Andries Bezuidenhout. Uitdraai en “entanglement”

Ek laai vir Irma by die lughawe af. Sy gaan Armenië toe en lees nou al vir weke boeke oor die Armeense volksmoord van 1915. Op die omslag van een van die boeke is ʼn aanhaling van Adolf Hitler, wat in 1939 iets gesê het soos: “Wie onthou vandag nog die uitwissing van die Armeniërs?”

ʼn Paar jaar gelede was daar ʼn debat oor of apartheid volksmoord (“genocide”) was. Diegene wat gedink het dat dit wél volksmoord was, noem die gedwonge verskuiwings van tweemiljoen mense en die toename in kindersterftes daarná om hul argument te staaf. Diegene wat daarteen argumenteer verwys na die feit dat apartheid Suid-Afrika afhanklik was van swart arbeid en dat daardie ekonomiese afhanklikheidsverhouding dit onmoontlik gemaak het vir koloniale Suid-Afrika om die inheemse bevolking op groot skaal uit te wis (soos byvoorbeeld in Australië).

Ek raak sesuur gisteraand aan die slaap. Agtuur bel ʼn kollega my wakker. Ek sukkel om weer aan die slaap te raak en haal Wilma Stockenström se roman Uitdraai van die rak af. Dis in 1976 gepubliseer. Teen tweeuur vanoggend sit ek die boek neer. Ek droom die res van die nag daaroor.

ʼn Kollega van Irma hier by Wits, Sarah Nuttall, gebruik die woord “entanglement” om Suid-Afrikaanse verhoudings te beskryf. Uitdraai is ʼn onstellende blik op hierdie “entanglements” van die Kaapse platteland en hoe naby mense aan mekaar geleef het. Daardie nabyheid het egter die simboliese afstand wat tussen wit en bruin gehou moes word soveel meer intens en wreed gemaak. Dit laat ʼn mens ook aan Agaat dink.

Soos ek dit verstaan, probeer Sarah Nuttall om sosiale vraagstukke oor “difference” en “sameness” te oorkom met die gebruik van die term “entanglement”. Dit gaan oor daardie kwaliteit van nabyheid en afstand wat koloniale verhoudings – ook in die huishouding, aanvanklik met slawe en later huiswerkers – geskep het. Daar is ʼn verwronge intieme kennis wat Suid-Afrikaners van mekaar het. Ek dink om daardie kwaliteit van die verhoudings te erken, eerder as om vas te val in “difference” (postmoderniste) en “sameness” (kosmopoliete), is miskien om ʼn stap nader te kom aan die ontknoping van die geskiedenis wat ons so treiter.

Maar nou ja, dit maak seker nie juis sin nie. Dis maar my verwarde gedagtes na ʼn nag van gure drome.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •