Resensie: Nou in infrarooi deur Tom Dreyer. Kwela Boeke, 2023. ISBN 978-0-7957-1072-8
Resensent: Mellet Moll
I.
Tom Dreyer het bekendheid verwerf as bekroonde prosaskrywer van die romans Erdvarkfontein (1998); Stinkafrikaners (2000); Equatoria (2006); en Dorado (2016) (hierdie boek verskyn ook in Engels as The Long Wave). Hy het ook twee versamelings kortprosa die lig laat sien naamlik Polaroid (2007) en Kodachrome (2022). Dreyer se werk het nog altyd ’n aweregse blik op die alledaagse gehad. Sy waarnemings is intelligent en steun ook op reiservarings deur Europa, die VSA en Suid-Afrika. Hierdie waarnemings herinner sterk aan die epifaniese filmkuns van Quentin Tarantino en David Lynch in die uitbeelding van die kleindorpse subkultuur.
Dreyer vestig hom in die Afrikaanse literêre sisteem in ’n rol soortgelyk aan dié van Raymond Carver in die Noord-Amerikaanse tradisie. Sy fokalisering toon ook ooreenkomste met dié van Hunter S. Thompson. In die Suid-Afrikaanse konteks roep Dreyer narratiewe tonele op wat soortgelyk is aan dié van die skilder Willem Pretorius (2022), waarin die vervalle kleindorpse en landelike Suid-Afrikaanse toneel verbeeld word.
Dreyer se gedigte is reeds in die vorige eeu opgeneem in Nuwe Stemme 1 (Weideman & De Vries, 1997) en Die Afrikaanse Poësie in ’n Duisend en Enkele Gedigte (Komrij, 1999). Hy word in 2019 aangewys as die algehele wenner van die Afrikaanse afdeling van die AVBOB-poësiekompetisie met die gedig “slaap jy solank dan hou ek die fort”. Hierdie gedig is opgeneem in I Wish I’d Said…Vol. 2 (De Lange & Maphumulo, 2019). Van sy gedigte verskyn ook in Maskers en Mure (Hugo & De Jongh, 2021) en Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging (De Wet, 2022).
Dreyer se langverwagte debuutdigbundel, Nou in infrarooi (2023), is ’n belangrike toevoeging tot sy skrywersoeuvre en dui op ’n terugkeer na sy eerste ambag. Sy ervaring as prosaskrywer kom handig te pas tydens die komposisie van hierdie versameling gedigte en narratiewe verse waarmee hy homself in die geselskap van ander hedendaagse narratiewe Afrikaanse digters soos Danie Marais, Charl-Pierre Naudé, Gert Vlok Nel en Andries Bezuidenhout bevind.
II.
Die omslagkuns is ’n foto van ’n dorre landskap met ’n grondpad wat deur ’n rooi filter waargeneem word. Dit kan ook ’n Marslandskap voorstel. Die titel dui op twee belangrike elemente wat in die verse voorkom: eerstens, ’n dringendheid en onmiddellikheid in die verse en tweedens, soos in die geval van sy kortprosa, ’n aanduiding van die lens waardeur ’n subjek beskou word. Infrarooibestraling is ’n vorm van elektromagnetiese bestraling wat onsigbaar is vir die menslike oog. Infrarooibestraling word in ’n verskeidenheid toepassings gebruik soos: nagvisie – om in die donker te sien; termiese beelding – om beelde te skep wat die temperatuur van objekte uitwys, asook vir mediese diagnosering en afstandbeheerders. Die titel dui dus spesifiek op die sigbaarmaking van dít wat nie geredelik vir die blote oog waarneembaar is nie. Volgens Dreyer speel die keuse van die lens ’n belangrike rol in die sigbaarmaking van die verborge narratiewe wat in die alledaagse skuil. Hierdie spel tussen die sigbare en sigbaarmaking van die onsigbare is ’n belangrike sleutel tot die ontsluiting van die bundel.
