Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
19 May 202319 May 2023

Resensie: “Nou in infrarooi” (Tom Dreyer)

 

 

 

Resensie: Nou in infrarooi deur Tom Dreyer. Kwela Boeke, 2023. ISBN 978-0-7957-1072-8

Resensent: Mellet Moll

 

I.

Tom Dreyer het bekendheid verwerf as bekroonde prosaskrywer van die romans Erdvarkfontein (1998); Stinkafrikaners (2000); Equatoria (2006); en Dorado (2016) (hierdie boek verskyn ook in Engels as The Long Wave). Hy het ook twee versamelings kortprosa die lig laat sien naamlik Polaroid (2007) en Kodachrome (2022). Dreyer se werk het nog altyd ’n aweregse blik op die alledaagse gehad. Sy waarnemings is intelligent en steun ook op reiservarings deur Europa, die VSA en Suid-Afrika. Hierdie waarnemings herinner sterk aan die epifaniese filmkuns van Quentin Tarantino en David Lynch in die uitbeelding van die kleindorpse subkultuur.

Dreyer vestig hom in die Afrikaanse literêre sisteem in ’n rol soortgelyk aan dié van Raymond Carver in die Noord-Amerikaanse tradisie. Sy fokalisering toon ook ooreenkomste met dié van Hunter S. Thompson. In die Suid-Afrikaanse konteks roep Dreyer narratiewe tonele op wat soortgelyk is aan dié van die skilder Willem Pretorius (2022), waarin die vervalle kleindorpse en landelike Suid-Afrikaanse toneel verbeeld word.

Dreyer se gedigte is reeds in die vorige eeu opgeneem in Nuwe Stemme 1 (Weideman & De Vries, 1997) en Die Afrikaanse Poësie in ’n Duisend en Enkele Gedigte (Komrij, 1999). Hy word in 2019 aangewys as die algehele wenner van die Afrikaanse afdeling van die AVBOB-poësiekompetisie met die gedig “slaap jy solank dan hou ek die fort”. Hierdie gedig is opgeneem in I Wish I’d Said…Vol. 2 (De Lange & Maphumulo, 2019). Van sy gedigte verskyn ook in Maskers en Mure (Hugo & De Jongh, 2021) en Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging (De Wet, 2022).

Dreyer se langverwagte debuutdigbundel, Nou in infrarooi (2023), is ’n belangrike toevoeging tot sy skrywersoeuvre en dui op ’n terugkeer na sy eerste ambag. Sy ervaring as prosaskrywer kom handig te pas tydens die komposisie van hierdie versameling gedigte en narratiewe verse waarmee hy homself in die geselskap van ander hedendaagse narratiewe Afrikaanse digters soos Danie Marais, Charl-Pierre Naudé, Gert Vlok Nel en Andries Bezuidenhout bevind.

 

II.

Die omslagkuns is ’n foto van ’n dorre landskap met ’n grondpad wat deur ’n rooi filter waargeneem word. Dit kan ook ’n Marslandskap voorstel. Die titel dui op twee belangrike elemente wat in die verse voorkom: eerstens, ’n dringendheid en onmiddellikheid in die verse en tweedens, soos in die geval van sy kortprosa, ’n aanduiding van die lens waardeur ’n subjek beskou word. Infrarooibestraling is ’n vorm van elektromagnetiese bestraling wat onsigbaar is vir die menslike oog. Infrarooibestraling word in ’n verskeidenheid toepassings gebruik soos: nagvisie – om in die donker te sien; termiese beelding – om beelde te skep wat die temperatuur van objekte uitwys, asook vir mediese diagnosering en afstandbeheerders. Die titel dui dus spesifiek op die sigbaarmaking van dít wat nie geredelik vir die blote oog waarneembaar is nie. Volgens Dreyer speel die keuse van die lens ’n belangrike rol in die sigbaarmaking van die verborge narratiewe wat in die alledaagse skuil. Hierdie spel tussen die sigbare en sigbaarmaking van die onsigbare is ’n belangrike sleutel tot die ontsluiting van die bundel.

