Posts Tagged ‘Tuin van digters program’

Breytenbachsentrum. Tuin van digters 2015: Volledige program.

Thursday, August 6th, 2015

Tuin van digters 2015: Program

Breytenbachsentrum, 19 & 20 September 2015, Wellington

 

KUNSUITSTALLINGS:

“Skerwe uit die Ontstaan van ‘n Oorledige Self / Fragmented Emergence of a Late Self”

Hierdie vyftiental akrielwerk op doek is alles onlangse werke deur Breyten Breytenbach, en sal vir die eerste keer uitgestal word.

Opening: 18 September | 18:00 | Breytenbach Galery

RSVP by Anne-Ghrett Erasmus om die opening by te woon: galery@breytenbachsentrum.co.za

FILMVERSE

Artistieke regisseur: Diek Grobler

Vir die ATKV: Nita Cronjé

Die ATKV se Filmverse, in samewerking met Diek Grobler, is ’n projek waar in ’n reeks kort animasiefilms geskep word wat geïnspireer is deur ’n keuse van 12 Afrikaanse gedigte. Elke animasiefilm word vergesel van ’n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word. Die eindproduk is ’n DVD van sowat 30 minute met die twaalf animasiefilms daarop wat tydens die Tuin van Digters deurlopend vertoon sal word. Dié vertonings word vergesel van ’n uitstalling van plakkate van elk van die twaalf animasie films. In aansluiting by die uitstalling, word ’n animasie-werkswinkel aangebied.

Kontak Diek Grobler by diek@fopspeen.co.za vir meer inligting.

19 September | 9:00 – 20:00 | 20 September | 9:00 – 17:00 | 30 min | Konferensie-lokaal

SATERDAG 19 SEPTEMBER:

UIT OPPERMAN SE LABORATORIUM

Met Daniel Hugo, Joan Hambidge, André le Roux en Ronel de Goede

DJ Opperman se destydse Letterkundige Laboratorium het ’n wesentlike invloed gehad op die Afrikaanse digkuns van latere generasies. Van die bekendste digters, skrywers en akademici wat hier hul menings gevorm en talente geslyp het, kom gesels oor Opperman as mentor en sy verbysterende bydrae tot ons letterkunde.

19 September | 9:30 | 60 min | Vierkant

HOE LOOP DIE PAD NOU?

Met Breyten Breytenbach en Francis Galloway

Waar kom ons vandaan? Waar is ons nou? Waarnatoe is ons op pad? Wat laat mens agter as padkaarte, waarskuwings, valse hoop, waarnemings en reisnotas?

19 September | 11:00 | 60 min | Vierkant

BOKKIE SÊ MY REG

Met Pieter van der Westhuizen

Die stem agter bekende liedjies soos “Sout Manne Sout” en “Wie se kjênd is jy?” sorg dat jy jou fees in die regte luim ervaar.

19 September | 12:15 | 45 min | Vierkant

MENGELMOES DIGTERS

Ondersteun deur die ATKV en LW Hiemstra Trust

Met Diana Ferrus en studente

Die Breytenbach Sentrum bied jaarliks ’n poësie-skryfskool aan onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie groep opkomende digters kom lees van hul verse voor.

19 September | 13:15 | 30 min | Vierkant

ONS KOM VANDAAN …

Ondersteun deur die NLDTF

Met Gaireyah Fredericks, Wayne Galant, Collinecea Hawker, Josua Meyer en Curtly Titus. Regie: Christine Truter

Meesleurend, opruiend, oproerig, versoenend, onthutsend en omhelsend. Die Breytenbach Sentrum se drama-groep, Kaleidoskoop, bied ’n ondersoekende en ontroerende blik op die werk van bruin digters oor ses dekades heen – van PJ Philander en Adam Small, tot Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Jitsvinger. Die program word voorafgegaan deur ’n kort spreekkoor-optrede van die sentrum se hoërskool-dramagroep.

19 September | 14:00 | 45 min. | Vierkant

WOELAG 

Met Hakkiesdraad Hartman

Hakkiesdraad Hartman is een van die voorste en veelsydigste rymkletsers in Afrikaans. Dié boorling van George sal jou laat hop van die lekkerkry.

19 September | 15:00 | 30 min | Vierkant

DUBBELDOOR TALENT

Met Sisca Julius en Diana Ferrus

Sisca Julius, ’n oudleerling van die Hoërskool Noord-Kaap en Pukstudent, is onlangs aangewys as die nasionale wenner in beide die prosa- en poësie-afdelings van die Poort-skryfkompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Wat hierdie prestasie nóg indrukwekkender maak, is dat dit die eerste keer in 45 jaar is wat ’n leerling beide pryse wen. Kom luister hoe hierdie belangrike nuwe stem gesels oor haar werk en daaruit voorlees.

19 September | 15:45 | 45 min | Vierkant

MOEDERLAND

Ondersteun deur die Nederlands Letterenfonds en Van Ewijck Stigting

Met Antjie Krog en Anne Vegter

Twee formidabele digters, twee vastelande. Anne Vegter beklee tans die amp as Dichter des Vaderlands – die eerste vroulike Nederlandse digter met dié eretitel. Antjie Krog, veelbekroonde digter en skrywerjoernalis, is onlangs weer bekroon vir haar nuutste bundel verse, Medewete. Hulle gesels oor hul onderskeie digwerk en lees van hul nuutste werke voor.