Die Ierse dramaturg en digter Oscar Wilde beweer in The Picture of Dorian Gray: “People say sometimes that beauty is only superficial. That may be so, but at least it is not so superficial as thought is. To me, beauty is the wonder of wonders. It is only shallow people who do not judge by appearances. The true mystery of the world is the visible, not the invisible.” (Wilde, 2013)
In die sosiologie lei die opvatting dat die postmoderne kultuur weier om die pretensie en vernaamheid van die kunste te respekteer, tot die opheffing van die onderskeid tussen hoë kuns en populêre kultuur (Brandist, 2022). Daar word gevolglik bloot drie vlakke van populêre kultuur onderskei naamlik oppervlakkultuur, wat verwys na objekte wat met die blote oog sigbaar is; intermediêre kultuur, wat deels sigbaar en deels onsigbaar is en dieptekultuur, wat op besinning, interpretasie, abstraksies en simboliek dui.
Hoewel Dreyer se narratiewe gerig is op die oppervlakkultuur, bevat dit ook elemente van die gonzo-subkultuur wat deur die joernalis en prosaskrywer Hunter S. Thompson in die 1970’s gevestig is (Wenner & Seymour, 2007). Die gonzo-subkultuur fokus op joernalistiek wat gevul is met bisarre tonele en eksentrieke figure waarby die verteller dikwels sélf betrokke is. Ook die sogenaamde dirty realism van Raymond Carver (Sklenicka, 2009) en soortgelyke epigone is relevant tot die inskatting van Dreyer: deernisvolle vertellings oor randfigure aan die buikkant van die samelewing, met ’n ontstellende en soms ironiese of selfs komiese afstandigheid.
III.
Daar is geen rubrisering in die bundel nie, hoewel die gedigte georden is volgens ’n liniêre narratiewe gang. Die gedigtitels getuig van allerlei alledaagse situasies. In ooreenstemming met die voorafgenoemde kenmerke van Dreyer as skrywer en digter, herinner die tipografiese styl van die verse aan dié van e.e. cummings.
Die bundel open met die vers “charlie bravo kom in”:
een aand op colesberg ek was sewe
ons was op pad kaapstad toe sien ons twee
laaities in telefoonhokkies met mekaar sit en gesels
die ou soort hokkie wat oranje was en uitgehol
en verbasend baie soos ’n eier hulle lywe was ten volle
in dié doppe ingetrek soos kuikens of dalk ruimtevaarders
hulle het gelag en was vir ’n wyle ontsettend ver van hier
en terwyl ek luister hoe hulle woorde in colesberg se lug
verdubbel soos in ’n badkamer se spieël het alles
volledig vir my sin gemaak ook vir my suster
net my pa was deurmekaar hulle praat
dan met mekáár het hy aanhou sê
en presies het ek aanhou antwoord
Die titel is meerduidig: dit is enersyds ’n begroeting in die militêre styl, maar andersyds bloot ’n verwysing na Colesberg. Hierdie vers aktiveer die belangrikste leitmotiewe in die bundel. Wanneer die blik verby die alledaagse beweeg, word ’n oorspronklike situasie waargeneem – dit aktiveer die reismotief; die intergeneratiewe verskille met die vaderfiguur en die simboliek van ’n jeug- of reisherinnering wat nabetragtend helder word. Die vers wys ook Dreyer se vernuftige gebruik van enjambemente in sy verse.
