Agge nee, en daar word die Britte se maand van glorie toe ‘n maand van skande! Vroeër vandeesmaand het die ganse poësiewêreld hande geklap toe Carol Ann Duffy as eerste vrou poet laureate aangestel is (Nuuswekker, 1 Mei), en enkele weke later Ruth Padel as eerste vrou in die gesogte pos van Oxford Professor of poetry (Nuuswekker, 18 Mei). Hierdie is die mees invloedryke poste in die Britse poësie-hierargie. Maar gister moes Padel onder groot druk haar pos bedank aangesien dit nou blyk dat sy inderdaad wél betrokke was by die smeerveldtog teen Derek Walcott wat een van die vroeë gunstelinge was vir die betrokke pos. Hy het sy nominasie egter teruggetrek nadat inligting betreffende beweerde seksuele teistering van studente deur ‘n onbekende bron na die media gelek is. “I had absolutely no wish to see him (Walcott) humiliated, and I’m very, very sorry he pulled out,” het sy glo gesê nadat dit bekend geword het dat sy aan twee joernaliste die inligting aangaande die insidente, wat glo in 1984 en 1996 plaasgevind het, verskaf het. Volgens BBC News se berig het Padel haar betrokkendheid by die smeerveldtog probeer regverdig deur te sê dat sy gewoon relevante inligting aan twee verslaggewers verskaf het wat op hoogte wou bly van die verkiesingsveldtog en die betrokke kandidate. Sy het deurentyd in goeder trou opgetree, het sy glo beweer. (Lees ook The Guardian se minder entoesiastiese berig.) Uiteraard sal daar nou weer ‘n verkiesing gehou moet word ten einde die vakature te vul.
Nou ja, soveel dae, soveel dinge. Of wat praat ek alles?
‘n Lekker dag vir almal.
LE