-Afrika wat begin met die reël “O wye en droewe land” – ’n verwysing wat in afdeling 3 voorafgegaan word deur ’n (onbevredigende) herskrywing van Louw se bekende strofe:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

Die digter besoek Lissabon, die Alpe en Amsterdam. (In die sewende afdelig is daar ook twee verse wat afspeel in Den Haag.) In die Alpe voel hy dat hy hom in die Paradys bevind. Sy soeke na ’n tuiste en liefde, soos vroeër verwoord in “Onvoltooid”, word dus hier kortstondig vervul.

Die bundeltitel, Ondertussen, verwys waarskynlik ook na die mens se bestaanswyse: ’n kortverblyf, ’n vlietende oomblik in die ewigdurende tydsverloop van die heelal en die onkeerbare voortgang van die natuur, soos vergestalt in die bewuswees van die sterre in “Kersfees op Clarens” en die byhaal van Van Wyk Louw se “iets staan in sterre-en-helderte geskryf” in “Herinnering”. Die digter skryf ná in stof en vergaan dan self tot stof: “en jy gee jou hand vol stof terug / aan die aarde en al die elemente.”

In die sesde afdeling vind die digter – eweneens kortstondig – vervulling in die liefde, soos blyk uit die twee gedigte “Mo li hua cha” (= Chinese tee) en “Heuningbos”. Die treffendste vers in hierdie afdling is “Seekosbord” waarin die ekologies bekommerde digter op ’n lig ironiese wyse aan die woord kom:

 

“Skryf ’n vers oor ons seekosbord,” sê sy

in ’n stampvol restaurant in die stad

waar die verkeer deur die oop vensters dreun.

“Oor hierdie stokvis, calamari, krap,

tiergarnale en swartmossels?” vra ek.

Sy knik. Ek huiwer en wys met my pen

na die borrelende akwarium

waar ’n kreef teen die glaswande krabbel.

 

Presies hoe vervlietend die mens se liefdeservaring en gevoel van geografiese geborgenheid is, blyk uit die slotgedig, “Ode”, met sy weerklanke van Fransiskus van Assisi se “Lof van alle kreature” en uiteraard Neruda se Odas elementales:

 

Oupa Uil,

ouma See,

moeder Aarde,

broer Son,

suster Maan –

ek het gesoek

en gesien

my spore

lê in die Waterberg,

langs die Palala,

in kringe op ’n pan

wat verklein

tot ’n waterkewer

se spel:

lê tussen verkoolde

boekenhoute;

deur Bokpoort

’n dun ry

in die nag –

maar,

wyses van die Al,

sê my, sê my

waar die liefde lê.

 

Ondertussen is ‘n ryk bundel wat die broosheid van die mens, en veral van die mens in Afrika, onderbeklemtoond maar trefseker in Standaarafrikaans, ook ’n bedreigde spesie, verwoord.

 

Onderhoud met Johann Lodewyk Marais

Thursday, August 20th, 2020

 

 

Neil Cochrane gesels met Johann Lodewyk Marais oor sy bundel Ondertussen. Naledi, 2020.

 

Neil Cochrane: Johann, baie geluk met Ondertussen, jou elfde digbundel. Die bundeltitel dui op gebeure wat plaasvind, terwyl iets anders besig is om te gebeur. Dus word tydsverloop tussen hede en verlede geïmpliseer, onderwyl die digter hom dalk met ander dinge besig hou? Kan jy verdere toeligting op die bundeltitel bied?

 

Johann Lodewyk Marais: Ondertussen bestaan uit gedigte na aanleiding van momente uit verskillende tye. Heelparty van die gedigte spruit uit persoonlike ervarings en/of belewenisse, terwyl ek my op velerlei plekke in tyd en ruimte bevind het. Uiteindelik kon ek die gedigte in ’n versameling bymekaarbring en tot ’n bevredigende eenheid saamvoeg, wat iets van die verskeidenheid van my belangstellings behoort te toon en die gedigte oor Afrika, Europa en die wêreld van my kinderjare in my ander digbundels “aanvul”. Die titel suggereer dat ek “tussendeur” of “tydens”, of “onderwyl” ek doenig is met, my skryfwerk oor die omgewing of allerlei spesies ook oor ʼn veelheid ander onderwerpe skryf. Ondertussen bied dus iets van ’n “tussenspel” waarin ek met ʼn bepaalde historiese, sosiale en ekologiese bewussyn oor breë tendense besin.

