Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
28 April 200917 May 2024

Daniel Hugo. ‘n Hemp van vlam

’n Hemp van vlam

In ons videowinkel kom Carina af op die bloederige maar fassinerende Britse TV-reeks Wire in the blood. Dit handel oor dr. Tony Hill, ’n psigiater met Asperger-sindroom, wat as profileerder van reeksmoordenaars vir die polisie werk. Een episode speel af in die dorpie Norton waar ’n hotel afbrand as deel van die misterieuse, rituele moorde wat daar plaasvind.

Dit laat my toe dink aan “Burnt Norton”, die eerste gedig van T.S. Eliot se Four Quartets. En, jouwaarlik, daar kom ek af op die reël “The trilling wire in the blood / Sings below inveterate scars.” Ek weet nog steeds nie wat dit beteken nie, maar die literêre speurder in my is tevrede: hy kon die oorsprong van die verwysing opspoor. Die intertekstuele DNS klop.

As ’n mens eers begin lees aan die Four Quartets, kan jy nie ophou nie. Dit is sekerlik, naas die Bybel en Shakespeare, een van die mees gekwoteerde tekste in die Westerse letterkunde. En met reg: daar is talle onvergeetlike formulerings vir die taalgevoeliges, en genoeg filosofiese waarhede vir die diepsinniges.

My kompulsiewe voortlees aan die Eliot-versreeks laat my in die vierde gedig, “Little Gidding”, op die volgende strofes stuit:

The dove descending breaks the air

With flame of incandescent terror

Of which the tongues declare

The one discharge from sin and error.

The only hope or else despair

Lies in the choice of pyre or pyre –

To be redeemed from fire by fire.

Who then devised the torment? Love.

Love is the unfamiliar Name

Behind the hands that wove

The intolerable shirt of flame

Which human power cannot remove.

We only live, only suspire

Consumed by either fire or fire.

Wat Eliot hier beskryf is die uitstorting van die Heilige Gees – eers in die vorm van ’n duif by die doop van Jesus (Matteus 3:16) en dan in die vorm van vlammende tonge tydens die Pinksterfees (Handelinge 2). Die vuur van die Heilige Gees is, volgens die digter, die mens se enigste reddig teen die vuur van die hel: “To be redeemed from fire by fire.”

Die reël “The intolerable shirt of flame” het ’n draad in my bloed laat tril. Ek het dadelik gedink aan Sheila Cussons se gedig “Bedekte naak” uit Die swart kombuis:

’n Gloed dra ek

tussen die wêreld en my bloed

meer myne, meer eie aan my as enigiets

’n sonder-naam

wat, om te vernietig

sou wees vernietiging van my:

o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.

Na my wete het niemand nog hierdie twee gedigte met mekaar in verband gebring nie, selfs al is Cussons se slotwoorde ’n letterlike vertaling van die Eliotreël. Albei digters is daarby geobsedeer deur die suiwerende, purgatoriese werking van vuur. ’n Mens sou seker ook die frase “’n sonder-naam” as ’n herskrywing van “the unfamiliar Name” kon beskou.

In Geel grammofoon, F.R. Gilfillan se insiggewende ontleding van Cussonsgedigte, ontdek hy ‘n intertekstuele skakel tussen “Bedekte naak” en reëls uit Tristia van N.P. van Wyk Louw. Die “hemp van vlam”-metafoor voer hy terug na die verhaal uit die Griekse mitologie van Herakles en sy vrou Deianeira. Sy stuur vir hom onwetend ’n betowerde kleed wat soos vuur in hom inbrand en sy dood veroorsaak. Gilfillan moet dan beken: “Hierdie geskiedenis word egter in ‘Bedekte naak’ omgekeer.” Die vurige kledingstuk lei juis tot die mens se redding by Cussons en Eliot.

J.C. Kannemeyer wys wel in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II op Eliot-invloed, en spesifiek beïnvloeding deur Four Quartets, by Sheila Cussons. Hy bring die eerste strofe van “Hek-ode” uit Cussons se bundel Die skitterende wond in verband met die volgende reëls uit “Burnt Norton”:

What might have been and what has been

Point to one end, which is always present.

Footfalls echo in the memory

Down the passage which we did not take

Towards the door we never opened

Into the rose-garden. My words echo

Thus, in your mind.

Die Cussons-strofe eggo ongetwyfeld die woorde hierbo:

Wat kon gewees het, wat ek kon

gedoen het, die weg wat ek kon

geneem het in plaas van die weg

wat ek geneem het: ydel

die spekulasie. En nou is dit laat –

daar is geen hekke meer wat oopswaai

en lok na groen lanings nie

waar elkeen beloof het om te lei

na ’n landgoed.

Dat nóg Gilfillan nóg Kannemeyer die Eliotreël by Cussons raakgelees het, is ’n misterie wat selfs dr. Tony Hill nie sal kan ontrafel nie. Wat hierdie klein episode in my lewe wel bewys het, is dat TV-kyk beslis nie tydmors is nie – al sê die elitiste ook wat.

Bronne

Cussons, Sheila. 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg

Cussons, Sheila. 1979. Die skitterende wond. Kaapstad: Tafelberg

Gardner, Helen. 1978. The composition of “Four Quartets”. London: Faber and Faber.

Gilfillan, F.R. 1984. Geel grammofoon – Perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg

Kannemeyer, J.C. 1983. Die Afrikaanse literatuur II. Pretoria: Academica.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d