Posts Tagged ‘Mellet Moll resensie’

Resensie: Op die nerf af (Anita van der Walt)

Sunday, May 15th, 2022

 

 

 

Resensie: Op die nerf af deur Anita van der Walt. Turksvy Publikasies. 2022. ISBN 978-0-620-98568-0

Resensent: Mellet Moll

 

Anita van der Walt (1957) is op Potchefstroom gebore, ’n mediese dokter van beroep en woon in Kaapstad. Op die nerf af is Van der Walt se tweede digbundel, na haar debuut in 2021 getiteld Hierdie Maandag is abstrak.

Beide bundels is deur Turksvy Publikasies uitgegee. Dié uitgewer het veral aandag getrek toe die versamelbundel Maskers en Mure in 2021 tydens die COVID-19-pandemie vrygestel is. Die uitgewer is ’n nuwe deelnemer aan die Afrikaanse uitgewersbedryf. Die feit dat nuwe uitgewers hierdie mark betree, is voordelig vir die Afrikaanse literatuur, aangesien daar min uitgewers bestaan. Terselfdertyd word die statuur van so ’n uitgewer nie oornag gevestig nie: die uitgewer moet erkenning geniet dat hy die literêre tradisie bedien en onderskryf; dat hy bepaalde gehalteversekeringsprosesse volg; dat hy toegang het tot kundige en gerekende literatore wat gemoeid is met voorafgaande; en dat hy toonaangewende werk deur toonaangewende skrywers uitgee. In kort, die uitgewer moet ’n soort volwassenheid bereik alvorens daar oor die uitgewer uitspraak gelewer kan word. In die geval van Turksvy Publikasies is hulle fokus daarop om skrywers by te staan om die struikelblokke van selfpublikasie te oorkom deur hulle professioneel te lei in die skryf- en publikasieproses. Die uitgewer se webwerf meld soos volg: “Daar is derduisende boeke op die mark wat onafgerond is en wemel van foute. Dit is waar Turksvy Publikasies se waarde lê. Dié uitgewery is deur kundiges in die skryfarena op die been gebring om skrywers by te staan om hulle werk onafhanklik en bekostigbaar te publiseer, maar terselfdertyd te waarborg dat die boek professioneel en sonder foute aan lesers gebied word.”

Daar was verskeie debutante gedurende die pandemie die afgelope twee jaar, van wie sommige deur Turksvy Publikasies uitgegee is. Dit was opvallend dat byna alle debutante in die Afrikaanse poësie in hierdie tyd van redelik gevorderde ouderdom is.

 

I.

Die bundelomslag van Op die nerf af is, soos in die geval van Van der Walt se debuutbundel, keurig saamgestel. Dit het ’n skildery van die skilder Cirkine Rossouw op die voorplat. Die skildery herinner aan die klassieke Italiaanse tradisie en is ’n voorstelling van ’n vrou wat slaap.

Op die agterplat, asook in die uitgewer se mediaverklaring, word die bundel soos volg bekendgestel: “Die meeste gedigte in hierdie bundel het ontstaan nadat Anita van der Walt ses weke in ’n hoësorgeenheid op ’n ventilator in ’n medies geïnduseerde koma gehou is ná breinbloeding. Later van tyd het sy haar oë oopgemaak … en nog ’n bietjie later kon sy huis toe gaan. Sy kyk as’t ware met nuwe oë na die wêreld. Die gedigte getuig van verwondering oor die skoonheid van die lewe en die natuur. Sy skryf sowel beeldryke vrye verse as gedissiplineerde haikoes en tankas. Elke gedig is ’n verkenning en besinning in die kleine. Op die nerf af is ’n waardige vervolg op haar debuutbundel, Hierdie Maandag is abstrak van 2020.”

