Soms gebeur dit dat ’n mens maar bra mismoedig raak oor die poësie as bedryf. Soos wanneer ’n mens wonder of al die tyd en energie wat daardeur in beslag geneem word, die moeite werd is. Of wanneer ’n mens gekonfronteer word met die blatante marginalisering van die digkuns in die media, of die skreiende belangeloosheid met gepaardgaande lae verkope van bundels, ens. ens. ens. En – soos dit nou weer die geval is met hierdie webblad – ’n mate van angstigheid of ’n projek soos hierdie enigsins lewensvatbaar is.
Gelukkig is daar dan altyd in hierdie oomblikke van sluipende neerslagtigheid ’n klein oranje en wit boekie van minder as vyftig bladsye wat telkens daarin slaag om my entoesiasme jeens die poësie te hervestig en my bruisend opgewonde te laat: Eddy van Vliet se essay ’n Pleidooi vir die poësie wat deur Heilna du Plooy vertaal is en in 1998 deur Protea Boekhuis uitgegee is; toevallig een van die héél eerste publikasies deur hierdie uitgewery. Van ’n meer inspirerende en insiggewende boek oor die digkuns weet ek nie.
Neem nou byvoorbeeld die volgende vers wat reeds op die eerste bladsy deur Eddy van Vliet aangehaal word:
Nooit weer oorlog maak nie
Soveel slanke meisies. Ontblaar
soos jong boompies. Ek gaan almal verby
al staan hulle sy aan sy,
met glansende hoofde bymekaar.
Wat kan die gode my nou nog skeel,
en in my dorpie die rooi aandgloed?
Ek het ’n honderd wonde en niks kan hulle genees nie.
Ek het die dood gesien, so dikwels en so groot.
Die oë van kinders is soos goue reën.
Versigtig dra hulle die bekers wyn.
Ek wil gaan lê en slaap langs die grootpad
en nooit weer oorlog maak nie.
Wie kan nie met hierdie soldaat se melankoliese en gelate verset identifiseer nie? Ten spyte daarvan dat dit deur ’n onbekende digter in die 9de eeu geskryf is, bly dit vandag nog steeds net so aangrypend mooi en relevant soos dit bykans 1,200 jaar gelede was … Iets wat weereens bewys: Poësie het GEEN rakleeftyd nie, want ’n vers wat jy op ’n bepaalde tydstip lees en nie veel impak op jou het nie, kan by ’n volgende lees binne ander omstandighede jou abslouut van jou voete af ruk.
Met bogenoemde as vertrekpunt gaan Eddy van Vliet dan verder met hierdie essay en ondersoek die vraag: Wat is poësie? Watter rol het dit te speel in die moderne gemeenskap? Op meesterlike manier bou Van Vliet sy argument ten gunste van die digkuns se prominensie op met talle verwysings en toepaslike aanhalings tot by die uiteindelike konklusie (by monde van Claude Simon): “Kuns en literatuur voorsien in menslike behoeftes wat net so basies is soos honger, dors en die noodsaaklikheid om asem te haal. Die onderdrukking van die literatuur (lees: die marginalisering van die poësie) sal die mens letterlik in verstikking en wanhoop stort.”
En teen dié wanhoop is daar geen verweer nie. Aldus Van Vliet (p.34)
Inderdaad, ’n meesterlke stukkie werk wat ’n mens laat besef dat die digkuns véél groter is as enige individu en nog lank na ons sal bly voortbestaan; in welke mate dit ook al mag wees. En dit maak nie saak wat u betrokkenheid hierby is nie; hetsy as digter, leser, keurder of resensent – die vraag wat uiteindelik beantwoord sal moet word, is: Het u genoegsaam respek gehad vir die bedryf waaraan u deel het en in watter rigting het u betrokkenheid dit geneem? Want uiteindelik is dit seker ook so dat ’n volk of taalgroep of wat ook al, presies die digters kry wat hy of sy verdien.
Daarom – skaf hierdie ongelooflike boekie aan en raak opgewonde oor die digkuns. Danksy die genade is hierdie boek nog steeds in druk.
Die besonderhede is soos volg:
TITEL: ’n Pleidooi vir die poësie
OUTEUR: Eddy van Vliet (vertaal deur Heilna du Plooy)
UITGEWER: Protea Boekhuis
VERSPREIDER: On the Dot
ISBN: 0 620 22858 X
PRYS: R60.00