 

NC: In jou nuwe bundel kom bekende temas in jou oeuvre weer aan die bod: jeugherinneringe, familiefigure, die bemoeienis met Afrika, reis en die omgewing. Hierbenewens is duidelike voorbeelde van selfevaluering teenwoordig waar die spreker poog om sy posisie binne groter kontekste te bepaal. Dit word op die spits gedryf in die voorlaaste gedig, “Bonjour tristesse”, waarin die spreker tot “’n nugter slotsom” oor die beperkinge van sy reise en digkuns kom. Verteenwoordig hierdie gedig (en die bundel in sy totaliteit) ’n soort keerpunt in jou digterskap? Openbaar dit ’n spesifieke insig wat hom ondertussen aangemeld het?

 

BONJOUR TRISTESSE

Hierdie is ’n nugter slotsom.

My sober reise is oorskryf.

Gedigte het voortgekanker.

In sel en weefsel ingeskryf.

 

Ek het my drome opgeskeur.

’n Swart sak langs die straat laat staan.

Voer Pegasus paddastoele

wat giftig in die tuin opslaan.

 

JLM: My eerste reaksie is dat Ondertussen hopelik teen Oktober opgevolg gaan word deur my volgende uitgebreide tematiese bundel, Veldboek, uitgegee deur Imprimatur, waarin ek op bome, blomme en plante konsentreer. Derhalwe is Ondertussen nie in daardie opsig as ’n slotsom bedink en/of bedoel nie.

Die gedig, “Bonjour tristesse”, het reeds lank gelede ontstaan, “in my laai gelê” en as ʼt ware sluimerend in my geheue gebly. As ek reg onthou, was die gedig selfs deel van die oorspronklike manuskrip van Plaaslike kennis (2004). Voor die skryf van die gedig het ek inderdaad eenkeer in ʼn gebaar van versobering baie van my gedigte opgeskeur en in ’n swart sak gegooi om daarvan ontslae te raak. Gelukkig/ongelukkig het ek nie dadelik die sak uitgesit vir die vullisverwyderaars nie. Dit het my dae lank geneem om die gedigte weer aanmekaar te plak, en baie van hulle het in latere bundels beland. Skryf en vertwyfeling gaan hand aan hand, maar een van die redes om te publiseer, is om te voorkom dat jou werk letterlik verlore gaan. In werklikheid het ek ook ongepubliseerde gedigte wat ek om verskillende redes waarskynlik nooit sal publiseer nie.

 

NC: Die gedigte in die tweede afdeling handel oor die spreker se jeugjare. In ’n aantal van hierdie herinneringsgedigte val die fokus op interessante en selfs eksentrieke karakters wat ’n blywende indruk op die spreker laat. Hierdie gedigte beskik byna deurlopend oor ’n sterk narratiewe inslag. ’n Duidelike verband ontstaan tussen die verwoording van jeugherinneringe en die vertelvers. Waarom verkies jy die narratiewe vorm as dit kom by die verwoording van jeugherinneringe?

 

JLM: Jy stuur netjies daarvan weg om die digter direk met die inhoud van hierdie gedigte in verband te bring! My jeugjare en die Oos-Vrystaatse landskap waarin ek grootgeword het, bly ʼn bron van inspirasie, optekening en selfs afrekening. Tussen “die vergete berge van my jeug” was inderdaad interessante en selfs eksentrieke karakters, wat op een of ander manier ʼn indruk op my gemaak het. Te oordeel aan hoe baie van hierdie gedigte handel oor mense wat reeds oorlede is of huldeblyke aan mense wil wees, word dit waarskynlik op een of ander manier “die storie van ons sterfte”. Die narratiewe vorm kom hier goed te pas en is tewens ʼn opvallende tendens in die hedendaagse poёsie.

 

NC: Ek het nog altyd gehou van Afrikaanse digters wat minder bekende digsoorte en vaste versvorme op die proef stel. In dié opsig is Joan Hambidge met haar beoefening van veral Japannese vorme ’n goeie voorbeeld. My gunsteling vaste versvorm is die villanelle, veral weens sy ritmiese en inkanterende kwaliteit en die dissipline wat die vorm vereis.

Ek onthou dat ek jare gelede tydens my honneursstudie ’n poësiewerkswinkel van jou bygewoon het. Een van die oefeninge wat jy vir die klas gegee het, was om ’n minder bekende versvorm na te vors en dan ’n gedig volgens die verstegniese voorskrifte van die gekose vorm te skryf. Ek het die villanelle gekies. Dit was ’n moeilike maar uiters bevredigende eksperiment. Die gedig, “Vroue van Bakavu”, is ’n uitstekende voorbeeld van ’n villanelle. Waarom het jy hier op die villanelle as vaste versvorm besluit, en watter verstegniese uitdagings bied hierdie versvorm?

 

JLM: Ek is oorspronklik deur Dylan Thomas se sublieme, “Do not go gentle into that good night”, tot die villanelle aangetrek. As ek reg getel het, is “Vroue van Bakavu” my vyfde villanelle wat gepubliseer is. (Ondertussen [sic] het die villanelle wat ek oor die sokkerster Diego Maradona geskryf het nog nie ʼn plek in ʼn bundel gekry nie.) Met die rymbeperkinge wat Afrikaans oplê, is die skryf van ʼn villanelle met twee rymklanke oor negentien versreёls heen ʼn uitdaging. Van my villanelle-pogings lê daarom soos wrakstukke in my notaboeke. So werk ek byvoorbeeld al jare lank aan ’n villanelle oor Mahatma Gandhi, wat net nie wil klaarkom nie. Ook die geniale ontwerper en entrepreneur Elon Musk kry nie alles van die grond af nie. Ja, gedigte skryf is “rocket science! In “Vroue van Bakavu” is die bedoeling om met die herhalende klanke die intensiteit van die geweld teen hierdie vroue te beklemtoon.

 

NC: Ek wil vir ’n oomblik stilstaan by “Vroue van Bakavu”. In ’n resensie van Heilna du Plooy oor jou vorige bundel, Insektarium en ander gedigte (2018), maak sy die volgende opmerking oor jou digkuns: “Dit is nie poësie wat jou soos ’n hamerslag teen die voorkop tref nie, dit stamp nie jou asem weg nie, dit skok jou nie, dit manipuleer jou nie openlik en eksplisiet nie …” (Du Plooy, 2018).

Wel, ek verskil tot ’n mate van hierdie taksering. Ek dink dat die emosionele impak van ’n gedig soos “Vroue van Bakavu” beslis nie ontken kan word nie. Die spreker ontmasker hier die skokkende geweld teen vrouens op ’n kompromislose manier. Dit is ’n gedig wat ontstel en my tot nadenke stem. Jou omgewingsbewuste gedig “Seekosbord” in die voorlaaste afdeling is ’n verdere voorbeeld van oorrompelende ironie. Dan is daar ook “Bloubok” uit Verweerde aardbol (1992) wat die uitsterwing van ’n spesie aan die gruwelike hand van die mens skromeloos uitbeeld. Ek dink die uiteindelike impak op die leser hang saam met ’n komplekse interaksie tussen intellek en rou emosie. Nie alle digters slaag daarin om dié delikate balans te handhaaf nie. Wat is jou siening oor die emosionele kwaliteit van poësie en watter soort gedigte ontroer jou?

 

JLM: Allerlei tipes gedigte kan my ontroer of my belangstelling prikkel. Natuurlik hoop ek van harte dat my gedigte, of ten minste sommige van hulle, ʼn emosionele of een of ander soort effek op die leser sal hê. Wanneer ek die natuurwetenskappe, natuurwetenskaplike en ander kennisvelde op ʼn sekere manier betrek, is daar die moontlikheid dat die leser nie altyd met die gegewe kan identifiseer en deur die gedig ontroer gaan word nie. Desnieteenstaande probeer ek die leser boei en met verwondering vervul vir onderwerpe wat moontlik nie geredelik met die poёsie geassosieer word nie. Vanselfsprekend wil ek hê die leser moet ten minste kennis neem van die aktuele onderwerpe wat ek aanraak, al gaan ek moontlik by ʼn ander deur in na die woning(s) van die poёsie.

 

NC: ’n Ander vonds in die bundel is die gedig, “Ladan en Laleh Bijani”, wat handel oor die wêreldbekende Siamese tweeling wat beide tydens ’n opspraakwekkende skeidingsoperasie oorlede is. Die slim woordspel tussen “aan mekaar”, “aanmekaar” en “mekaar” is voortreflik, asook die ironiese slotreëls: “Ná vyftig uur is die susters se wens / op twee operasietafels volbring.” Hierdie is vir my ’n teksboekvoorbeeld van intelligente digterskap, woordekonomie en die funksionele gebruik van poëtiese tegnieke. Dit herinner my aan die digterskap van Elisabeth Eybers waar elke woord op die korrekte plek staan en die digter sonder oordaad haar vakmanskap demonstreer. Ek verklap nou hier my opvattings oor geslaagde poësie. Wat is vir jou die belangrikste kriteria waaraan ’n geslaagde gedig moet voldoen?

 

JLM: Dit is nie ʼn maklike vraag om te beantwoord nie. As leser word ek uiteraard gefassineer deur ʼn magdom gedigte in die Afrikaanse en wêreldliteratuur, wat van allerlei tegnieke gebruik maak. Ek is nie voorskriftelik oor die eise wat ek aan ʼn gedig stel om suksesvol te wees nie. Wanneer ek ʼn poёsiewerkswinkel aanbied, maak ek daarom voorsiening vir verskillende benaderings, talente en voorkeure.

Wanneer ék skryf, is die struktuur en visuele beeld van die gedig belangrik. Die gedig is vir my afgerond en geslaagd wanneer dit reg in my notaboek en uiteindelik op die rekenaarskerm “lyk” en ek, baie belangrik, dit instinktief so ervaar. Ek probeer my gedigte so netjies moontlik afrond, en dit kan lank neem voor ʼn gedig sy uiteindelike beslag kry. Ek gaan die woordkeuse sorgvuldig na en vervang, indien nodig, met verloop van tyd enkele woorde en versreёls. In manuskripvorm kan die voorstelle en hulp van kundiges verder tot die afronding en finale vorm en weergawe van ʼn gedig bydra.

Veral toe ek aan my eerste bundel, Die somer is ʼn dag oud (1983), gewerk het, het ek Eybers se gedigte baie noukeurig as deel van my poёtiese leerskool gelees. Die afgeronde vorm van haar gedigte, die noukeurige woordkeuse en tel van lettergrepe/metrum het my opgeval en bygebly. Prof. Marinus Wiechers was die eerste persoon wat in ʼn gesprek spesifiek van hierdie invloed van Eybers op my werk melding gemaak het. Ek probeer om aan die afgerondheid van ’n Eybers en soortgelyke digters se werk getrou te bly, al het my werk mettertyd ’n eie idiolek ontwikkel.

 

NC: Jou suiwer dog veerkragtige taalgebruik is ʼn ander eienskap van jou digkuns wat ek besonder aantreklik vind. Die onfunksionele taalvermenging in sommige jonger Afrikaanse digters se werk irriteer my mateloos. Ek verwys nie na erkende variëteite van Afrikaans nie, maar gewoon na lui en verbeeldinglose taalkontaminasie. Dieselfde geld vir die effekbejagte gebruik van vloekwoorde, want om in Afrikaans te swets verg nie veel kreatiwiteit nie. Hoe beskou jy taal as instrument in die digter se gereedskapkis? Wat is jou opinie oor die onfunksionele taalvermenging in die werk van sommige jonger digters?