Die Ierse dramaturg en digter Oscar Wilde beweer in The Picture of Dorian Gray: “People say sometimes that beauty is only superficial. That may be so, but at least it is not so superficial as thought is. To me, beauty is the wonder of wonders. It is only shallow people who do not judge by appearances. The true mystery of the world is the visible, not the invisible.” (Wilde, 2013)

In die sosiologie lei die opvatting dat die postmoderne kultuur weier om die pretensie en vernaamheid van die kunste te respekteer, tot die opheffing van die onderskeid tussen hoë kuns en populêre kultuur (Brandist, 2022). Daar word gevolglik bloot drie vlakke van populêre kultuur onderskei naamlik oppervlakkultuur, wat verwys na objekte wat met die blote oog sigbaar is; intermediêre kultuur, wat deels sigbaar en deels onsigbaar is en dieptekultuur, wat op besinning, interpretasie, abstraksies en simboliek dui.

Hoewel Dreyer se narratiewe gerig is op die oppervlakkultuur, bevat dit ook elemente van die gonzo-subkultuur wat deur die joernalis en prosaskrywer Hunter S. Thompson in die 1970’s gevestig is (Wenner & Seymour, 2007). Die gonzo-subkultuur fokus op joernalistiek wat gevul is met bisarre tonele en eksentrieke figure waarby die verteller dikwels sélf betrokke is. Ook die sogenaamde dirty realism van Raymond Carver (Sklenicka, 2009) en soortgelyke epigone is relevant tot die inskatting van Dreyer: deernisvolle vertellings oor randfigure aan die buikkant van die samelewing, met ’n ontstellende en soms ironiese of selfs komiese afstandigheid.

 

III.

Daar is geen rubrisering in die bundel nie, hoewel die gedigte georden is volgens ’n liniêre narratiewe gang. Die gedigtitels getuig van allerlei alledaagse situasies. In ooreenstemming met die voorafgenoemde kenmerke van Dreyer as skrywer en digter, herinner die tipografiese styl van die verse aan dié van e.e. cummings.

Die bundel open met die vers “charlie bravo kom in”:

 

een aand op colesberg ek was sewe

ons was op pad kaapstad toe sien ons twee

laaities in telefoonhokkies met mekaar sit en gesels

die ou soort hokkie wat oranje was en uitgehol

en verbasend baie soos ’n eier hulle lywe was ten volle

in dié doppe ingetrek soos kuikens of dalk ruimtevaarders

hulle het gelag en was vir ’n wyle ontsettend ver van hier

en terwyl ek luister hoe hulle woorde in colesberg se lug

verdubbel soos in ’n badkamer se spieël het alles

volledig vir my sin gemaak ook vir my suster

net my pa was deurmekaar hulle praat

dan met mekáár het hy aanhou sê

en presies het ek aanhou antwoord

 

Die titel is meerduidig: dit is enersyds ’n begroeting in die militêre styl, maar andersyds bloot ’n verwysing na Colesberg. Hierdie vers aktiveer die belangrikste leitmotiewe in die bundel. Wanneer die blik verby die alledaagse beweeg, word ’n oorspronklike situasie waargeneem – dit aktiveer die reismotief; die intergeneratiewe verskille met die vaderfiguur en die simboliek van ’n jeug- of reisherinnering wat nabetragtend helder word. Die vers wys ook Dreyer se vernuftige gebruik van enjambemente in sy verse.

Dreyer betrek verskeie ikoniese randfigure uit die populêre kultuur soos Leonard Cohen, Nick Cave en Hunter S. Thompson. In die drieledige vers, “road trips met leonard cohen” (pp. 14-15) betrek Dreyer vir Cohen intertekstueel. Die eerste deel, “– reaching for the sky just to surrender” (p. 14) betrek ’n reël uit die lied, “The stranger song” en handel oor die spreker se padreis saam met sy vader in Haruchas, Namibië. ’n Likkewaan verkas voor die aankomende Land Cruiser, ’n insident wat ironies resoneer met die betekenis van die woord “Haruchas”, naamlik “haastige plek”:

 

– reaching for the sky just to surrender

ek en my pa ry in die land cruiser

tussen haruchas se opgehewe riwwe

leonard sing en telefoonlyne

trek verte en voorgrond tesaam

in die padreserwe wiegel ’n likkewaan

van kop tot stert ’n gespikkelde stang

met ’n tong soos ’n aftaster en twee oorgate

ingestel op die nuutskepping van ons koms

só staan hy in ’n dralende

konsentraat van stof en sinne

in ’n middag wat verwoordbaar voel

tot alles uitmekaarspat

in ’n warboel van beweging

deur chaotiese bosse en los gruis

tot by ’n telefoonpaal waar selfs sý

kloue faal en hy keer op keer afgly

teen die gladde kreosoot

 

