Hier is ʼn liriek van die volgende CD af. Die CD gaan oor droë plekke. Ek wou dit “Dorsland” noem, maar die titel is reeds gedeps. Nou probeer ek ʼn ander titel vind. Ek dink nie iets soos “Confetti vir die dood se bruid” sal werk nie. Hopelik is dit nog hierdie jaar beskikbaar.
SANDMYN
Tyd is wind en water
en drome splinters en skerwe
– Jeanne Goosen
Sit jou hoed op, bring jou graaf
as jy die moed het om dit hier te waag.
Dis ʼn stortvloed van woorde wat ons nou moet sif –
sommige vertroos maar die meeste vergif;
steek die oor soos ʼn angel, die brein soos ʼn pen,
maar enkele klanke verlig die klem
van die wurg wat ons vashou, die spoke wat ons jaag –
maar eers moet ons dit die woestyn in waag.
Duine skuif oor die rivierbed se gruis
om die ligging van edelstene uit te wys.
Nou moet ons sif, sorteer, distilleer,
want woestynroos, kristal, selfs diamant verweer.
So slaan in jou penne, verdedig jou kleim,
sif die sinne sorgvuldig voor begrip verdwyn.
Hier myn ons vir klank, vir woord en taal,
want uiteindelik kom die duine om dit terug te haal…