Louis Esterhuizen. Kwartet vir die einde van die tyd
Wednesday, January 15th, 2014Gestel dit is die nag van 15 Januarie 1941 in die Stalag VIIIA-gevangeniskamp in die Duitse dorpie Görlitz. In die oopte langs Barak 27 sit ongeveer 400 styf teen mekaar ingedruk. Met in die voorste ry, net so bibberend van die koue soos die geïnterneerdes agter hulle, die Duitse offisiere. Onder hul voete, in die modder en sneeu, lê tientalle van die kaartjies hierbo vertrap. Almal kry koud. Maar hulle is almal teenwoordig, ten spyte van die feit dat hulle uiters moeg is na die dag se harde handearbeid; ten spyte daarvan dat dit oorlog is en hulle uitgeteer van honger en vrees. Hoekom? Want vier van hulle het toestemming gekry om hulle te trakteer op ‘n musiekuitvoering en enigiets is beter as die gebruiklike uitsiglose stiltes in die gebruiklike skuiltes van bed en stank, is dit nie?
Daardie aand het die Franse kompoinis Olivier Messiaen (1908 – 1992) sy magistrale werk Quatuor pour la fin du temps (in Engels bekend as Quartet for the End of Time) met die hulp van drie makkers (tjello, viool en klarinet) met die wêreld gedeel op ou, afgeleefde instrumente. En vandag nog, 73 jaar later, is hierdie musiek van Messiaen sekerlik nog steeds een van die sterkste uitdrukkings van menswees en menswaardigheid.
In sy boek The Rest is Noise, skryf Alex Ross soos volg oor dié musiek: “The title does not exaggerate the ambitions of the piece. An inscription in the score supplies a catastrophic image from the Book of Revelation: “In homage to the Angel of the Apocalypse, who lifts his hand toward heaven, saying, ‘There shall be time no longer.’ It is, however, the gentlest apocalypse imaginable. The seven trumpets and other signs of doom aren’t roaring sound-masses, as in Berlioz’s Requiem or Mahler’s ‘Resurrection’ Symphony, but fiercely elegant dances, whose rhythms swing along in intricate patterns without ever obeying a regular beat.”
En ‘n paar paragrawe verder verduidelik hy waarom hy spesifiek hierdie musiek bó enige ander uitsonder: “Messiaen’s quiet answer to the ultimate questions of fear and faith stayed with me the longest, not because he was a greater composer than Bach or Beethoven but because his reply came out of an all-too-modern landscape of legislated inhumanity.’
Gaan lees gerus Alex Ross se artikel indien hierdie onderwerp jou interesseer; veral die gedeeltes oor hoe die vier musikante mekaar ontmoet het onderweg na die kamp en die tragiese verloop toe Karl-Albert Brüll, die Duitse offisier wat die hele uitvoering moontlik gemaak het, na die oorlog by Messiaen se deur aankom en laasgenoemde weier om hom te woord te staan … En toe hy hom uiteindelik bedink en probeer het om Brüll op te spoor, moes ontdek dat Brüll onder die wiele van ‘n motor gesterf het.
Kwartet vir die einde van tyd.
Ons totale menswees in die bestek van 8 bewegings, gespeel deur vier instrumente.
Vandag, 73 jaar gelede. In ‘n Duitse konsentrasiekamp.
By wyse van leesprikkel herinner ek jou graag aan Marlies Taljaard se wonderlike bespreking van besonderse gedigte deur Marius Crous; gedigte en bespreking waarin Messiaen dikwels betrek word.
Soos die een hieronder.
*
MESSIAEN
messiaen lig die katedraal
wat debussy laat sink het
soos ‘n hand vol skulpgruis
uit die see
debussy het hom laat wegsink
soos ‘n skatkis in die geelgroen slik
maar messiaen
voor die orrel
katrol hom stadig op
op
op
op
tot op ‘n piek in darien
© Marius Crous (Uit: Vol draadwerk, 2012: Protea Boekhuis)