Tuin van digters 2015: Program
Breytenbachsentrum, 19 & 20 September 2015, Wellington
KUNSUITSTALLINGS:
“Skerwe uit die Ontstaan van ‘n Oorledige Self / Fragmented Emergence of a Late Self”
Hierdie vyftiental akrielwerk op doek is alles onlangse werke deur Breyten Breytenbach, en sal vir die eerste keer uitgestal word.
Opening: 18 September | 18:00 | Breytenbach Galery
RSVP by Anne-Ghrett Erasmus om die opening by te woon: galery@breytenbachsentrum.co.za
FILMVERSE
Artistieke regisseur: Diek Grobler
Vir die ATKV: Nita Cronjé
Die ATKV se Filmverse, in samewerking met Diek Grobler, is ’n projek waar in ’n reeks kort animasiefilms geskep word wat geïnspireer is deur ’n keuse van 12 Afrikaanse gedigte. Elke animasiefilm word vergesel van ’n eie klankbaan waarop die gedig onder andere voorgelees word. Die eindproduk is ’n DVD van sowat 30 minute met die twaalf animasiefilms daarop wat tydens die Tuin van Digters deurlopend vertoon sal word. Dié vertonings word vergesel van ’n uitstalling van plakkate van elk van die twaalf animasie films. In aansluiting by die uitstalling, word ’n animasie-werkswinkel aangebied.
Kontak Diek Grobler by diek@fopspeen.co.za vir meer inligting.
19 September | 9:00 – 20:00 | 20 September | 9:00 – 17:00 | 30 min | Konferensie-lokaal
SATERDAG 19 SEPTEMBER:
UIT OPPERMAN SE LABORATORIUM
Met Daniel Hugo, Joan Hambidge, André le Roux en Ronel de Goede
DJ Opperman se destydse Letterkundige Laboratorium het ’n wesentlike invloed gehad op die Afrikaanse digkuns van latere generasies. Van die bekendste digters, skrywers en akademici wat hier hul menings gevorm en talente geslyp het, kom gesels oor Opperman as mentor en sy verbysterende bydrae tot ons letterkunde.
19 September | 9:30 | 60 min | Vierkant
HOE LOOP DIE PAD NOU?
Met Breyten Breytenbach en Francis Galloway
Waar kom ons vandaan? Waar is ons nou? Waarnatoe is ons op pad? Wat laat mens agter as padkaarte, waarskuwings, valse hoop, waarnemings en reisnotas?
19 September | 11:00 | 60 min | Vierkant
BOKKIE SÊ MY REG
Met Pieter van der Westhuizen
Die stem agter bekende liedjies soos “Sout Manne Sout” en “Wie se kjênd is jy?” sorg dat jy jou fees in die regte luim ervaar.
19 September | 12:15 | 45 min | Vierkant
MENGELMOES DIGTERS
Ondersteun deur die ATKV en LW Hiemstra Trust
Met Diana Ferrus en studente
Die Breytenbach Sentrum bied jaarliks ’n poësie-skryfskool aan onder leiding van Diana Ferrus. Hierdie groep opkomende digters kom lees van hul verse voor.
19 September | 13:15 | 30 min | Vierkant
ONS KOM VANDAAN …
Ondersteun deur die NLDTF
Met Gaireyah Fredericks, Wayne Galant, Collinecea Hawker, Josua Meyer en Curtly Titus. Regie: Christine Truter
Meesleurend, opruiend, oproerig, versoenend, onthutsend en omhelsend. Die Breytenbach Sentrum se drama-groep, Kaleidoskoop, bied ’n ondersoekende en ontroerende blik op die werk van bruin digters oor ses dekades heen – van PJ Philander en Adam Small, tot Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Jitsvinger. Die program word voorafgegaan deur ’n kort spreekkoor-optrede van die sentrum se hoërskool-dramagroep.
19 September | 14:00 | 45 min. | Vierkant
WOELAG
Met Hakkiesdraad Hartman
Hakkiesdraad Hartman is een van die voorste en veelsydigste rymkletsers in Afrikaans. Dié boorling van George sal jou laat hop van die lekkerkry.
19 September | 15:00 | 30 min | Vierkant
DUBBELDOOR TALENT
Met Sisca Julius en Diana Ferrus
Sisca Julius, ’n oudleerling van die Hoërskool Noord-Kaap en Pukstudent, is onlangs aangewys as die nasionale wenner in beide die prosa- en poësie-afdelings van die Poort-skryfkompetisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Wat hierdie prestasie nóg indrukwekkender maak, is dat dit die eerste keer in 45 jaar is wat ’n leerling beide pryse wen. Kom luister hoe hierdie belangrike nuwe stem gesels oor haar werk en daaruit voorlees.