19 September | 17:00 | 60 min. | Vierkant

TRIBAL ECHO

Met Frazer Barry (hoofsanger), Sandy Gertse (sanger), Earl Witbooi (baskitaar), Deniel Barry (tromme) en Este Visser (viool en klawerbord)

Tribal Echo met hulle vars musikale styl wat hul Klip Kop Rock noem, is een van die energiekste musiekgroepe in die land. Maak jou reg vir ’n ding of twee – veral as jy hulle nóg nie beleef het nie.

19 September | 18:30 | 60 min. | Vierkant

DIGTERS WAT DJ

Met oa Danie Marais, Alfred Schaffer, Charl-Pierre Naudé, Erns Grundling, Loftus Marais en Toast Coetzer

Kom rock en rym saam met digters wat die liedjies speel wat hulle gedigte inspireer. Die afterpaartie word goed aan die gang gesit met die befaamde Unhappy Hour DJ’s.

19 September | 20:00 | 90 min. | Vierkant

SONDAG 20 SEPTEMBER:

MM WALTERS – DIE MAN WAT GLIMLAG MET ’n MES ONDER DIE JAS

Met Johann Nel, Daniel Hugo en Gunther Pakendorf

“Die ou Romeine het hul Juvenalis gehad; die Afrikaanse letterkunde het as teenhanger die satirikus MM Walters,” het Zandra Bezuidenhout op ’n keer opgemerk oor hierdie merkwaardige woordman wie se spore ook diep getrap is in Wellington. Ons bring graag hulde aan hierdie hoë boom in die Afrikaanse digterstuin.

20 September | 10:00 | 60 min. | Vierkant

TT CLOETE 

Met Joan Hambidge en andere

“Cloete se impak op die Afrikaanse digkuns was en is groot. Hy het die kontoere van die digkuns verander, soos Breytenbach en Stockenström voor hom,” skryf Joan Hambidge oor Theunis Theodorus (TT) Cloete. Ons salueer graag hierdie groot digter, wat op 29 Julie 2015 sterf, vir sy lewensbydrae.

20 September | 11:30 | 60 min. | Vierkant

LIZE BEEKMAN

Die immergewilde Lize Beekman sing enkele geliefde toonsettings van onder meer Petra Müller, Elisabeth Eybers en Breyten Breytenbach.

20 September | 12:35 | 25 min. | Vierkant

BEWOON DEUR IETS GROTERS

Moontlik gemaak deur die Vlaamse regering

Met Charles Ducal en Alfred Schaffer

Charles Ducal is die skrywersnaam van die Vlaamse digter, Frans Dumortier, wat in 2014 aangewys is as die eerste Belgische Dichter des Vaderlands. Later vanjaar verskyn Bewoond door iets groters-Au-delà de la frontière-Bewohnt von etwas Gröszerem, ’n versameling van gedigte en prosatekste. Ducal gesels oor sy bekroonde loopbaan as digter.

20 September | 13:00 | 60 min. | Vierkant

EYBERS – NOOIT VOLPRESE

Mediavennoot: RSG

Samestelling: Margot Luyt

Met oa Anna-Mart van der Merwe, Frieda van den Heever en Lou-Ann Stone

Kom luister na van die mooiste verse van Elisabeth Eybers. Hierdie drie topkunstenaars reis deur Eybers se lewe van die werk wat sy as tiener geskryf het tot werk wat sy op die ouderdom van 90 gepubliseer het. Hierdie skugter vrou was die eerste Afrikaanse vrouedigter om ’n digbundel te publiseer, die eerste vrou om die Hertzogprys te wen en die eerste vrouedigter wat vrouekwessies in haar werk toegelig het.

20 September | 14:30 | 60 min | Vierkant

TAAL TANGO

Met Zanne Stapelberg, Elna van der Merwe, Niël Rademan en Stanislav Angelov

Hierdie vierstuk musici vervleg kontemporêre en klassieke musiek met die nodige integriteit. Tangotaal is ’n produksie met verruklike Afrikaanse, Europese en Suid-Amerikaanse tangomusiek. Waarvoor wag jy? Kom tango saam. Olé!

20 September | 17:00 | 60 min. | Goodnow-saal


ALGEMEEN

EEN STOP

Alle vertonings, behalwe as dit andersins aangedui word, sal in die tent in die vierkant van die Breytenbach Sentrum aangebied word. Dit stel besoekers in staat om te parkeer en alles rustig en gerieflik op een plek te kan geniet, saam met seremoniemeester, Kabous Meiring.

Tydens die Tuin van Digters kan jy ook uitsien om die digters se bundels te koop, asook om in ons gesellige kuiertent – die eerste keer by die fees – van ons streek se voorste wyne en kosse te geniet.

WELLINGTON TOERISME

Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en ander inligting oor ons dorp en omgewing te bekom.

KAARTJIEPRYSE

Naweekpakket: R300

Toegang vir 19 September: R200

Toegang vir 20 September: R150

BESPREKINGS

Bespreek jou kaartjies per e-pos by Jeanne-Mari Gerber: besprekings@breytenbachsentrum.co.za

VERDERE NAVRAE

Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14 (h/v Burger en Malherbe), Wellington.

Skakel ons by 021-8732786 of per e-pos na info@breytenbachsentrum.co.za.

Volg ons op FacebookTwitter en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2014.

DIE TUIN VAN DIGTERS WORD MOONTLIK GEMAAK DEUR

ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds, LW Hiemstra Trust, Naspers, Nederlands Letterenfonds, NLDTF (Nasionale Lotery), Die verteenwoordiging van die Vlaamse Regering in Suid-Afrika, Van Ewijck Stigting en Distell-stigting.

 

 

 

  •