Die titel, Op die nerf af, ontsluit verskeie moontlike betekenisse: die HAT verklaar die woord “nerf” as “1. Oneffenheid, riffelagtigheid op huid of vel: My knieë was nerf-af. Die nerf van ’n riempie sit en aftrek; en 2. Geraamtedraad van ’n blaar. Uitdrukkings: Fyn van nerf wees, kortgebakerd. Op ’n nerf na, amper.” Die titel vermeng hierdie idee met die gesegde “op die man af”, wat impliseer dat betekendes direk gekonfronteer word met betekenis. Dus kan daar uit die titel afgelei word dat die bundel die leser konfronteer met dít wat veldun is; met die fyn verweefdheid soos dié van ’n blaar; maar dat daar onderliggend ook verwonding kan wees. Uit die agterplatteks word daar afgelei dat Van der Walt se naby-dood ervaring haar waarneming verhelder het en dat sy ’n soort nuwe verwondering (of Verligting) het vir die fyn, nerfdun dinge.

Nini Bennett, in haar resensie op Versindaba, berig soos volg oor Van der Walt se debuut:

“Die sterkste gedigte in die bundel is die spreker se meer eksakte waarnemings […] wat ’n visuele voorstelling gee […]. Hierdie verse, wat steun op waarneming, is vry van die hinderlike digterlike clichés wat volop in die meer nostalgiese verse voorkom.”; en “Hierdie Maandag is abstrak is ’n bevredigende debuut. Die digter ontgin die belewenis van geleefde plekke, ruimtes wat verken word deur die gebruik van taal en die leser uitnooi om dié digterlike ontdekkingsreis mee te maak.”

Wanneer ’n debuut beoordeel word, word daar gefokus op die wyse waarop die versameling verse wat voorgelê word, aan die norme en standaarde van die dag voldoen. In die geval van ’n tweede bundel is die verwagting groter: daar moet óók bepaal word of daar ’n digterskap ontwikkel: het die digter gegroei sedert die debuut? Is die mankemente wat moontlik uitgewys is in die resepsie van die debuut aangespreek? En laastens, is daar ’n unieke stem besig om te ontwikkel wat die literatuur sal verryk?

 

II.

Die verwagtinge wat deur die titel geskep is, word verder gevoer deur die openingsmotto van die bekroonde Amerikaanse digter en digmentor Theodore Roehtke: “To write poetry: you have to be prepared to die.”

Die bundel is in 11 afdelings gerubriseer met titels soos “Al lê die berge nog so blou”; “Maar dié moet julle darem weet…”; “Hond haaraf maak”; “Feeling groovy”; en ’n slotafdeling met die titel “Hier’s ek weer met my rooi rok voor jou deur”. Die feit dat daar 11 afdelings is, asook die meegaande titels, is ietwat teleurstellend vir lesers wat ’n verhelderde en vernuwende blik verwag het. Eerstens dui die aantal afdelings daarop dat die samehang van die verse nie optimaal verpak is in ’n oorkoepelende raamwerk nie; en tweedens dat die titels van die afdelings geensins op vernuwing dui nie.

Die verse handel oor waarnemings uit die natuur; pastorale tonele; die menslike kondisie teen die agtergrond van die natuur; enkele nostalgiese en herdenkingsverse; asook verlangse religieuse verwysings.

 

III.

In die eerste afdeling met die titel “Al lê die berge nog so blou”, dui die titel van die openingsgedig, “Kom wat wil” (p. 3) op die onbekendheid en moontlike beproewings wat wag, maar dat die natuur ten spyte daarvan onverpoosd sy eie gang gaan. Die vers toon die digter se voorkeur vir amorfe verse sonder leestekens, die pastorale waarneming van die natuur, en die romantisering van ’n meer eenvoudige landelike lewe:

 

op die stoep in die mik

van die laatmiddagson

skuif die dag se skaduwee

langsaam aan

tarentale

skarrel onder in die olyfboord

en jaag hul spruite skemer in

die kloekgeluide

klink byna soos vloek

swawels gly met ‘n swiepgeluid

teen ’n tonnel van modder verby

waar ’n plafon die grondverskuiwing baar

terwyl vinkneste kranig aan takke hang

skynbaar leeg met geen siel daarin

seker net ’n oogverblindery

want ’n swetterjoel voëls

het hier huis en kroos kom kry

 

Die ander verse het soortgelyke temas. In “Die kluts kwyt raak” (p. 4) besin die digter oor die effek van klimaatsverandering op die natuur en die ontwrigting wat dit meebring:

 

die geheelbeeld verdwyn

te midde van die chaos omring

’n innerlike stilte my

en glimlag vir die gloed wat buite woed

die storm en drang van ‘n wêreld

in doeke toegedraai

se 3D-drukker het sopas die gees gegee

somer voel soos winter

en anderson

[…]

 

In die laaste vers van hierdie afdeling, “Dwalinge op Tafelberg 1” (p. 6) toon die digter haar fyn waarnemingsvermoë langs ’n voetslaanpad teen Tafelberg.