19 September | 15:45 | 45 min | Vierkant
MOEDERLAND
Ondersteun deur die Nederlands Letterenfonds en Van Ewijck Stigting
Met Antjie Krog en Anne Vegter
Twee formidabele digters, twee vastelande. Anne Vegter beklee tans die amp as Dichter des Vaderlands – die eerste vroulike Nederlandse digter met dié eretitel. Antjie Krog, veelbekroonde digter en skrywerjoernalis, is onlangs weer bekroon vir haar nuutste bundel verse, Medewete. Hulle gesels oor hul onderskeie digwerk en lees van hul nuutste werke voor.
19 September | 17:00 | 60 min. | Vierkant
TRIBAL ECHO
Met Frazer Barry (hoofsanger), Sandy Gertse (sanger), Earl Witbooi (baskitaar), Deniel Barry (tromme) en Este Visser (viool en klawerbord)
Tribal Echo met hulle vars musikale styl wat hul Klip Kop Rock noem, is een van die energiekste musiekgroepe in die land. Maak jou reg vir ’n ding of twee – veral as jy hulle nóg nie beleef het nie.
19 September | 18:30 | 60 min. | Vierkant
DIGTERS WAT DJ
Met oa Danie Marais, Alfred Schaffer, Charl-Pierre Naudé, Erns Grundling, Loftus Marais en Toast Coetzer
Kom rock en rym saam met digters wat die liedjies speel wat hulle gedigte inspireer. Die afterpaartie word goed aan die gang gesit met die befaamde Unhappy Hour DJ’s.
19 September | 20:00 | 90 min. | Vierkant
SONDAG 20 SEPTEMBER:
MM WALTERS – DIE MAN WAT GLIMLAG MET ’n MES ONDER DIE JAS
Met Johann Nel, Daniel Hugo en Gunther Pakendorf
“Die ou Romeine het hul Juvenalis gehad; die Afrikaanse letterkunde het as teenhanger die satirikus MM Walters,” het Zandra Bezuidenhout op ’n keer opgemerk oor hierdie merkwaardige woordman wie se spore ook diep getrap is in Wellington. Ons bring graag hulde aan hierdie hoë boom in die Afrikaanse digterstuin.
20 September | 10:00 | 60 min. | Vierkant
TT CLOETE
Met Joan Hambidge en andere
“Cloete se impak op die Afrikaanse digkuns was en is groot. Hy het die kontoere van die digkuns verander, soos Breytenbach en Stockenström voor hom,” skryf Joan Hambidge oor Theunis Theodorus (TT) Cloete. Ons salueer graag hierdie groot digter, wat op 29 Julie 2015 sterf, vir sy lewensbydrae.
20 September | 11:30 | 60 min. | Vierkant
LIZE BEEKMAN
Die immergewilde Lize Beekman sing enkele geliefde toonsettings van onder meer Petra Müller, Elisabeth Eybers en Breyten Breytenbach.
20 September | 12:35 | 25 min. | Vierkant
BEWOON DEUR IETS GROTERS
Moontlik gemaak deur die Vlaamse regering
Met Charles Ducal en Alfred Schaffer
Charles Ducal is die skrywersnaam van die Vlaamse digter, Frans Dumortier, wat in 2014 aangewys is as die eerste Belgische Dichter des Vaderlands. Later vanjaar verskyn Bewoond door iets groters-Au-delà de la frontière-Bewohnt von etwas Gröszerem, ’n versameling van gedigte en prosatekste. Ducal gesels oor sy bekroonde loopbaan as digter.
20 September | 13:00 | 60 min. | Vierkant
EYBERS – NOOIT VOLPRESE
Mediavennoot: RSG
Samestelling: Margot Luyt
Met oa Anna-Mart van der Merwe, Frieda van den Heever en Lou-Ann Stone
Kom luister na van die mooiste verse van Elisabeth Eybers. Hierdie drie topkunstenaars reis deur Eybers se lewe van die werk wat sy as tiener geskryf het tot werk wat sy op die ouderdom van 90 gepubliseer het. Hierdie skugter vrou was die eerste Afrikaanse vrouedigter om ’n digbundel te publiseer, die eerste vrou om die Hertzogprys te wen en die eerste vrouedigter wat vrouekwessies in haar werk toegelig het.