Dreyer betrek verskeie ikoniese randfigure uit die populêre kultuur soos Leonard Cohen, Nick Cave en Hunter S. Thompson. In die drieledige vers, “road trips met leonard cohen” (pp. 14-15) betrek Dreyer vir Cohen intertekstueel. Die eerste deel, “– reaching for the sky just to surrender” (p. 14) betrek ’n reël uit die lied, “The stranger song” en handel oor die spreker se padreis saam met sy vader in Haruchas, Namibië. ’n Likkewaan verkas voor die aankomende Land Cruiser, ’n insident wat ironies resoneer met die betekenis van die woord “Haruchas”, naamlik “haastige plek”:
– reaching for the sky just to surrender
ek en my pa ry in die land cruiser
tussen haruchas se opgehewe riwwe
leonard sing en telefoonlyne
trek verte en voorgrond tesaam
in die padreserwe wiegel ’n likkewaan
van kop tot stert ’n gespikkelde stang
met ’n tong soos ’n aftaster en twee oorgate
ingestel op die nuutskepping van ons koms
só staan hy in ’n dralende
konsentraat van stof en sinne
in ’n middag wat verwoordbaar voel
tot alles uitmekaarspat
in ’n warboel van beweging
deur chaotiese bosse en los gruis
tot by ’n telefoonpaal waar selfs sý
kloue faal en hy keer op keer afgly
teen die gladde kreosoot
In die daaropvolgende “– until the sea shall free them” (p. 15), ontleen aan Cohen se “Suzanne”, besin die spreker oor die ontoeganklikheid van die see en ontbloot hy sommige tradisionele idees of clichés oor die see wat op digterlike wyse tot die mens spreek:
– until the sea shall free them
by gladdeklip staar ons na ’n see
wat voor ons hier was en ná ons sal sloer
’n see sonder opinies oor sonsopkomste
of -ondergange of drywende sakke
’n see wat vere voel vir vlae
of stuurmanne of rampsalige passasiers
’n see wat onophoudelik beduie
met rooi en wit anemone
maar soos pa verseg om enigiets te sê
Die derde subvers, “– all at once the torches flare” (p. 15), ’n reël uit Cohen se lied “The Guests”, verbeeld op ’n magiese wyse ’n mossie wat wegbreek van sy swerm en water drink uit die Land Cruiser se watertenk. In verskeie verse figureer beelde soos fakkels, flitsligte, verskietende sterre, koronas en flitsfotografie. Hierdie verblindende en oombliklike lig ontbloot die vervlietende aard van dinge in die bundel:
– all at once the torches flare
’n vlaag van mossies verduister die son
bo ons aftrekplek by sossusvlei hulle kwetter
weg na duin 45 net een bly agter hy hop-hop
tot onder die cruiser se druppende watertenk
hy’s oopbek en flink soos ’n goëlaar hy vang
steeds daai druppels soos vlammende fakkels
Aansluitend tot die voorafgenoemde motief verwys die vers, “terugkerende lens flare” (p. 27) na die spreker en sy vader wat ’n padreis na die Hexriviervallei onderneem en waarin die “drie komeetkykers” ’n analoog vorm vir die Bybelgegewens oor die drie wyse manne wat die stal met Jesus Christus se geboorte besoek het. Die spreker posisioneer hierdie komeetkykers binne die oppervlakkultuur wanneer die punk-rocker, Iggy Pop, Prince (met verwysing na “Purple rain”), asook die Middeleeuse kunstenaar Giotto Di Bondone in een asem genoem word:
gretig om te baai
in die lig van die groot terugkerende
lens flare
die korona gesete in sy wentelbaan
ry ons in ’n clapped-out camry
na die hexriviervallei
drie komeetkykers
drie verteenwoordigers
van die aarde daarom ook
van iggy pop en purple rain
en van giotto di bondone
wat glo in 1304 vryhand
volmaakte sirkels kon trek
hy het hierdie dwaalster
glansryker geposisioneer
bo die koppe van drie wyse manne pas gearriveer
uit die ooste oorlaai met goud en verwagtinge
met ’n kwynende reuk van wierook
in ons hare
Die jukstaposisie van ’n Middeleeuse skilder teenoor moderne populêre musikante wat op simultane wyse die “dwaalster” betrek, skep enersyds die verwagting dat ideologiese en religieuse kwessies nie ernstig opgeneem moet word nie en dui andersyds op die mens se verwondering met blink en vlammende verskynsels. Die vermenging van pop-ikone met Middeleeuse kuns strook met die beskouing oor die postmoderne populêre kultuur soos uiteengesit in Deel II.
Die vers, “infanta” (p. 31) is opgeneem in Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging (De Wet, 2022). Alhoewel die titel Müller se kortverhaalbundel, Die dwerg van die Infanta en ander verhale (Müller, 1993) aktiveer, het die gedig inderwaarheid weinig in gemeen met Müller se bundel, behalwe vir die terloopse verwysing na lokaliteit.
Dreyer se fassinasie met die Sowjet-ruimteprogram van die 1960’s kom aan die bod in verskeie gedigte waarin die destydse Spoetnik-ruimtereise betrek word. Dit skep ’n omgewing wat ryk is aan nostalgie, en soos in baie van Dreyer se narratiewe leef beide sukses en mislukking, asook die uiteindelike verval saam. Die gedigte “infanta” en “en toe het joeri gagarin subsonies” (pp. 31-32) is voorbeelde hiervan. Gagarin word ’n figuur waardeur verskeie temas geaktiveer word.