Ongelukkig is daar ook ’n aantal lomp en potsierlike beelde in die afdeling. Dit sluit in die onhebbelike “waar ’n plafon die grondverskuiwing baar…” en die gebruik van herhalende werkwoorde eiesoortig aan Ingrid Jonker, byvoorbeeld “kierang kierang” wat die andersins geslaagde gedigte ontsier.

In die tweede afdeling, “Maar dié moet julle darem weet…”, word die mens betrek binne die siklorama van natuurtonele en word die menslike kondisie teen die agtergrond van die natuur gestel, byvoorbeeld in “Skets” (p. 9):

 

[…]

ons bly draadloos in gesprek

wou vroegdag die leer vat en

op die plat dak gaan wegkruip

op ’n slakspoor teen die muur uit

dan vroetel jou hand deur my hare

[…]

 

Die geslaagde vers “Steen des wysheids” (p. 10) betrek verskeie simbole uit die heilige meetkunde (Sacred Geometry). Dit betrek die heksagoon; die mandala; die antieke meet­kundige probleem van quadratura circuli (waarin gepoog word om die afmetings van ’n sirkel en vierkant met dieselfde oppervlak te bepaal en so ’n beter begrip van die getal π te verkry); en Dat Rosa Mel Apibus (die verborge mistieke kennis soos voorgestel deur die Rosekruis); by ’n dieper besinning van die rol van menslike altare in die belewenis van die wêreld. Hierdie gedig bevat baie meer kodes en gelaagdheid as die res:

 

die byekorf heksagonaal

se goudgeel katedraal

verberg die balsemende

filosofie van quadratura circuli

dat rosa mel apibus

’n mandala

vergesel kosmies

die innerlike

pelgrimstog

om die jeropigo

van die lewe te smaak

deur te volstaan dat

elke klip sy stapel

by Jerusalem begin

 

Die verse “Potgooi” en “Grensloos in grendeltyd” (pp.15 – 17) handel oor die COVID-19 pandemie. Eersgenoemde is ’n geslaagde vers oor die wetenskap van die SARS-CoV-2-virus. Alhoewel ruimtelikheid en die oordeelkundige gebruik van plekname dikwels goeie poëtiese kwaliteite het wat die leser oriënteer en dikwels ook die taalryke benamings beklemtoon, bevat die eerste deel van die tweede vers ’n steurende oordaad aan plekname uit die Noord-Kaap (Bitterfontein, Bruintjieshoogte, Stofkraal, Vonkelfontein, Garies, Kamieskroon, Koiing­naas, Soebatsfontein en meer) voordat die tweede helfte van die gedig poësie word.

Ongelukkig ontsier die studentikose vers “2021” (p. 14) die andersins wetenskaplike en soms besinnende toonaard van hierdie afdeling. In ’n poging tot ironisering word die dra van maskers en die golwe van die pandemie in ’n kort nuwejaarsvers getipeer:

 

Die nuwe jaar 😊 so pas gevier!

die see kom ingerol

met ‘n wit masker aan

 

Watwou!

 

klink ‘n glasie

terwyl die brander

nog hoër klok

 

Plonk

 

In die derde afdeling, “Hond haaraf maak” word die kunste betrek. Verse oor Van Gogh (“Kwashaal”, p. 21), Michelangelo (p. 22) en die Mona Lisa (“Poësie op tablo”, p. 23) bevat interessante poëtiese ingrepe en oomblikke, maar handel ongelukkig oor temas wat al baie in die poësie voorgekom het en vervaag dus in die galery van digterlike clichés.

