Posts Tagged ‘nasiebou’

Marius Swart. Die volk en die lied

Thursday, March 25th, 2010

Nou die dag dink ek weer aan iets wat my al lankal pla. Op die televisie verskyn laatnag ’n treffende montage van toeriste-aantreklikhede met ’n meegaande weergawe van ons Volkslied wat gesing word deur ’n mooi diverse groep landgenote. Die uitspraak is plek-plek baie onafgerond (byvoorbeeld “dieptê-hê” vir “diepte”, “sie-hê” vir see, “ji-mil” vir “hemel”, “gie-hê” vir “gee”, ensovoorts). Dit klink op party plekke net so erg soos ’n junior koor met ’n hardhorende musiekjuffrou of –meneer. Is dit werklik te veel gevra dat die sangers voor dié een opname van so ’n belangrike lied ’n bietjie stemafrigting en uitspraaklesse kry? Dit is die een kant van die ding waaroor ek wonder.

Op ’n ander oggend hou die radiostasie ’n kompetisie waar luisteraars kan wys hoe mooi hulle ons Volkslied kan sing. Volgens die digter is dié kompetisie deel van ’n broodnodige opvoedingstaak. So skakel hulle die eerste deelnemer. Vol verwagting draai ek die radio harder en die ruit af. Dit kan tog iets mooi en outentiek wees, soos ’n tarentaalveer, ’n stukkie sebravel, of ’n ystervarkpen. En die inbeller val weg, met mag en mening. “Kossie siekelêla Aaaaf-rie-kaaaaa, Maloepakamiesô Tanda Lalaaaa”. Ek laster binnesmonds. Inbeller twee se lyn word afgesny. Ek stuur binnesmonds ’n dankgebed op. Inbeller drie is hees, maar gewillig: “Inkossie siekelêlê Aaaaf-rie-kaaaaa, Malapakoemniesô Doelô Lalô”. Ek draai die radio dood en swets. Dit is die ander kant van die ding waaroor ek wonder.

Ek besluit om uit te vind wat die probleem is, want skynbaar is ’n vertaling en skriftelike weergawe van die lirieke van dié lied moeilik verkrygbaar. Tot my verbasing is daar egter verskeie plekke waar die Volkslied met volledige woorde, wysie en al te kry is. Gratis ook. Dit verskyn selfs as deel van die bogenoemde kompetisie op die radiostasie se webblad, om maar een voorbeeld te noem. Daar is selfs ’n klankgreep om die wysie mee te oefen. Goed, dit is op die internet. Dalk is dit moeilik vir gewone mense om in die hande te kry. Ek besluit om ons parkeerterrein se inwonende boemelaar te pols. Hy vra my elke Vrydagoggend vir ’n R5’tjie vir die naweek. Vandag, besluit ek, gaan hy sing.Toe hy aangestap kom, sê ek hy kan dit kry, maar hy moet eers die Volkslied sing. Hy trek los en dis foutloos; dis selfs mooi op die noot. Ek gee hom sommer R10.

Dit lyk vir my asof ’n betekenisvolle deel van my landgenote in hierdie mooi land skynbaar nie die moeite wil doen om uit te vind wat die woorde wat hulle sing, beteken, of hoe om dit uit te spreek nie; nie omdat dit besonder moeilik is om uit te spreek nie, maar omdat hulle te lui is, te min omgee, of te min respek daarvoor het. Daarteenoor kan die hardegat bedelaar dit regkry, selfs met ’n paar sopies agter die blad.

Miskien moet kiesers in die vervolg eers die Volkslied deursing voordat hulle mag stem. Miskien kan ons soggens buite ons parkeergarages saam met die boemelaars, bedelaars, sekuriteitswagte en petroljoggies op die sypaadjie staan en saam die Volkslied sing. Miskien kan ons dit vir ons kinders leer. Miskien kan ons dit veral vir ons grootmense leer. Dan noem ons dit sommer “nasiebou”.

  •