Hieronder, die gedig “infanta”:
uit die geslotenheid van die boland
reis ek na infanta verby sir lowryspas grabouw
en riviersonderend waar ’n coke-lorrie sy vrag
voor die carica superette verloor en voort via protem
en stormsvlei tot by cloeteskraal om daar af te trek
want dis vroegaand
en die vinke is onstuitbaar in die riete
hier word die wêreld môreoggend hergebore
maar tot dan toe staan dié bouval swart
en nougeset op sy fondasies
in ’n nag wat strek soos ’n pad tussen die berge
soos ’n verposing of ’n poort na daardie sterre
waardeur joeri gagarin vir die eerste keer kon flits
om 06:55 toe cloeteskraal se flinkste vinke roer
het hy die dag van bo af sien breek oor infanta
en kaap agulhas sy kompasnaald begoël
deur magnetiese steurings
om 08:05 verskyn hy
uit die son bo kazakstan as glas en staal
en valskermsy aan aartappelplanters
soos aan skeerders van overbergse skape
en hy sê: moenie bang wees nie
ek is jul kameraad
ek het uit die ruimte neergedaal
Die slotstrofe, waarin die ruimtewese (hemelwese) aan skaapskeerders (’n sinspeling op skaapwagters) verskyn, vorm ’n parodie op Lukas 2:9-11:
“Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.’”
Dreyer se toespelings op Bybelse gebeure geskied nie in die tradisionele sin nie, maar aweregs, vergesel van fantasie – soos in die vers “’n ster in die ooste” (p. 24), waarin ’n ander Russiese ruimtereis verbeeld word.
In “slaap jy solank, dan hou ek die fort” (pp. 46-47) bring Dreyer hulde aan sy vriend, die ontslape skrywer Jaco Botha (1972-2016) wat saam met hom studeer het aan die Universiteit van Kaapstad en ’n MA in skeppende skryfkuns verwerf het. Hierdie ontroerende vers vorm een van vele hoogtepunte in die bundel:
beteuterd soos twee pienk kwitansies
pas ontvang vir twaalf kopieë
van ons ma-verhandelings
dwaal ek en jy na die middelkampus
van uct platane platane en ’n flitsblik
van die see ek onthou hoe jy daai aand
in ons gehawende flat digby de waal-park
mooitjies ’n sigaret uit jou kwitansie rol
sodat jy weer behoorlik kan asemhaal
ek sien jou soms steeds dáár
te hyper om lekker te sit dalk daarom
deurlopend op soek na iets om aan te steek
of dood te druk of ’n radio om aan te peuter
of failing all else ’n liggaamsdeel om aan te krap
onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die môre wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die môre ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar
onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise
oorleef het of die keer toe ons die agtersitplekke
van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld
vir checkers se goedkoopste sigarette?
ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis
staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla
dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel
nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky
op die kroegtoonbank spat en jy sê: kom ons gaan slaap
eerder tom dan is ons ten minste nie meer wakker nie
ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag
is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys
intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou
solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank
In “the heart is a lonely hunter” (pp. 53-55) skep Dreyer ’n intertekstuele spel met die gelyknamige titel van die Amerikaanse skrywer, Carson McCullers se roman (McCullers, 2004). McCullers, op haar beurt, het haar romantitel ontleen aan ’n gedig van die Skotse digter, William Sharp: “Deep in the heart of Summer, sweet is life to me still, / But my heart is a lonely hunter that hunts on a lonely hill.” McCullers skryf oor eksentrieke en wanaangepaste mense in die Suide van die VSA. Die motto tot hierdie drieledige vers is: “’Well, vehicular, of course – something is a very fine car’. – Hunter S. Thompson aan George Plimpton oor hoe hy graag sou wou sterf.”
Poësie as metatekstuele kommmentaar kom voor in die eerste deel, “– hunter s soek swart koraal” (p. 53), wat as ’n vorm van gonzo-beriggewing aangebied word. Thompson as pionier van gonzo-joernalistiek, was bekend vir sy verpersoonlikte beriggewing waarin die betrokke joernalis homself inskryf in ’n narratief wat gekenmerk word deur sosiale kritiek, satire, humor en sarkasme. In hierdie gedig beland die protagonis, die befaamde Hunter S. Thompson sélf ter nouerdood in die hospitaal ná ’n skubaduik-episode waartydens hy as “paddaman” amper verdrink het.