Daar word ook twee haikoes aangebied. “Musiek sonder woorde” (p. 24) bevat ’n interessante gevallestudie omdat dit die Japannese reël van 5-7-5 fonetiese eenhede volg, wat nie noodwendig die Westerse lettergreeptelling van 5-7-5 volg nie, omdat die letter “n” ook as fonetiese eenheid in die Japannese tradisie getel word:

 

universeel

klawesimbel en viool

taal van emosie

 

Die vierdie afdeling “Feeling groovy” begin deur ’n aantal nostalgiese oomblikke uit die 1960’s aan te bied (pp. 29 – 31). Dit sluit in die byderwetse modes van die 1960’s in “Modieus puriteins”; die Beatles in “Beatlemania” en “Twiggy”; asook ander verse van soortgelyke aard.

“Modieus puriteins” sluit af met hierdie genietlike slot:

 

[…]

Selfs die professor mag vra:

“Trek daardie broekpak se langbroek uit!”

sodat jy met die kortste mini

klas toe kan gaan

 

Die tanka “Sir William Watson” (p. 33) is vernoem na dié botanis, en gee ’n kort omskrywing van die Watsonia-plant, maar word ongelukkig bederf deur die gesogte woord “karmosyn”.

Die vyfde afdeling “Onkant gevang” begin met “Dwalinge op Tafelberg 2” wat uit soortgelyke beginreëls as die vorige “Dwalinge op Tafelberg 1” bestaan, maar dan baie meer persoonlik raak as die vorige vers se natuurbeskrywings (p. 37). Die vers bevat ’n ryk skakering van beelde:

 

[…]

’n klipspinger onverwags

in halfskadu’s verdwyn

soos die streling van die berg

se lower oor haar vingerpunte voel

[…]

 

Die afdeling bevat ook ’n aantal haikoes en tankas, onder meer vanuit die mediese wêreld, byvoorbeeld die haikoe “ICU” (p. 38):

 

hospitaalterreur

magteloos vasgegordel

gee nuwe lewe

 

Hoogtepunte in hierdie afdeling is die gedigte “Leef en laat leef” (p. 43) en “Mymeringe in die skemering” (p. 45). Hiermee ’n uittreksel uit eersgenoemde vers:

 

[…]

dit is nag en die maan stuit in haar spore

skyn vol en sag oor die bloekomstam

as ’n eie wese

wat opkyk na die sterrehemel en wag

vir die seëning van ’n Engel om te kan bly lewe

 

Die funksionaliteit van die hoofletter in die laaste reël word egter bevraagteken. Hierdie verhewe heiligheid is oorbodig, en is een van die gevolge van die gekose konvensie om hoofletters en leestekens weg te laat, iets waarmee die digter moet saamleef.

Ook “Mymeringe in die skemering” het ’n treffende slot:

 

[…]

anderkant

die sementdam omring deur

grashalms se laaste wals

met ’n pasgebore

turksvyblaar

wat uit die grond

uit opstaan

daar lê sy maat

en die brommers

gons

 

Ongelukkig ontsier die vers “Adolf” (p. 44) die afdeling omdat dit geensins by die samehang van die bundel inpas nie.

Die sesde afdeling, “Wanneer jou hart dit nie verwag nie” kondig ’n soort wending aan, maar die verse daarin doen dit nie gestand nie – die verse is oordrewe sentimenteel. Die metafoor van atletiek in “Olimpiese Spele” is lukraak en dit veroorsaak dat ’n vers met potensiaal disintegreer.

Die sewende afdeling bevat ’n aantal haikoes. Howel daar mooi oomblikke is, is die tematiek disparaat; die funksionaliteit bedenklik binne die geheelbeeld van die bundel; en die sins­kon­struk­sie dikwels lomp. Die afdeling kom as stopwerk oor.

