’n Hemp van vlam
In ons videowinkel kom Carina af op die bloederige maar fassinerende Britse TV-reeks Wire in the blood. Dit handel oor dr. Tony Hill, ’n psigiater met Asperger-sindroom, wat as profileerder van reeksmoordenaars vir die polisie werk. Een episode speel af in die dorpie Norton waar ’n hotel afbrand as deel van die misterieuse, rituele moorde wat daar plaasvind.
Dit laat my toe dink aan “Burnt Norton”, die eerste gedig van T.S. Eliot se Four Quartets. En, jouwaarlik, daar kom ek af op die reël “The trilling wire in the blood / Sings below inveterate scars.” Ek weet nog steeds nie wat dit beteken nie, maar die literêre speurder in my is tevrede: hy kon die oorsprong van die verwysing opspoor. Die intertekstuele DNS klop.
As ’n mens eers begin lees aan die Four Quartets, kan jy nie ophou nie. Dit is sekerlik, naas die Bybel en Shakespeare, een van die mees gekwoteerde tekste in die Westerse letterkunde. En met reg: daar is talle onvergeetlike formulerings vir die taalgevoeliges, en genoeg filosofiese waarhede vir die diepsinniges.
My kompulsiewe voortlees aan die Eliot-versreeks laat my in die vierde gedig, “Little Gidding”, op die volgende strofes stuit:
The dove descending breaks the air
With flame of incandescent terror
Of which the tongues declare
The one discharge from sin and error.
The only hope or else despair
Lies in the choice of pyre or pyre –
To be redeemed from fire by fire.
Who then devised the torment? Love.
Love is the unfamiliar Name
Behind the hands that wove
The intolerable shirt of flame
Which human power cannot remove.
We only live, only suspire
Consumed by either fire or fire.
Wat Eliot hier beskryf is die uitstorting van die Heilige Gees – eers in die vorm van ’n duif by die doop van Jesus (Matteus 3:16) en dan in die vorm van vlammende tonge tydens die Pinksterfees (Handelinge 2). Die vuur van die Heilige Gees is, volgens die digter, die mens se enigste reddig teen die vuur van die hel: “To be redeemed from fire by fire.”
Die reël “The intolerable shirt of flame” het ’n draad in my bloed laat tril. Ek het dadelik gedink aan Sheila Cussons se gedig “Bedekte naak” uit Die swart kombuis:
’n Gloed dra ek
tussen die wêreld en my bloed
meer myne, meer eie aan my as enigiets
’n sonder-naam
wat, om te vernietig
sou wees vernietiging van my:
o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.
Na my wete het niemand nog hierdie twee gedigte met mekaar in verband gebring nie, selfs al is Cussons se slotwoorde ’n letterlike vertaling van die Eliotreël. Albei digters is daarby geobsedeer deur die suiwerende, purgatoriese werking van vuur. ’n Mens sou seker ook die frase “’n sonder-naam” as ’n herskrywing van “the unfamiliar Name” kon beskou.
In Geel grammofoon, F.R. Gilfillan se insiggewende ontleding van Cussonsgedigte, ontdek hy ‘n intertekstuele skakel tussen “Bedekte naak” en reëls uit Tristia van N.P. van Wyk Louw. Die “hemp van vlam”-metafoor voer hy terug na die verhaal uit die Griekse mitologie van Herakles en sy vrou Deianeira. Sy stuur vir hom onwetend ’n betowerde kleed wat soos vuur in hom inbrand en sy dood veroorsaak. Gilfillan moet dan beken: “Hierdie geskiedenis word egter in ‘Bedekte naak’ omgekeer.” Die vurige kledingstuk lei juis tot die mens se redding by Cussons en Eliot.
J.C. Kannemeyer wys wel in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II op Eliot-invloed, en spesifiek beïnvloeding deur Four Quartets, by Sheila Cussons. Hy bring die eerste strofe van “Hek-ode” uit Cussons se bundel Die skitterende wond in verband met die volgende reëls uit “Burnt Norton”:
What might have been and what has been
Point to one end, which is always present.
Footfalls echo in the memory
Down the passage which we did not take
Towards the door we never opened
Into the rose-garden. My words echo
Thus, in your mind.
Die Cussons-strofe eggo ongetwyfeld die woorde hierbo:
Wat kon gewees het, wat ek kon
gedoen het, die weg wat ek kon
geneem het in plaas van die weg
wat ek geneem het: ydel
die spekulasie. En nou is dit laat –
daar is geen hekke meer wat oopswaai
en lok na groen lanings nie
waar elkeen beloof het om te lei
na ’n landgoed.
Dat nóg Gilfillan nóg Kannemeyer die Eliotreël by Cussons raakgelees het, is ’n misterie wat selfs dr. Tony Hill nie sal kan ontrafel nie. Wat hierdie klein episode in my lewe wel bewys het, is dat TV-kyk beslis nie tydmors is nie – al sê die elitiste ook wat.
Bronne
Cussons, Sheila. 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg
Cussons, Sheila. 1979. Die skitterende wond. Kaapstad: Tafelberg
Gardner, Helen. 1978. The composition of “Four Quartets”. London: Faber and Faber.
Gilfillan, F.R. 1984. Geel grammofoon – Perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg
Kannemeyer, J.C. 1983. Die Afrikaanse literatuur II. Pretoria: Academica.