In die daaropvolgende “– until the sea shall free them” (p. 15), ontleen aan Cohen se “Suzanne”, besin die spreker oor die ontoeganklikheid van die see en ontbloot hy sommige tradisionele idees of clichés oor die see wat op digterlike wyse tot die mens spreek:

 

– until the sea shall free them

by gladdeklip staar ons na ’n see

wat voor ons hier was en ná ons sal sloer

’n see sonder opinies oor sonsopkomste

of -ondergange of drywende sakke

’n see wat vere voel vir vlae

of stuurmanne of rampsalige passasiers

’n see wat onophoudelik beduie

met rooi en wit anemone

maar soos pa verseg om enigiets te sê

 

Die derde subvers, “– all at once the torches flare” (p. 15), ’n reël uit Cohen se lied “The Guests”, verbeeld op ’n magiese wyse ’n mossie wat wegbreek van sy swerm en water drink uit die Land Cruiser se watertenk. In verskeie verse figureer beelde soos fakkels, flitsligte, verskietende sterre, koronas en flitsfotografie. Hierdie verblindende en oombliklike lig ontbloot die vervlietende aard van dinge in die bundel:

 

– all at once the torches flare

’n vlaag van mossies verduister die son

bo ons aftrekplek by sossusvlei hulle kwetter

weg na duin 45 net een bly agter hy hop-hop

tot onder die cruiser se druppende watertenk

hy’s oopbek en flink soos ’n goëlaar hy vang

steeds daai druppels soos vlammende fakkels

 

Aansluitend tot die voorafgenoemde motief verwys die vers, “terugkerende lens flare” (p. 27) na die spreker en sy vader wat ’n padreis na die Hexriviervallei onderneem en waarin die “drie komeetkykers” ’n analoog vorm vir die Bybelgegewens oor die drie wyse manne wat die stal met Jesus Christus se geboorte besoek het. Die spreker posisioneer hierdie komeetkykers binne die oppervlakkultuur wanneer die punk-rocker, Iggy Pop, Prince (met verwysing na “Purple rain”), asook die Middeleeuse kunstenaar Giotto Di Bondone in een asem genoem word:

 

gretig om te baai

in die lig van die groot terugkerende

lens flare

die korona gesete in sy wentelbaan

ry ons in ’n clapped-out camry

na die hexriviervallei

drie komeetkykers

drie verteenwoordigers

van die aarde daarom ook

van iggy pop en purple rain

en van giotto di bondone

wat glo in 1304 vryhand

volmaakte sirkels kon trek

hy het hierdie dwaalster

glansryker geposisioneer

bo die koppe van drie wyse manne pas gearriveer

uit die ooste oorlaai met goud en verwagtinge

met ’n kwynende reuk van wierook

in ons hare

 

Die jukstaposisie van ’n Middeleeuse skilder teenoor moderne populêre musikante wat op simultane wyse die “dwaalster” betrek, skep enersyds die verwagting dat ideologiese en religieuse kwessies nie ernstig opgeneem moet word nie en dui andersyds op die mens se verwondering met blink en vlammende verskynsels. Die vermenging van pop-ikone met Middeleeuse kuns strook met die beskouing oor die postmoderne populêre kultuur soos uiteengesit in Deel II.

Die vers, “infanta” (p. 31) is opgeneem in Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging (De Wet, 2022). Alhoewel die titel Müller se kortverhaalbundel, Die dwerg van die Infanta en ander verhale (Müller, 1993) aktiveer, het die gedig inderwaarheid weinig in gemeen met Müller se bundel, behalwe vir die terloopse verwysing na lokaliteit.

Dreyer se fassinasie met die Sowjet-ruimteprogram van die 1960’s kom aan die bod in verskeie gedigte waarin die destydse Spoetnik-ruimtereise betrek word. Dit skep ’n omgewing wat ryk is aan nostalgie, en soos in baie van Dreyer se narratiewe leef beide sukses en mislukking, asook die uiteindelike verval saam. Die gedigte “infanta” en “en toe het joeri gagarin subsonies” (pp. 31-32) is voorbeelde hiervan. Gagarin word ’n figuur waardeur verskeie temas geaktiveer word.