 

JLM: Taal en die vernuftige gebruik daarvan is in alle opsigte die digter se instrument en uiters belangrik. Vernuwing in die Afrikaanse poësie het gewoonlik hand aan hand met vernuwing in die taalgebruik gegaan. Dit geld ongetwyfeld vir die werk van die Dertigers, Veertigers en Sestigers. Ek maak graag gebruik van woorde en verwysings uit die boeke van ’n natuurwetenskaplike en nieliterêre aard, wat ek graag lees.

Taal kan ongewoon gebruik word en dan juis funksioneel wees, soos Leon Strydom, Gert Vlok Nel en Gilbert Gibson goed demonstreer. Oor “die onfunksionele taalvermenging in die werk van sommige jonger digters” wil ek liewer nie ’n veralgemenende uitspraak maak nie. Toe ek gedurende die 1980s begin skryf het, moes ek ’n klompie kere hoor hoe ’n ouer generasie (ook kollegas) verkleinerend en patroniserend oor ons skryf en praat. Ek het my voorgeneem om nie self eendag in so ’n strik te trap nie. Geregverdigde eerder as vergoeilikende kritiek bly natuurlik steeds noodsaaklik vir ’n gesonde literatuur.

 

NC: ’n Aantal Afrikaanse digters soos Johann de Lange en Joan Hambidge is behendige beoefenaars van die lykdig. Daar is ook ’n aantal lykdigte in Ondertussen ingesluit, onder andere oor Louis Eksteen en Elsa Joubert. Wat dien vir jou as impetus vir die skryf van lykdigte, en oor watter waarde beskik hierdie digsoort vir jou?

 

JLM: Ek het die afgelope jare in die media huldeblyke oor ʼn aantal persone, wat op een of ander manier my pad gekruis het, geskryf. Die sosiale media gee ʼn mens ook die geleentheid om kort ná ʼn spesifieke persoon se afsterwe met enkele woorde daarop te reageer. So ʼn boodskap kan bestaan uit die naam, geboorte- en sterfdatum en enkele woorde oor waarom ʼn persoon bekend sou wees. Indien daar ʼn foto by is, is die reaksie gewoonlik groter. ʼn Mens kan oor hierdie verskynsel frons, maar dit is nietemin ʼn vorm van kanonisering, meelewing en bron van nuus en inligting.

In Ondertussen is daar waarskynlik meer lykdigte as in my vorige bundels. Soos ek ouer word, is daar tewens meer en meer kennisse en bekendes oor wie ek lykdigte skryf. Die dood en begrafnisrituele het van vroeg af ʼn rol in my poёsie gespeel (kyk byvoorbeeld Palimpses, 1987) en die onlangse gedigte sit hierdie tendens voort. Prof. Louis Eksteen was ’n dosent in Semantiek in my honneursjaar aan die Universiteit van Pretoria, maar ek bring in my gedig veral hulde aan sy Groot Afrikaanse Sinoniemwoordeboek (1995) en Eensillabige Rymwoordeboek (1981), wat gewoonlik byderhand is wanneer ek aan my gedigte werk. Laasgenoemde is eintlik onontbeerlik wanneer ek ʼn villanelle probeer skryf. Die gedig oor Elsa Joubert het in die laaste stel proewe van die bundel bygekom en sluit aan by my gedig oor Covid-19 in die bundel.

 

NC: Afrika en Europa kom onderskeidelik in afdeling drie en vier as reisbestemmings ter sprake, maar dit is die Afrika-gedigte wat tot my spreek. Jou gedigte oor hierdie paradoksale kontinent is aards en sintuiglik. In ’n gedig soos “Namibiese reis” slaag jy om die onbevatlike magiese kwaliteit van die Afrikalandskap op ’n oortuigende wyse te verwoord. Tog skram jy nie weg van sosiopolitieke realiteite in ‘n gedig soos “Garissa” nie:

 

GARISSA

2 April 2015

Die Tana se bruin water loop stadig

ooswaarts deur die warm, droë vlaktes

waar die nomades met hulle vee trek,

groepies doempalms staan en kraaie krys.

