Andries Bezuidenhout. Sangers wat dig…

KRUK MY KRUIS
(Soos voorgelees by Versindaba 2008, HB Thom-teater, Stellenbosch)

Verskoon my, al die hoë- en hoërpriesters hier,
rabbyne, kanunnike, leviete, tempelhoere –
my offer is klein, maar dis goed bedoel.
Vergewe die goedkoop reuk van koerantpapier,

verskoon die gedreun van die luidsprekerbuis
wat teen die harmonie van u kantates indruis.
Ek staan hier eenkant, hier reg langs die deur,
dankbaar dat ek die argitektuur mag waardeer.

Oor u struwelinge oor kanon, vorm en liturgie,
sal ek nie eers droom om my stem te verhef nie.
Ek is nietemin dankbaar vir die kans wat ek kry
om vir ʼn naweek verniet in die tempel te kom bly.

Wat u sien in my hand is nie ʼn kitaar nie.
Nee,
dis ʼn kruk waarsonder ek sweerlik sal swik.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •