Charl-Pierre Naude. Bespreking van ‘n gedig

Goeie more! Ek beoog om so een maal ‘n maand, of twee maal, ‘n gunsteling gedig uit die “wereld-letterkunde” of uit die Suid-Afrikaanse digkuns te bespreek. Die bespreking sal wees in die trant van die gestorwe – en seer gemiste – rubriek Leketaal, van Jo Prins, in Beeld/Die Burger seBY. Hier is die gedig, gevolg deur die bespreking. Ek hoop alle Versindaba-rondhangers geniet dit.

I’m having sex while everyone is dying

 

The smell of your sweet accidental

sweat my fingers on cold

latex bounded for the top

bus springs my step

bump my head,

I gasp you.

Aren’t found on my breast,

riding one stage to your grin,

lies so close to everyone laughing.

 

– Nadine Botha

Die Suid-Afrikaanse digteres Nadine Botha debuteer in 2005 met ’n hoogs uitsonderlike bundel, Ants moving the house millimetres (Southern Books). Sy skryf besonder eroties eksplisiete verse, maar op hul beste so veelduidig dat die eksplisiete op die plek implisiet word.

Haar oorspronklikheid blyk uit titels soos die volgende: “The beating hump of witless arousal”; “The next step of pornography is taking the photo so you looking at your own body”; “When I think binary and do the opposite”, “Goodnight to my sandwich” en “I’m having sex while everyone is dying”.

Haar reëls lyk of dit uitgeskeur en lukraak bymekaar geplak is. Eers voel die reëls toevallig gekies en totaal afsonderlik, dan klits dit tot ’n “prentjie” saam – soos ystervysels in ’n magneetveld. ’n Gevoel van klinkklare samehang word geskep, maar nooit word die spil waarom die samehang draai volledig verklap nie.

Die titel van die gedig hierbo is werklik bekoorlik en snaaks. Dis aandoenlik, maar ook leedvermakerig; plesierig maar ook wreedaardig. Bowenal kombineer dit twee dinge wat nie normaalweg saam voorkom nie. Die toon is dus een van teenstrydigheid – en dís die sleutel tot die gedig.

Die paradoksale samestelling blyk verder met die oogopslag as mens die laaste woord in die titelreël in verband bring met die laaste woord van die gedig: “dying” en “laughing”. Tussen hierdie pole gebeur iets, dalk gelyktydig, in die gedig.

Van meet af is twee uiteenlopende scenario’s teenwoordig: ’n sekstoneel, en iemand wat hardloop vir ’n bus. Óf die twee scenario’s word met mekaar vergelyk, óf hulle volg só kort na mekaar dat hulle gelyklopend in die verteller se psige teenwoordig is.

Eersgenoemde sien jy in die titelreël, “sweet accidental sweat” en in “latex on my fingers”. Maar hier word ook vinnig gehardloop (“bounded for the top bus”). “Bounded” suggereer ’n fisiese verstrengeling maar “bound” beteken ook om met spronge te hardloop. “Latex” is die stof van kondome sowel as ’n rubberhandskoen wat in die hand vasgeklem word.

Met slim emjambement – ’n vespringende staccato-ritme – suggereer die digter die asemhalingspatrone van beide die ervarings ter sprake.

“Springs” beteken weereens om vinnig vorentoe te beweeg, maar verwys ook na die vere van ’n bed. ’n Bus is nie slegs ’n bus hier nie: Dis ook “a conducting bar that carries heavy electrical circuits”, volgens die woordeboek. “Top bus” is dus ’n emosioneel gelade eindpunt waarnatoe alles op pad is.

Die gelyktydige plesier en “leed” waarna die titel sowel as reël 1 (“accidental”) verwys is terug in reël 5, waar sy haar kop stamp. Teen ’n bedstyl? Maar ook omdat sy vinnig op die vertrekkende bus moet klim. Sy soek iets nadat sy opgeklim het (“aren’t found on my breast”), vermoedelik ’n kaartjie of geld, en sy moet slegs een halte verder ry (“one stage”) na haar minnaar se glimlag.

Maar die borskas is ook die setel van die hart. Dis ook die plek waar ’n obool, soos ’n muntstuk, geplaas word op ’n lyk wat “vir die oorgang” gereed gemaak word.

By die ontlading (van die bus)(en van die twee van hulle) sal sy afklim.

Maar wie lag vir wat in die laaste reël? Dié reël bind die hele gedig saam. Enige iemand wat al gehardloop het vir ’n bus weet hoe dit voel om daar voor ten aanskoue van almal te staan, uitasem, terwyl jy probeer vashou vir balans én ook deur die kondukteur tot verantwoording geroep word. Dit voel of almal vir jou lag.

Maar lag is ook ’n natuurlike reaksie ná emosionele en fisieke ontlading.

Die tweede laaste reel (“lies so close”) is interessant. Dit verwys vermoedelik na die twee se liggame langs mekaar, maar ook na hoe ná aan mekaar die genoemde teenstrydighede lê: soos om te sterf en te lag, wreedheid en liefderigheid, geluk én ongeluk (“accident”). Die Franse praat nie verniet van “die klein dood” nie.

En waarom word die meervoudsvorm gebruik in “Aren’t found on my breast”? Soek sy dan meer as een ding? Dalk die sintese van die teenstrydighede?

Nadine Botha beoefen ’n soort “cut and paste” styl wat by baie digters bloot maniëristies is. By haar lei dit egter werklik tot die ontdekking van versteekte ervarings, tot die dubbelsin en paralelle betekenisse.

Let op die gebruik van binneryme “found” en “bound” en halfryme soos “riding”, “grin” en “laughing”, om maar twee soorte klankpatrone te noem waarop die gedig steun vir sy effek.

Hamba Kaalbly

Charl-Pierre Naude

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •