En dan doen die digters dit weer! Die Universiteit van Johannesburg het pas bekendgemaak dat hul R20,000-prys vir ‘n beste debuutwerk vanjaar aan Loftus Marais toegeken is vir sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters. Luidens die verslag word die prys aan Loftus toegeken weens sy gedigte wat “dikwels ‘n ligte, speelse toon en getuig van ‘n belesenheid en taalvaardigheid wat groot belofte inhou.” Daar word ook melding gemaak van die feit dat dit reeds die derde keer is wat die debuutprys aan ‘n digbundel toegeken word. (Gaan lees die volledige berig hier.)
Veels geluk, Loftus! Dit is inderdaad ‘n skitterende prestasie. Mag die vensters altyd ‘n vriendelike bondgenoot wees vir jou …
Vervolgens, buitelandse nuus. Dit wil voorkom asof daar nog ‘n regmerkie agter President Obama se naam geplaas moet word; nie net is hy kort na sy verkiesing by ‘n paar geleenthede gesien met Derek Walcott se stewige versamelde gedigte onder sy arm nie, maar hy en sy vrou, Michelle, het verlede Dinsdagaand ‘n uiters suksesvolle Poetry Jam in die Wit Huis aangebied. Die program, wat voorlesings deur verskeie digters – bekend sowel as onbekend – bevat het, het volgens The New York Times se beriggewer groot byval gevind. Blykbaar was Barack Obama as student ‘n toegewyde en entoesiastiese digter, boonop.
In sy verwelkoming by hul Poetry Jam het President Obama die volgende te sê gehad: “We’re here tonight not just to enjoy the works of these artists, but also to highlight the importance of the arts in our life and in our nation … in our nation’s history. We’re here to celebrate the power of words and music to help us appreciate beauty, but also to understand pain; to inspire us to action, and to spur us on when we start to lose hope; to lift us up out of our daily existence – even if it’s just for a few moments – and return us with hearts that are a little bit bigger and fuller than they were before.” Amen. Die volledige berig is te lese by The New York Times. Die Wit Huis se amptelike persverklaring is hier te vinde.
Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad!
LE