Die haikoe “Sonneblomwense” (p. 61) is ’n voorbeeld hiervan:

 

mag jou dag stralend

soos ’n sonneblom ontsluit

in sonskyn op wag

 

Die agtste afdeling, “Agter die kap van die byl kom” bevat verse oor drome en verlange na die gestorwe pa. Die gedig “Doer in die verte” (p. 76) verwoord die rouproses wanneer die pa se as in die Karoo gestrooi word:

 

die gedagte om ’n bietjie van Pa

se as te vat waar sy laaste skof

in ’n kas verskans lê en wag

vir ’n hand om dit weg te neem

[…]

 

Die negende afdeling “Raar maar waar” herhaal die tematiek van die sesde en agtse afdelings. Dit bly ’n raaisel waarom die sterkste van hierdie verse nie saamgevoeg kon word in een afdeling nie. Die verse is soortgelyk in toonaard: nostalgies en dromerig. “Slapende skoonheid” (p. 79) sluit by die omslagkuns aan en handel oor ’n vrou wat uit ’n koma wakker word. Die belangrike rol wat hierdie gedig in die geheelbeeld van die bundel speel word egter genegeer deur die feit dat die gedig mooi oomblikke bevat, maar in geheel nog nie poësie geword het nie.

Die tiende afdeling “Tankas uit paradys” bevat, soos die titel aandui, ’n aantal tankas. Die verse is baie meer geraffineer as die haikoes wat in ’n vorige afdeling aangebied is, en goed afgerond. Die verse bly binne die oorhoofse tematiek en samehang van die bundel, naamlik besinnings en verwondering oor die natuur.

Die laaste afdeling “Hier’s ek weer met my rooi rok voor jou deur” bestaan uit verdere natuurbesinnings wat neig om in die kakofonie van soortgelyke vorige verse te verdwyn. Daar is ook twee tankas met ’n ars poëtikale inslag – “Tankas vir moedertaal” (p. 101).

Die bundel sluit af met die gedig “Plaaskind” (p. 103):

 

[…]

as ek moeg word vir die lewe in die stad

bokmakierie

lok my die wandelpad

koes-koes onder die doringtak deur

wat wag vir die nag se doutjie reën

en fluit die janpierewiet

en fluit die janpierewiet

 

Hierdie laaste afdeling laat die leser onvergenoegd in die verwagting na die helder poëtikale belewenisse en die groter poëtiese ingrepe wat deur die omslag en agterplatteks belowe is.

 

IV.

Dit is verblydend om op te merk dat die digter die raad van die resensie van haar debuut wat in deel I genoem is, gevolg het en moeite gedoen het om meer eksakte waarnemings te maak, en verse aanbied wat in die meeste gevalle gestroop is van digterlike clichés.

Soos in deel II genoem, is die aantal afdelings en die indeling van verse binne die samehang daarvan problematies. ’n Duideliker, eenvoudiger maar meer oorspronklike organisering van die verse binne die gekose tematiek sou die bundel gebaat het.

Terselfdertyd moet die digter waak teen ’n aanbod van verse wat die veilige pad volg. Sommige verse vervaag in ’n déjà vu van natuursketse met dekoratiewe inkledings tussenin – die digter se gemaksone van amorfe verse met pastorale beelde herinner soms te veel aan die kunswerke van Tinus en Gabriel de Jongh.

Om te groei moet die digter leer om berekende risiko’s te neem en haar register te verbreed. ’n Mens sou graag in volgende pogings wou sien dat sy meer kontemporêre en gevorderde tematiek betrek (byvoorbeeld ekokritiek of natuurmistiek) en dat meer gelaagde verse aangebied word.

Die mediese wetenskap is ook ’n onuitputlike bron van menslike dramas, verhale en intriges wat vertrekpunte vir poësie verskaf. Die digter se kennis hiervan bly steeds onderbenut en sluit nie aan by die groeiende Afrikaanse tradisie van digtende dokters nie.

Die digter se aanbod van vaste versvorme uit die Japannese tradisie is insgelyks ’n veilige opsie vir ‘n digter wat amorfe verse skryf, en dra by tot die vae indruk wat die bundel skep. Dit mag raadsaam wees vir die digter om in die toekoms haar hand te waag aan meer uitdagende vaste versvorme en sodoende haar register ook in hierdie verband te verbreed.

In die geheel beskou is Op die nerf af ’n bevredigende en soliede poging, hoewel dit moontlik nie die verwagtinge van die titel ten volle gestand doen nie.