20 September | 14:30 | 60 min | Vierkant
TAAL TANGO
Met Zanne Stapelberg, Elna van der Merwe, Niël Rademan en Stanislav Angelov
Hierdie vierstuk musici vervleg kontemporêre en klassieke musiek met die nodige integriteit. Tangotaal is ’n produksie met verruklike Afrikaanse, Europese en Suid-Amerikaanse tangomusiek. Waarvoor wag jy? Kom tango saam. Olé!
20 September | 17:00 | 60 min. | Goodnow-saal
ALGEMEEN
EEN STOP
Alle vertonings, behalwe as dit andersins aangedui word, sal in die tent in die vierkant van die Breytenbach Sentrum aangebied word. Dit stel besoekers in staat om te parkeer en alles rustig en gerieflik op een plek te kan geniet, saam met seremoniemeester, Kabous Meiring.
Tydens die Tuin van Digters kan jy ook uitsien om die digters se bundels te koop, asook om in ons gesellige kuiertent – die eerste keer by die fees – van ons streek se voorste wyne en kosse te geniet.
WELLINGTON TOERISME
Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by info@wellington.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en ander inligting oor ons dorp en omgewing te bekom.
KAARTJIEPRYSE
Naweekpakket: R300
Toegang vir 19 September: R200
Toegang vir 20 September: R150
BESPREKINGS
Bespreek jou kaartjies per e-pos by Jeanne-Mari Gerber: besprekings@breytenbachsentrum.co.za
VERDERE NAVRAE
Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14 (h/v Burger en Malherbe), Wellington.
Skakel ons by 021-8732786 of per e-pos na info@breytenbachsentrum.co.za.
Volg ons op Facebook, Twitter en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters 2014.
DIE TUIN VAN DIGTERS WORD MOONTLIK GEMAAK DEUR
ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds, LW Hiemstra Trust, Naspers, Nederlands Letterenfonds, NLDTF (Nasionale Lotery), Die verteenwoordiging van die Vlaamse Regering in Suid-Afrika, Van Ewijck Stigting en Distell-stigting.

Wat laat dink aan Kennedy se jare toe die Amerikaners vir die eerste keer ‘n maanlanding sou doen en die Prez gevoel het dis niks minder as polities korrek dat daar ook ‘n swart astronot saam moet gaan nie. Probleem was hoe om die geskikte kandidaat in die hande te kry seeing as how there was no Black begging to go to the moon. Besluit is gemaak en opdrag gegee dat die probleem aangespreek moet word deur die ganske Harlem te ontbied om onder die Empire State Building te vergader en van bo af ‘n veertjie te laat val (miskien ‘n gansveer) en die een op wie dit land sal dan saamvlieg. (Amper soos die ANC se kaderontvlooiingsbeleid…) Ure gaan verby, niks gebeur nie, en die Prez is op die foon om by die aktiveerder te verneem wat the heck fout is. “Meneer President,” kom die antwoord, ” Broadway staan kant en wal vol swartmense wat almal boontoe kyk en fffffluit om die feertjie tog fér van hulle te hou.”
Die ATKV het hoeka hierdie jaar ‘n spesiale Woordveertjie vir vernuftige intertekstuele spel, ‘n Aktiveertjie.
Breyten, indien jy n bietjie moeg sou raak, sal ons – jou lesers – verderslaan!
Ek stem saam, Waldemar. Wanneer gesê word dat die dood ‘n skande is (dis ‘n geykte stelling) is dit miskien ‘n bewys van die feit dat taal beperk is en in die duister tas. Miskien word die uitdrukking dan wrang bedoel. Tensy ‘skande’ organies aan ‘skaars’ en ‘skerf’ en so verder gekoppel kan word, kopsku en op ‘n kru kruk. Woorde behoort meer dikwels as organiese elemente of eenhede gesien en gebruik te word (soos hulle dalk oorspronklik was?) en nie oorlaai met afleidings soos die etika nie. Of ons die dooies sal laat omsien na die dooies, is natuurlik ‘n ander vraag.
Intussen vuurmaak en kweperlatte brand om sterk kieries van te maak om die dood oor die kop mee te dônner. Dankie vir die aanmoediging!
“skaamkennis van die aand” eindig op ‘n verontwaardigde protesnoot, op ‘n eties-gebaseerde veronderstelling. Die etiese is egter nie ‘n funksie van die organiese nie, en die onaanvaarbaarheid van die “stank van die dooie bobbejaan” laat die dood in elke geval heeltemal koud.
