Andries Bezuidenhout. Trompsburg en die lomp fles sjampanje

Die naaste Karoo aan Johannesburg vind jy in Trompsburg. Ons het die huis daar aangeskaf as ʼn plek om van die alarms, elektriese heinings en veiligheidswagte af weg te kom. Ek kan nie skryf deur klein stukkies tyd so tussendeur my day job af te lek nie. Ek het tyd daarvoor nodig. Dis deels hoe ek my gewete met die obseniteit van huishoudings in twee provinsies sus. Trompsburg is nogtans vyf-en-‘n-bietjie uur padlangs, so ons kom heeltemal te min daar uit. Ons was darem die afgelope naweek daar en ek kon aan nuwe projekte skaaf.

Trompsburg het natuurlik tot onlangs ʼn baie beroemde inwoner gehad; Karel Schoeman, wat een van my gunsteling skrywers bly. Dis beslis die moeite werd om Afskeid en vertrek weer te gaan lees. Dit sê soveel van waar ons ons nou bevind, met vriende en familie wat die land permanent verlaat. Met die vorige besoek het ek gesien Karel Schoeman se huis is in die mark. Hy het blykbaar Bloemfontein toe getrek.

Schoeman is vreeslik menssku. Ek het hom dus nooit op Trompsburg lastiggeval nie, selfs nie die kere wat ek hom in die winkel raakgeloop het nie. Een jaar het ons egter ʼn fles sjampanje in ʼn kardoes by sy voordeur gaan neersit. Dís nou na ons self ʼn aantal flesse gedrink het, anders sou ons dit nie gedoen het nie. Dit was egter nie Franse sjampanje nie, waarvoor Schoeman ʼn voorliefde het. Ek hoop nie hierdie lomp gebaar is die rede hoekom hy Trompsburg verlaat het nie.

Die gedig hier onder gaan oor ons huis op Trompsburg, maar ek het die huis Rhodes toe verplaas. Ek weet dis ʼn vreemde ding om te doen, maar ek het die eerste weergawe daarvan op Rhodes geskryf toe ons daar deurgery het onder weg van die Suidkus terug Trompsburg toe. ʼn Vorige, meer omslagtige weergawe is op LitNet.

AANKOMS BY BERGHUIS
(1 Januarie 2008, Rhodes, Oos-Kaap)

deurnag gery vroegoggend aangekom laaste ure
oor die naudes se pas uitgemergel die stoere boere
het die kontoere te perd met penne uitgemeet
hou my oë oop al skuil die slaap ʼn skim wat my die nag
in wil sus ritme reënveërs en warm enjinlug
hou die voorruit min of meer deurskynend
kopligte soek die slag die gate ry verby strukture
wat ek nie eien as opstalle of bouvalle nie
reën maak die pad ʼn pappery die wiele gly te naby
aan die afgrond ek kan nie rem nie ek sal verder gly
kneukels op die stuurwiel voete van pedaal na pedaal
lig jou voet! kramp in my kuite deur my rugstring
my skouers my skouers my skouers

maar nou is dit oggend ek is hier ek is veilig
asem die oggendmis in die son ʼn iris ʼn pupil
vlieswolke ʼn ooglid wat agter die berg oopknip
ʼn tonnel lig in die lanings denne en bloekoms
ou bene van bome van ver lande en ek wat nou en dan
wortel kom skiet hier tussen die kranse by die rivier
bokke en skape en koeie wat lui loei tortelduiwe rek
vlerke en tortel onbewus van almal wat nog slaap
met hulle deure en vensters oop dis ʼn ander land
in hierdie land weggesteek tussen die berge oor ʼn pas
kom kruip ek weg kom ruik ek die grond die reën

die sleutel knars die grendel kraak gooi die luike
die vensters oop die oggend kom klits die muf
uit die vertrekke kom kaats silwer op die vloer
te lank was ek weg vee mop skrop dis lekker om tuis
te wees die plataan in die agtertuin die wilde wingerd
langs die kombuis die kruie langs die drein
skud die dekens uit slaan die stof uit die kussings die sofa
by die sonkamer se venster die spinnerakke spookasem
voor die verestoffer se tong my boekrak met ou vriende
wat onder die stof wag ek’s hier vriende ek’s hier!

hiérvan is ek deeglik bewus julle koggel vergeefs –
na ʼn week sien ek die motte wat die matte vreet
die krake wat die mure breek

(Die foto hier bo is deur my vriend Wessel Janse van Rensburg op een van daardie outydse Polaroidkameras geneem. Wessel woon in Londen, maar besoek ons darem nog soms.)

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Trompsburg en die lomp fles sjampanje”

  1. Piet Odendaal :

    IS DIE HUIS SE ADRES DALK MOLENSTRAAT 3? EK HET IN DIE HUIS GROOT GEWORD EN HOOR NOG HOE DIE PLANKVLOERE ONDER MY VOETE KRAAK, DIE UITSIG NA DIE RANTJIE AGTER DIE HUIS, DIE PRAGTIGE PLAFON IN DIE SITKAMER EN SOMMER NOG BAIE.
    Groete.

    Piet Odendaal

  •