Maar op die kampus vloei bloed in gange

en lê pen en papier stukkend getrap

deur die laggende mans uit die noorde.

Kyk ook die enkele skoen, sandale

en aan die doringdraad om die slagveld

stukkies vleis, hare en repe klere

van hulle wat wild en wakker moes vlug.

Stadig loop die Tana se bruin water.

 

Ek dink skielik aan die slotreëls van “Afrika” uit Verweerde aardbol (1992): “Afrika, o droewe naam, is vandag / net ’n ruïne van betekenis.” Waarom is Afrika deurlopend vir jou van digterlike belang, en dink jy steeds dat die kontinent “’n ruïne van betekenis” is?

 

JLM: Ek is in Afrika gebore, werk hier en sal na alle waarskynlikheid hier sterf. Die drie Namibiese reise wat ek as kind en jongmens onderneem het, het ʼn groot indruk op my gemaak en klink nog steeds na in my gedigte. Veral my reisgierige oom Les en tannie Bes Leite in Windhoek het my belangstelling in die vreemde geprikkel, soos ek ook by ander geleenthede genoem het. Ná 1994 kon ek lande soos Mosambiek, Lesotho, Botswana, Zimbabwe, Kenia, Kameroen en die Sentraal-Afrikaanse Republiek eerstehands leer ken. Ek het Kenia meermale besoek en onder prof. Fransjohan Pretorius ʼn Geskiedenisproefskrif oor die land voltooi waaroor ek nog steeds baie ingenome voel. Uit hierdie ervarings en leeswerk kom nog steeds gedigte voort. Vir my is die gedig, “Garissa”, bedoel as ʼn skrikwekkende herinnering aan dié al-Shabaab-aanval op die Universiteitskollege in Garissa, Kenia, wat tot die dood van 148 hoofsaaklik jong mense gelei het. Hierdie tragiese gebeurde het nie naastenby die aandag gekry wat dit verdien nie. Fransjohan, onder wie se leiding studente hoofsaaklik gepromoveer het oor onderwerpe wat met die Anglo-Boereoorlog verband hou, het eenkeer opgemerk: “Jy hou van Afrika.” Dit was vir my ʼn groot kompliment, al word die kontinent op allerlei maniere geteister en is dit dikwels onpeilbaar.

 

NC: Die Covid-19-pandemie oorheers tans almal se denke en handelinge. Jy sluit ook ’n gedig, “Covid-19”, hieroor in. Dit is die spreker se vars perspektief op die pandemie wat my opval. Die virus word in die gedig beskou as ʼn evolusionêre en intelligente entiteit wat deel vorm van “die spel van die oorlewendes.” Kan jy asseblief hieroor uitwei? Hoekom is die afdelingsmotto van J.H. van den Berg wat die gedig voorafgaan relevant?: “Die oorzaak [van pandemieën] is van metabletische aard.”

 

JLM: Dit is nie die eerste keer wat ek oor ʼn virus skryf nie. Ek het in Insektarium en ander gedigte (2018) oor griep-, polio-, Ebola-, hondsdolheid- en Marburgvirusse geskryf. Toe die bundel verskyn het, het ek gehoop dat meer aandag aan die herdenking van die Groot Griep (ook bekend as die Spaanse Griep) van 1918/1919 gegee sou word. Ek was uiteindelik teleurgesteld met hoe min daar oor hierdie doodsvirus verskyn het.

My gedig oor die Groot Griep bring hulde aan die mense wat in en om Harrismith tydens die pandemie gesterf het (en waar die legendariese dr. Petronella van Heerden kort voordat sy haar in Nederland as ginekoloog gaan bekwaam het ’n groot rol as dokter gespeel het). As kind het ek baie grafte gesien van mense wat tydens die Groot Griep dood is.