Absoluut reg, Breyten, oor die onteenseglike verganklikheid. Maar jy kan nog lank die dood met woorde op die kop slaan van nomadiese staning tot staning en vuurmaak onder die lewe.
Te wonderlik om die digter so al digtende aan die dink en lees te beleef, so tussen ‘n “Dêmmit!”, “drukkersduiwel” en “Freudiaanse” valletjies? deur, want dan kom daar nog ‘n gedig ook! Tja, ek dink ons is bevoorreg!
Te pragtig: “Toe ek weer sien toe bied die woord haar aan, met ‘n rooi rok”!
Dodelik snaaks vir my:
“veral sedert daar staan-staan
versit moet word om by die laaste laning vrugtebome
donkerberg toe te kom?”
Mens sou dalk kon sê die “donkerberg” het nie ‘n kat se kans teen so ‘n “weetskemerskry[wende]” digter nie – hy dig regdeur die “skaamkennis van die aand”, hy dig dit deurmekaar:
“wat sou die verskil wees
tussen staning en taning”?
skaamkennis van die aand
wat sou die verskil wees
tussen staning en taning
veral sedert daar staan-staan
versit moet word om by die laaste laning vrugtebome
donkerberg toe te kom?
geen haas nie
helderheid sal vanself opgaan
in die swart gewelf bo
waar kole by die uitspanplekke
van ‘n duisternis liglewens gelede
nog gloei
maar as jy tot bo op die berg klim
om te sien dat hemel en aarde één is
die ontdaning dan
‘n wind in die oë
reuk van sterrerook iewers
krieke laer in ‘n kloof
donkermaan ‘n skerf onsigbaarheid
en te weet dat die sterwe ewig is?
skaars opgestaan
en toe reeds die waan
dat lig verstaan kan word
in die lig van begaan
en nou te weetskemerskryf
alle syn sal dan vergaan
in die stank van die dooie bobbejaan?
is dit nie ‘n skande nie?
Dêmmit! Die duiwel wil my net nie uitlos nie… Natuurlik moet dit ‘Ontstaan’ wees. Tjk tjk tjk. Alhoewel die Freudiaanse onderrok nogal ‘n onheilspellendheid aktiveer. Ons taan. Tja. (Ek probeer al so lank hierdie modewoordjie ‘aktiveer’ iewers inpêllie, en daar lê die spel haar toe oop. Toe ek weer sien toe bied die woord haar aan, met ‘n rooi rok.)
skaars opgestaan
nog geen boek oopgeslaan
en reeds kom die taan…
waan! alles waan!
(die trane die rol oor jou, Bokkie)
is die “onstaan” in die titel reg? moet dit nie “onTstaan” wees nie?
of sinspeel dit op iets meer?
on(s) staan
on(s) staan
maar ons vergaan?
(net gister nog onstaan)
Praat van die duiwel – net vanoggend bewonder ek n ou Etiopiese ikoon
waarop n duiweltjie klaarklyklik in n dokter se oor fluister hoe om n
oogoperasie uit te voer…?
Wat die Afrikaanse titel betref, moet ek toegee dat ek gewonder het hoekom die Engels bietjie fyner geslyp lyk. Maar nou is die seestraat weer bevaarbaar – dankie! En viva!
Indien daar nog staanplek sal wees, Waldemar. Allerlei eilande (ek had Niemandseiland in gedagte) word oorstroom deur desperate mense wat hulself laat inprent het die lewe is makliker op die ander kus. En die dood soeter. Ou Karon die passeur maak geld vir Afrika!
(Dankie vir die regstelling, Webmarlise.)
/Breyten/ die titel is nou aangepas! (Op LitNet is dit dus nog verkeerd).
Buiteblaf, is die gedig dan die kaart en transport vir ‘n staanplek in Niemandsland?
Engela: ‘n drukkersduiwel het om ingelaat met die titel (seker maar by die set & game). Na regte behoort dit te wees: “Skerwe uit die Onstaan van ‘n Oorledige Self / Fragmented Emergence of a Late Self”. Sulke glipse gebeur mos maar met die (oor)skrywe.
skrywe is om die dobbering
tussen die sinnelose
en die onsêbare
bevaarbaar te maak
as seestraat na niemandsland
Aangrypend en toormooi is vir my die tweetalige titel van Breyten se uitstalling: Ontstaan van n oorledige self/ Fragmented emergence of a late
self.