Hieronder, die gedig “infanta”:

 

uit die geslotenheid van die boland

reis ek na infanta verby sir lowryspas grabouw

en riviersonderend waar ’n coke-lorrie sy vrag

voor die carica superette verloor en voort via protem

en stormsvlei tot by cloeteskraal om daar af te trek

want dis vroegaand

en die vinke is onstuitbaar in die riete

 

hier word die wêreld môreoggend hergebore

maar tot dan toe staan dié bouval swart

en nougeset op sy fondasies

in ’n nag wat strek soos ’n pad tussen die berge

soos ’n verposing of ’n poort na daardie sterre

waardeur joeri gagarin vir die eerste keer kon flits

 

om 06:55 toe cloeteskraal se flinkste vinke roer

het hy die dag van bo af sien breek oor infanta

en kaap agulhas sy kompasnaald begoël

deur magnetiese steurings

 

om 08:05 verskyn hy

uit die son bo kazakstan as glas en staal

en valskermsy aan aartappelplanters

soos aan skeerders van overbergse skape

 

en hy sê: moenie bang wees nie

ek is jul kameraad

ek het uit die ruimte neergedaal

 

Die slotstrofe, waarin die ruimtewese (hemelwese) aan skaapskeerders (’n sinspeling op skaapwagters) verskyn, vorm ’n parodie op Lukas 2:9-11:

“Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.’”

Dreyer se toespelings op Bybelse gebeure geskied nie in die tradisionele sin nie, maar aweregs, vergesel van fantasie – soos in die vers “’n ster in die ooste” (p. 24), waarin ’n ander Russiese ruimtereis verbeeld word.

In “slaap jy solank, dan hou ek die fort” (pp. 46-47) bring Dreyer hulde aan sy vriend, die ontslape skrywer Jaco Botha (1972-2016) wat saam met hom studeer het aan die Universiteit van Kaapstad en ’n MA in skeppende skryfkuns verwerf het. Hierdie ontroerende vers vorm een van vele hoogtepunte in die bundel:

 

beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons ma-verhandelings

dwaal ek en jy na die middelkampus

van uct platane platane en ’n flitsblik

van die see ek onthou hoe jy daai aand

in ons gehawende flat digby de waal-park

mooitjies ’n sigaret uit jou kwitansie rol

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal

ek sien jou soms steeds dáár

te hyper om lekker te sit dalk daarom

deurlopend op soek na iets om aan te steek

of dood te druk of ’n radio om aan te peuter

of failing all else ’n liggaamsdeel om aan te krap

 

onthou jy die nag toe ons meer as enigiets

die môre wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die môre ver

patryse net so stom soos fisante

ons was koud en moerig

vir onsself maar meestal vir mekaar

 

onthou jy die week toe ons op rys en mayonnaise

oorleef het of die keer toe ons die agtersitplekke

van my alfa uitgehaal het op soek na kleingeld

vir checkers se goedkoopste sigarette?

 

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis

staan en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla

dis gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel

nes daai aand by die kknk toe jou trane soos whisky

op die kroegtoonbank spat en jy sê: kom ons gaan slaap

eerder tom dan is ons ten minste nie meer wakker nie

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

 

In “the heart is a lonely hunter” (pp. 53-55) skep Dreyer ’n intertekstuele spel met die gelyknamige titel van die Amerikaanse skrywer, Carson McCullers se roman (McCullers, 2004). McCullers, op haar beurt, het haar romantitel ontleen aan ’n gedig van die Skotse digter, William Sharp: “Deep in the heart of Summer, sweet is life to me still, / But my heart is a lonely hunter that hunts on a lonely hill.” McCullers skryf oor eksentrieke en wanaangepaste mense in die Suide van die VSA. Die motto tot hierdie drieledige vers is: “’Well, vehicular, of course – something is a very fine car’. – Hunter S. Thompson aan George Plimpton oor hoe hy graag sou wou sterf.”

Poësie as metatekstuele kommmentaar kom voor in die eerste deel, “– hunter s soek swart koraal” (p. 53), wat as ’n vorm van gonzo-beriggewing aangebied word. Thompson as pionier van gonzo-joernalistiek, was bekend vir sy verpersoonlikte beriggewing waarin die betrokke joernalis homself inskryf in ’n narratief wat gekenmerk word deur sosiale kritiek, satire, humor en sarkasme. In hierdie gedig beland die protagonis, die befaamde Hunter S. Thompson sélf ter nouerdood in die hospitaal ná ’n skubaduik-episode waartydens hy as “paddaman” amper verdrink het.

