Tydens die Volksblad-kunstefees van 2002 vertel wyle prof. Elize Botha ’n anekdote deur haar bewonderde George Steiner oor.
“By ’n groot byeenkoms van skrywers in die Sowjet-unie, 1937, waar hulle met arendsoë deur die KGB dopgehou is, was ook Boris Pasternak aanwesig. Sy kollegas het by hom gepleit om nie te praat nie; hy sou dan sekerlik gearresteer word. Dwarsdeur die kongres het hy geswyg, en toe, op die laaste dag, staan hy op en noem ’n getal. En stadig staan duisende mense op en begin Pasternak se vertaling van Shakespeare se dertigste sonnet resiteer: ‘When to the sessions of sweet silent thought/ I summon up remembrance of things past…’ – ’n vertaling wat beskou word, sê George Steiner, as ‘a Russian talismanic classic’. Hulle het hulle weerbaarheid en hoop met ’n gedig gedemonstreer, en die KGB kon niks doen nie.”
Is daar hele of flardes Afrikaanse gedigte wat vergelykbaar tot ons harte spreek – wat deur meer as net ’n paar poësiespesialiste geken word?
In Karel Schoeman se roman Na die geliefde land, wat ’n paar jaar gelede in Engels verfilm is, is die karikatuuragtig konserwatiewe karakters se poësiesmaak so uit die oude doos as hulle politieke en godsdienstige oortuigings. Mens hoor net weerklanke van Jan F.E. Celliers, Totius en A.D. Keet.
Frases uit hierdie ouderwetse dig-stal klink deesdae nogal (weer) in gesprekke, artikels, essays of nuwe digbundels op. Byvoorbeeld “die wêreld is ons woning nie” (Totius) of “die storie van ons sterfte” (uit Leipoldt se Oom Gert vertel). Of die “vooruitgang” wat C.P. Hoogenhout meer as ’n honderd jaar gelede al geïroniseer het: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor”!
Groot verseboek is uiteraard ’n skatkamer van sulke onvergeetlike frases. “’n Laaste kuil van stilte tussen riet” en “mooi is die lewe en die dood is mooi” – albei sonnetslotte deur Van Wyk Louw. Of Eybers aan die einde van Röntgenfoto: “Al die verdriet en vreugde en vrees/ was dus ’n hersenskim gewees?” Cussons: “Dis nie net ‘goed’ nie, Heer; dis manjifiek!” Small: “die dice het verkeerd gaval vi’ ons/ daai’s maar al.” Of Gert Vlok Nel: “en op die agtergrond kom i trein soos i byl uit die nag.” Heeltemal te veel om aan te haal.
André P. Brink verklaar in sy inleiding tot Groot verseboek dat ’n mindere gedig soos A.G. Visser se Eheu fugaces selfs tot opname in die bloemlesing “gered” is deur die enkele “onsterflike” frase daarin, “Maar eenkeer in die lewe kom / Die liefde weergaloos…”
Maar of daar hele Afrikaanse gedigte is wat deur meer as enkele mense uit die hoof geken word? Miskien Jan Celliers se Dis al – tot lawwighede verdraai in allerlei variasievorme? Ingrid Jonker se Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga het baie bekend geword, veral sedert oudpresident Mandela dit in 1994 in die parlement aangehaal het. Maar hoeveel mense kan meer as die openings- en slotwoorde opsê: “Die kind is nie dood nie […] reis deur die hele wêreld / Sonder ’n pas”?
Of is Ek het ’n huisie by die see van Fagan tans die bekendste gedig in Afrikaans, omdat Laurinda Hofmeyr met haar toonsetting soveel lewe daarin geblaas het? (Party mense bly glo dis deur Laurika Rauch getoonset. Ek sien dat selfs Brink in sy inleiding tot die 2008-uitgawe van Groot verseboek dié mistasting voortsit. Rauch is eintlik net die bekendste uitvoerder daarvan. Hofmeyr se toonsetterskap word duidelik aangegee op die plaat waarop die lied oorspronklik opgeneem is, naamlik Encore! Laurika.)
Of staan herhaaldelik voorgeskrewe gedigte, veral ’n korte soos D.J. Opperman se Klara Majola, die beste kans om hier die louere weg te dra?
Die groot Afrikaanse aanhalingsboek lyk na die aangewese bron vir raaksêgoed. In die eerste uitgawe (1986) soek jy vergeefs na ’n volledige gedig, maar is daar heelparty aanhalings van versgedeeltes. Die derde, hersiene en uitgebreide uitgawe van 2007 bevat egter sommer baie meer gedigsitate, selfs uit ander tale (maar dan meestal in vertaalde vorm). Daar is selfs hele gedigte van korter bestek te vind. Moet ons Afrikaanses nie, ter wille van ons identiteit, maar begin om minstens soveel brokke vers moontlik uit Die groot Afrikaanse aanhalingsboek van buite te leer nie?
Bowendien, soos die Duits-Joodse digter Heinrich Heine ’n slag opgemerk het: So ’n paar grondig-geleerde sitate is ’n sieraad vir die hele mens.
Miskien moet ’n mens Suid-Afrikaners wat lank in die buiteland vertoef of daarheen geëmigreer het, vra watter Afrikaanse poësie hulle die beste onthou of watter gedig die brandendste verlange ontketen?
Riana Scheepers het eenkeer in Volksblad se “Goeie môre”-rubriek geskryf hoe ’n T-hempinskripsie aan die lyf van ’n jongman in Londen haar oorstelp het: “mits dese wil ek vir jou sê…” Kleur kom nooit alleen nie (2000) van Antjie Krog eindig met ’n gedig waarin dié frase ook (deels) weerklink : “mits deze, // mits deze…” Dis ’n bundel waarin Krog as ’t ware ’n reis onderneem, ook buite die grense van Suid-Afrika, in Afrika in, om haar identiteit te probeer bepaal – om vas te stel “waarheen ek op pad is” en hoe “om te hoort”.
Sowel Scheepers as Krog speel natuurlik toe op die bekende Boerneef-gedig, getoonset deur Pieter de Villiers:
Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê.
Sodoende verklaar hulle hul innige verbondenheid aan die land en die taal.
Dié gedig staan in Groot verseboek, maar hoewel die laaste drie reëls daarvan in die 1987-uitgawe van Die groot Afrikaanse aanhalingsboek pryk, ontbreek dit onverklaarbaar in die jongste.
As dié gedig ons Afrikaanses se gelukbringervers kan word, kan ons tevrede voel. Die liefde baar mos sonder ophou hoop.