– hunter s soek swart koraal
hunter s soek swart koraal
in ’n diepseetrog by yucatán
hy swem as paddaman in ’n baai gepons
deur die neerkom van ’n groot komeet hy baai
sy ledemate bruin en drink en rook en hersien saans
die pypies van sy skuba-apparaat dog met onvoldoende
sorg want een oggend staak sy suurstofvloei en laat hom
ruk en stoei op driehonderd voet en kurklig boontoe bons
verby sonvis en wier en elke aanbevole dekompressiestasie
tot hy rasend deur die oppervlak bars ’n borreltjie
lug onder sy stopsel en elke gewrig geïnflammeer
hulle lê hom neer op dek en jeep-laaibak
sy duiksakkie vol koraliet
laat loop verby klokboei en veerbootterminaal
en besorg hom skreeuend by die hospitaal
In die daaropvolgende “– extra vehicular activity” (p. 54) verskyn Thompson in ’n geblomde ruimtepak tydens ’n mediakonferensie. Resensente het in vorige romans van Dreyer getoon dat sy skryfwerk aan strokiesprente herinner en in hierdie bundel slaag hy daarin om die onwaarskynlike strokiesprentagtige narratiewe en uitbeelding (showing) in poësie tuis te bring. Dit beklemtoon dat Dreyer beslis ’n besonder unieke digterstem het. Die verse is méér as filmiese beweging: dis ook die verbeelding van die burleske, die karikatuuragtige en ’n fyn oog vir absurde situasies:
– extra-vehicular activity
hunter ry per taxi deur toronto
af in yongestraat hart van downtown
verby die rose & crown en sam the record man
verby die wasmuseum waar sting en jackie chan
onverpoos in skynkonflik poseer
neffens elke bar
por die reklameman die taxidrywer: ry
hulle’s reeds laat vir ’n radio-tête-a-tête
die mediaman het hunter pas ontset
uit die foyer van die empress hotel
waar die gaste hom misgis het vir john glenn
of charlie duke of straks ’n ander ruimtevaarder
die reklame-ou sprei sy bene wyer
knus in sy jas van rooi veloer
maar skrik hom terstond desmoers
toe hunter vanuit ’n geblomde ruimtepak
in weerwil van die stad se ordonnanse
’n singapore sling te voorskyn bring
en ná die uitskop
terwyl hunter sy reis te voet voltooi
bly cape canaveral onbewus
dat hunter deur sy cocktail-glas
soos deur ’n spektroskoop
’n verrassende feit in die sonlig onbloot:
élke dag is ’n ongeskeduleerde ruimteloop
In die derde deel van die vers, “– hunter s voorsien sy dood” (p. 55) word Thompson se dood fiktief verbeeld.
– hunter s voorsien sy dood
hy sterf veral buite birmingham
agter die stuur van ’n jaguar supersonic
hy hou reguit op die pas se laaste draai en hang
papierlig bo die maste van ’n raffinadery au naturale
op wieke van red heart sy kap is afgeslaan sy kattebak
vol springstof sy middae ’n steeds reiner distillaat
Inderwaarheid het Thompson by sy huis selfmoord gepleeg deur homself te skiet. Tog skryf Dreyer onverstoord op Thompson se doodsfantasie af. Die fyn aanvoeling vir die nuanses van digterlike taal blyk uit byvoorbeeld “’n steeds reiner distillaat”, wat paradoksaal dui op die onverdunde gebruik van Red Heart Rum, asook “springstof”, ’n voorafskaduwing van sy skietdood enersyds, maar andersyds woorde wat die konnotasie van vitaliteit oproep.
Die laaste gedig in die bundel, “higgs-boson blues”, wat oor ’n staptoer handel, is ’n vermenging van verskeie disparate oomblikke in ’n uitgesponne postmoderne versugting. Die titel aktiveer beide ’n lied van Nick Cave en die godspartikel waaroor fisici spekuleer dat dit moontlik die oorsaak van die oerknal kon wees. Die vers eindig met die volgende reëls:
“[…]
die wêreld sterf volledig saam met elke individu
onomkeerbaar soos die feit dat jy toronto toe verhuis
langs jou wat gisteraand vloekend takke breek
steek ons die bloukrans oor langs jou wat sweer
by alles wat heilig is by hadidas en anemone
en nick cave se higgs boson blues dat jy
sal terugkom maar ek weet van beter want water
travel nooit stroomop nie behalwe by hierdie mond
waar die skuim roer soos ’n gescramblede m-net-sein
jy wou sulke steurings altyd stuit met klein antennaverstellings
maar sekere beelde bly ineengestrengel
soos hofpark ná die reën of kloofstraat of dag vyf
op hierdie otter waar alles spookasem-yl
rondom ons vergly higgs bosons sterf brutaal
soos die son langs die see se groot international
departures hier in die nick cave-gedenklaer
waar ’n ander tyd se vinke vermeng met fietsspeke
en halfvergete feesterreine tot ’n mond vol woorde
wat ons seker nooit weer vir mekaar sal sê nie
IV.
Dreyer vestig homself met Nou in infrarooi as ’n belangrike, relevante en eiesoortige stem in die Afrikaanse poësie van 2023. Sy verse beweeg gemaklik tussen subkulture, plekke en randfigure. Die spreker is beide ’n wêreldburger en ’n kleindorpse figuur – hy sien alledaagsheid in die grootsheid raak, en grootsheid in die alledaagsheid. Hiermee bied Dreyer ’n toeganklike maar aweregse blik op die oppervlakkultuur. Hy bemoei homself met eksentrieke karakters en situasies wat elemente van sowel alledaagsheid as grootsheid besit, maar nooit geredelik aan die konvensies van die moderne samelewing oorgee nie.
Sommige lesers mag die narratiewe aard van die verse oordrewe en monotoon vind en selfs besin of Dreyer nie dalk ’n “one trick pony” is wat resepmatig skryf en dat hy min tradisionele digterlike ingrepe gebruik nie. Die teenargument is uiteraard dat alle idiolekte uiteindelik afgestem is op die unieke vaardighede van die digter.
Hierdie leser beskou Nou in infrarooi egter as ’n vernuwende bundel wat ’n stem gee aan die beautiful losers wat deur Leonard Cohen beskryf is as “ordinary eternal machinery, like the grinding of the stars” (Cohen, 1991).
Die bundel skep ook ’n verwagting ten opsigte van Dreyer se volgende bundel.
Bibliografie:
Brandist, C. (2022). From Literary Theory to Cultural Studies. De Gruyter, 821-832.
Cohen, L. (1991). Beautiful losers. Toronto: McClelland & Stewart.
De Lange, J., & Maphumulo, M. (2019). I Wish I’d Said…Vol. 2. Kaapstad: Naledi.
De Wet, K. (2022). Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging. Kaapstad: Naledi.
Dreyer, T. (1998). Erdvarkfontein. Kaapstad: Tafelberg.
Dreyer, T. (2000). Stinkafrikaners. Kaapstad: Tafelberg.
Dreyer, T. (2006). Equatoria. Kaapstad: Tafelberg.
Dreyer, T. (2007). Polaroid. Kaapstad: Tafelberg.
Dreyer, T. (2016). Dorado. Kaapstad: Penguin Random House.
Dreyer, T. (2022). Kodachrome. Pretoria: Protea Boekhuis.
Dreyer, T. (2023). Nou in infrarooi. Kaapstad: Kwela Boeke.
Hugo, D., & De Jongh, F. (2021). Maskers en Mure. Oudtshoorn: Turksvy.
Komrij, G. (1999). Die Afrikaanse Poësie in ‘n Duisend en Enkele Gedigte . Kaapstad: Human & Rousseau.
McCullers, C. (2004). The Heart is a Lonely Hunter. Boston: Mariner Books.
Müller, P. (1993). Die dwerg van die Infanta en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg.
Pretorius, W. (2022). iewers, êrens. Pretoria: Protea Boekhuis.
Sklenicka, C. (2009). Raymond Carver: A Writer’s Life. New York: Scribner.
Weideman, G., & De Vries, A. (1997). Nuwe Stemme 1. Kaapstad: Tafelberg.
Wenner, J., & Seymour, C. (2007). Gonzo: The Life of Hunter S. Thompson. New York: Wenner Media.
Wilde, O. (2013). The Picture of Dorian Gray. Londen: Canterbury Classics .