 

– hunter s soek swart koraal

hunter s soek swart koraal

in ’n diepseetrog by yucatán

hy swem as paddaman in ’n baai gepons

deur die neerkom van ’n groot komeet hy baai

sy ledemate bruin en drink en rook en hersien saans

die pypies van sy skuba-apparaat dog met onvoldoende

sorg want een oggend staak sy suurstofvloei en laat hom

ruk en stoei op driehonderd voet en kurklig boontoe bons

verby sonvis en wier en elke aanbevole dekompressiestasie

tot hy rasend deur die oppervlak bars ’n borreltjie

lug onder sy stopsel en elke gewrig geïnflammeer

hulle lê hom neer op dek en jeep-laaibak

sy duiksakkie vol koraliet

laat loop verby klokboei en veerbootterminaal

en besorg hom skreeuend by die hospitaal

 

In die daaropvolgende “– extra vehicular activity” (p. 54) verskyn Thompson in ’n geblomde ruimtepak tydens ’n mediakonferensie. Resensente het in vorige romans van Dreyer getoon dat sy skryfwerk aan strokiesprente herinner en in hierdie bundel slaag hy daarin om die onwaarskynlike strokiesprentagtige narratiewe en uitbeelding (showing) in poësie tuis te bring. Dit beklemtoon dat Dreyer beslis ’n besonder unieke digterstem het. Die verse is méér as filmiese beweging: dis ook die verbeelding van die burleske, die karikatuuragtige en ’n fyn oog vir absurde situasies:

 

– extra-vehicular activity

hunter ry per taxi deur toronto

af in yongestraat hart van downtown

verby die rose & crown en sam the record man

verby die wasmuseum waar sting en jackie chan

onverpoos in skynkonflik poseer

neffens elke bar

por die reklameman die taxidrywer: ry

hulle’s reeds laat vir ’n radio-tête-a-tête

 

die mediaman het hunter pas ontset

uit die foyer van die empress hotel

waar die gaste hom misgis het vir john glenn

of charlie duke of straks ’n ander ruimtevaarder

 

die reklame-ou sprei sy bene wyer

knus in sy jas van rooi veloer

maar skrik hom terstond desmoers

toe hunter vanuit ’n geblomde ruimtepak

in weerwil van die stad se ordonnanse

’n singapore sling te voorskyn bring

 

en ná die uitskop

terwyl hunter sy reis te voet voltooi

bly cape canaveral onbewus

dat hunter deur sy cocktail-glas

soos deur ’n spektroskoop

’n verrassende feit in die sonlig onbloot:

élke dag is ’n ongeskeduleerde ruimteloop

 

In die derde deel van die vers, “– hunter s voorsien sy dood” (p. 55) word Thompson se dood fiktief verbeeld.

 

– hunter s voorsien sy dood

hy sterf veral buite birmingham

agter die stuur van ’n jaguar supersonic

hy hou reguit op die pas se laaste draai en hang

papierlig bo die maste van ’n raffinadery au naturale

op wieke van red heart sy kap is afgeslaan sy kattebak

vol springstof sy middae ’n steeds reiner distillaat

 

Inderwaarheid het Thompson by sy huis selfmoord gepleeg deur homself te skiet. Tog skryf Dreyer onverstoord op Thompson se doodsfantasie af. Die fyn aanvoeling vir die nuanses van digterlike taal blyk uit byvoorbeeld “’n steeds reiner distillaat”, wat paradoksaal dui op die onverdunde gebruik van Red Heart Rum, asook “springstof”, ’n voorafskaduwing van sy skietdood enersyds, maar andersyds woorde wat die konnotasie van vitaliteit oproep.

Die laaste gedig in die bundel, “higgs-boson blues”, wat oor ’n staptoer handel, is ’n vermenging van verskeie disparate oomblikke in ’n uitgesponne postmoderne versugting. Die titel aktiveer beide ’n lied van Nick Cave en die godspartikel waaroor fisici spekuleer dat dit moontlik die oorsaak van die oerknal kon wees. Die vers eindig met die volgende reëls:

 