Virusse is interessante verskynsels wat ons, “die oorlewendes”, van nader moet beskou en deeglik oor moet besin. Ek sou ʼn eksploratorium in die vooruitsig wou stel waar ʼn mens met virusse kan kennis maak en sien hoe hulle lyk en “lewe”. Virusse vorm deel van ons aardse bestaan, hoewel ons eers teen die einde van die 19de eeu daarvan bewus geword het,. Intussen het Covid-19 ons ʼn pynlike les geleer en is daar duidelik nog baie om oor hierdie pandemie te wete te kom. Ek skryf oor die uniekheid en andersheid van virusse en hulle ontologiese uitdagings. Ek wil graag weet wat ’n mens van hulle as deel van ’n superkoninkryk van lewe kan ken/weet. Die siening oor wat virusse werklik is, het met verloop van tyd verander, en hulle word tans deur wetenskaplikes as ʼn tussenganger tussen lewe en dood beskou en maak deel uit van die virale familie van die boom van die lewe.

Die motto van J.H. van den Berg (1914–2012) kom uit sy boek Pest Syphilis Aids (1991). Van den Berg was ’n psigiater en filosoof, wat die begrip “metabletika” vir die psigologie van historiese verandering gebruik het. Hy verduidelik metabletika soos volg: “De term metabletica is afgeleid van een Grieks woord dat veranderen betekent. […] Naar mijn overtuiging zijn veranderingen van historisch-culturele, ofwel metabletische aard verantwoordelijk voor het optreden van zulke ziekten als pest, syphilis en aids” (p. 6). Van den Berg se perspektief op pandemieё bied stof tot nadenke.

 

NC: ’n Laaste vraag wat te make het met jou rol as ekobewuste digter. Soos jy weet, het die menslike vernietiging van die aarde ons nou by ’n vurk in die pad gebring. Daar is nie meer afdraaipaaie, terugdraaipaaie en ompaaie nie. Die keuses wat nou gemaak word, is bepalend vir die toekoms. ’n Jonger geslag omgewingsaktiviste soos Greta Thunberg en die groep Extinction Rebellion (XR) draai nie meer doekies om nie.

Ek het onlangs ’n interessante bydrae gelees van ’n natuurkundige wat die huidige Covid-19-krisis verbind aan die vernietiging van natuurlike habitatte. Dit veroorsaak spanning wat uiteindelik ’n vernietigende invloed op spesies se immuunsisteme uitoefen. Die onteenseglike feit is dat die mensdom nou die vrugte van sy wanpraktyke pluk.

Wat dink jy is die rol van die letterkunde in omgewingsaktivisme?

 

JLM: Die mens het daartoe bygedra en toegelaat dat talle spesies uitsterf en lewe op aarde bedreig kan word. Nou dompel een virus ons, Homo sapiens, se leefwyse en bestaan in ʼn globale krisis. Ek dink ander spesies, waaronder die groot primate, sou ʼn bietjie vir ons reaksie kon lag. Hoe ook al, daar is ʼn aanduiding dat Covid-19 afkomstig is van vlermuise of ietermagoʼs wat van elders ingevoer is na vleismarkte (“wet markets”) in Wuhan in China. Dr. Jane Goodall, ’n wêreldberoemde primatoloog, het in die lig hiervan weer op die gevare van jag, handel en eet van wilde diere gewys.

Die digter kan die aandag op die vernietiging van die aarde help vestig en die gedig as ʼn effektiewe medium gebruik om die mens tot besinning te bring. Een manier is om op die wonder en noodsaaklikheid van spesieverskeidenheid te wys, wat deel van my groter digterlike projek is. Daarbenewens het ek die afgelope jaar met akademiese artikels oor onder andere Eugène N. Marais en N.P. van Wyk Louw ʼn bydrae tot ekokritiek probeer lewer.

Die rol wat Greta Thunberg, die groep Extinction Rebellion (XR) en hulle miljoene jong ondersteuners speel om wêreldleiers en ander besluitnemers betekenisvol teen klimaatsverandering, die uitwissing van spesies en ander omgewingskwessies te laat standpunt inneem, ondersteun ek ten volle.

 

  •