“[…]

die wêreld sterf volledig saam met elke individu

onomkeerbaar soos die feit dat jy toronto toe verhuis

langs jou wat gisteraand vloekend takke breek

steek ons die bloukrans oor langs jou wat sweer

by alles wat heilig is by hadidas en anemone

en nick cave se higgs boson blues dat jy

sal terugkom maar ek weet van beter want water

travel nooit stroomop nie behalwe by hierdie mond

waar die skuim roer soos ’n gescramblede m-net-sein

jy wou sulke steurings altyd stuit met klein antennaverstellings

maar sekere beelde bly ineengestrengel

soos hofpark ná die reën of kloofstraat of dag vyf

op hierdie otter waar alles spookasem-yl

rondom ons vergly higgs bosons sterf brutaal

soos die son langs die see se groot international

departures hier in die nick cave-gedenklaer

waar ’n ander tyd se vinke vermeng met fietsspeke

en halfvergete feesterreine tot ’n mond vol woorde

wat ons seker nooit weer vir mekaar sal sê nie

 

IV.

Dreyer vestig homself met Nou in infrarooi as ’n belangrike, relevante en eiesoortige stem in die Afrikaanse poësie van 2023. Sy verse beweeg gemaklik tussen subkulture, plekke en randfigure. Die spreker is beide ’n wêreldburger en ’n kleindorpse figuur – hy sien alledaagsheid in die grootsheid raak, en grootsheid in die alledaagsheid. Hiermee bied Dreyer ’n toeganklike maar aweregse blik op die oppervlakkultuur. Hy bemoei homself met eksentrieke karakters en situasies wat elemente van sowel alledaagsheid as grootsheid besit, maar nooit geredelik aan die konvensies van die moderne samelewing oorgee nie.

Sommige lesers mag die narratiewe aard van die verse oordrewe en monotoon vind en selfs besin of Dreyer nie dalk ’n “one trick pony” is wat resepmatig skryf en dat hy min tradisionele digterlike ingrepe gebruik nie. Die teenargument is uiteraard dat alle idiolekte uiteindelik afgestem is op die unieke vaardighede van die digter.

Hierdie leser beskou Nou in infrarooi egter as ’n vernuwende bundel wat ’n stem gee aan die beautiful losers wat deur Leonard Cohen beskryf is as “ordinary eternal machinery, like the grinding of the stars” (Cohen, 1991).

Die bundel skep ook ’n verwagting ten opsigte van Dreyer se volgende bundel.

 

 

Bibliografie: 

Brandist, C. (2022). From Literary Theory to Cultural Studies. De Gruyter, 821-832.

Cohen, L. (1991). Beautiful losers. Toronto: McClelland & Stewart.

De Lange, J., & Maphumulo, M. (2019). I Wish I’d Said…Vol. 2. Kaapstad: Naledi.

De Wet, K. (2022). Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging. Kaapstad: Naledi.

Dreyer, T. (1998). Erdvarkfontein. Kaapstad: Tafelberg.

Dreyer, T. (2000). Stinkafrikaners. Kaapstad: Tafelberg.

Dreyer, T. (2006). Equatoria. Kaapstad: Tafelberg.

Dreyer, T. (2007). Polaroid. Kaapstad: Tafelberg.

Dreyer, T. (2016). Dorado. Kaapstad: Penguin Random House.

Dreyer, T. (2022). Kodachrome. Pretoria: Protea Boekhuis.

Dreyer, T. (2023). Nou in infrarooi. Kaapstad: Kwela Boeke.

Hugo, D., & De Jongh, F. (2021). Maskers en Mure. Oudtshoorn: Turksvy.

Komrij, G. (1999). Die Afrikaanse Poësie in ‘n Duisend en Enkele Gedigte . Kaapstad: Human & Rousseau.

McCullers, C. (2004). The Heart is a Lonely Hunter. Boston: Mariner Books.

Müller, P. (1993). Die dwerg van die Infanta en ander verhale. Kaapstad: Tafelberg.

Pretorius, W. (2022). iewers, êrens. Pretoria: Protea Boekhuis.

Sklenicka, C. (2009). Raymond Carver: A Writer’s Life. New York: Scribner.

Weideman, G., & De Vries, A. (1997). Nuwe Stemme 1. Kaapstad: Tafelberg.

Wenner, J., & Seymour, C. (2007). Gonzo: The Life of Hunter S. Thompson. New York: Wenner Media.

Wilde, O. (2013). The Picture of Dorian Gray. Londen: Canterbury Classics .

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Resensie: Op die nerf af (Anita van der Walt)

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot
  • Krige Visser. die wedstryd op Marchand

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d